Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Paniek beter vir verkope as Swart Vrydag

Dis amptelik: Die paniekaankope wat Suid-Afrikaners kort voor die staat van inperking gedoen het, het selfs meer vir kleinhandelaars beteken as Swart Vrydag.

Dís hoe Swart Vrydag in Suid-Afrika lyk. Paniekaankope was darem oor byna twee weke versprei.

Danksy verbruikers se inkopies van kos, toiletpapier en toiletware in Maart het die kleinhandel ook ’n positiewe bydrae tot ekonomiese groei vir die eerste kwartaal gelewer – hoewel baie klein.

Statistieke Suid-Afrika het Woensdag bekend gemaak dat die kleinhandelsverkope in Maart 2,7% hoër as in Maart 2019 was. Dis gemeet in konstante 2015-rand, wat dus die styging in volume eerder as prysstygings weerspieël.

Die grootste styging was die 13,9% waarmee die verkope van toiletware, medisyne en mediese produkte gestyg het. Talle peilings en die resultate van kleinhandelaars het reeds gewys hoe die verkope van onder meer toiletpapier, skoonmaakmiddels, vitamiene, aspirien en natuurlik maskers en ontsmettingsmiddels kort voor die inperking, wat op 27 Maart begin het, opgeskiet het.

Verkope by algemene handelaars – waar Suid-Afrikaners die meeste van hul kos koop – het ook skerp met 11,6% gestyg.

Daar was egter ’n skerp daling in die verkope van klere en skoene (-14,3%) en van meubels, huishoudelike toestelle en elektronika (-10%).

Wat ekonomiese groei betref, was daar ’n 0,2%-styging in kleinhandelsverkope vir die eerste kwartaal teenoor die vierde kwartaal van 2019.

Kwartaalgroei is die belangrikste maatstaf vir die ekonomie. Suid-Afrika se kwartaalgroei was in die derde (-0,8%) en vierde (-1,4%) kwartaal van 2019 negatief, wat die land in ’n resessie gedompel het.

Die kleinhandelsverkoopsyfers is die eerste kwartaalsyfers wat uitgereik word. Motor- en groothandelsyfers word Donderdag uitgereik, wat die prentjie oor handel sal voltooi. Syfers oor vervaardiging en mynbou, wat later in Junie uitgereik word, sal ook ’n aanduiding gee van wat die stand van die ekonomie in die eerste kwartaal was.

Selfs indien die ekonomie in die eerste kwartaal positief gegroei het teenoor die laaste kwartaal van 2019, sal die tweede kwartaal, toe die inperking op vlak 5, 4 en 3 was, skerp negatiewe groei meebring.

Ekonome se verwagtinge vir die hele 2020 wissel van nagenoeg -6% tot -12%.

Kleinhandelsverkope in Maart volgens sektor, op ’n jaargrondslag gemeet, het as volg gelyk:

  • Algemene handelaars: 11,1%
  • Spesialiswinkels vir kos (soos deli’s en bakkerye) en tabakprodukte: 0,1%
  • Toiletware, kosmetiek, mediese produkte en medisyne: 13,9%
  • Klere, skoene en materiaal: -14,3%
  • Meubels, elektronika en huishoudelike toestelle: -10%
  • Ysterware: -1,1%
  • Alle ander kleinhandelaars (sluit boeke, juweliersware en gebruikte goedere in): -6,7%
  • Totaal: 2,7%
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.