Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Patel beveel: ‘IDC moet 2 keer meer leen’

Die regering het die Industrial Development Corporation (IDC) se teikens vir lenings byna verdubbel in ’n poging om momentum te gee aan pres. Cyril Ramaphosa se plan om ekonomiese groei deur investering aan te wakker.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het die IDC se nuwe teiken van R110 miljard se lenings oor die volgende vyf jaar die afgelope week afgekondig. Die IDC kon net R60 miljard uitleen in die afgelope vyf jaar om nuwe ondernemings te vestig of bestaande nywerhede uit te brei.

Patel het met die bekendmaking van die IDC-jaarresultate gesê hulle moet nou werk maak van Ramaphosa se teiken om R1 400 miljard se nuwe beleggings in die volgende vyf jaar te verwesenlik, al het hy self toegegee dit is ’n stywe opdrag aan die IDC.

Einde verlede jaar het die regering beleggingsbeloftes van sowat R300 miljard vir sy teiken van R1 400 miljard ontvang, maar sedertdien is die groeiverwagting vir die jaar afwaarts tot sowat 0,7% aangepas en min van die beloftes het al gerealiseer.

Die IDC, Afrika se grootste nywerheidsontwikkelingsfinansier, is ’n staatsentiteit wat geen geld of waarborge van die regering ontvang nie. Hy leen geld in die ope mark en moet ’n opbrengs op sy beleggings verdien.

TP Nchocho, uitvoerende hoof van die IDC, het Dinsdag gesê die korporasie het ’n moeilike boekjaar agter die rug. In die 2018-’19-boekjaar is finansiering van R13,1 miljard aan 192 kliënte goedgekeur en R11,8 miljard daarvan is uitbetaal, wat onderskeidelik 22% en 23% laer is as die vorige boekjaar.

Die wins ná belasting was R720 miljoen, wat 14% laer is en wys die moeilike bedryfsomgewing, het Nchocho gesê.

Altesame 76% van die finansiering was vir beginnerondernemings, projekontwikkeling en sake-uitbreidings. Daarteenoor was 19% (R2,5 miljard) om ondernemings te ondersteun wat in die moeilikheid is en sukkel om die IDC terug te betaal.

Volgens Patel sal meer geld uit die private sektor ontsluit word deur die IDC se hulp om die ekonomie aan die gang te kry.

Dié week is koue water ook gegooi op die regering se hoop dat private kapitaalbelegging die nodige vonk gaan verskaf vir ’n ekonomiese opswaai.

Hugo Pienaar, hoofekonoom van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) aan die Universiteit Stellenbosch, het Donderdag op ’n BEO-konferensie in Johannesburg gesê data oor ekonomiese op- en afswaaifases in Suid-Afrika wys duidelik dit word nié aan die gang gesit deur die private sektor se vaste kapitaalvorming (soos die bou van fabrieke en aankoop van toerusting) nie.

“Ons hoor Rama­phosa dikwels praat van beleggingsgedrewe ekonomiese herstel. Histories is dit nie hoe dit in Suid-Afrika gebeur nie en die kanse is skraal dat dit hierdie keer anders sal wees. In ’n opswaaifase volg vaste belegging deur die private sektor eers so ses of sewe kwartale in die opswaaifase in. Dit is eers wanneer verbruikersbesteding toeneem en vraag verhoog, wat private ondernemings belê.”

Suid-Afrika is volgens die Reserwebank in die 69ste maand van ’n afswaaifase – die langste in dekades.

Pienaar het gesê uitvoer was in die verlede telkens die towerstaffie wat ’n ekonomiese opswaai en groei aan die gang gekry het. Met swakker wêreldgroei wat voorsien word, sal groter uitvoer in die huidige omstandighede ook ’n hoë berg vir Suid-Afrika wees om te klim.

Patel meen die vryhandelsooreenkoms van die Afrika-unie (AfCFTA) wat in Julie 2020 in werking tree, kan uitvoergeleenthede skep vir Suid-Afrikaanse ondernemings wat meer goedere kan vervaardig.

Die IDC moet Suid-Afrikaanse ondernemings help om deur belegging hul nywerheidsproduksie uit te brei om dié geleenthede te kan benut.

Montfort Mlachila, senior verteenwoordiger van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) in Suid-Afrika, het gesê ná drie jaar verwys hy nie meer na beter visumregulasies en die beskikbaarstelling van breëband as laaghangende vrugte vir Suid-Afrika om groei ’n hupstoot te gee nie, want hy “is bevrees die vrugte het intussen op die grond geval en gevrot”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.