Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Patel: Werkers moet aandele kry
Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling.

Die regering gaan kyk na maniere hoe werkers aandeelhouers van maatskappye kan word en werkers op ’n maatskappy se direksie verteenwoordig kan word.

Ebrahim Patel, minister van ekonomiese ontwikkeling, het in sy begrotingsrede gesê daar moet na nuwe maniere gekyk word om breër eienaarskap in die ekonomie te bewerkstellig.

“Ons moet ’n eie ekonomiese model kry waar werkers en beleggers saamwerk om te bepaal hoe die ekonomie verbeter kan word, werk en welvaart geskep kan word wat meer billik versprei word.”

Hy het verwys na die baie konsentrasie en skewe eienaarskap wat in die ekonomie bestaan. Hy meen dit beperk ekonomiese groei en voorkom dat nuwe rolspelers tot ’n ekonomie toetree, beperk verbruikers se keuse, asook innovasie.

Boonop veroorsaak die situasie in die ekonomie ’n toenmende wrok onder swart Suid-Afrikaners omdat die visie in die Grondwet nie bereik is nie.

“Ons sal voorstele finaliseer vir die verandering aan die Mededingingswet,” sê Patel.

Sy departement het vroeër die raamwerk vir die wysigings aan die wet aan die kabinet voorgelê.

Die departement gaan ook saam ander departemente werk om die omvang van swart eienaarskap in te ekonomie te bepaal.

Hy sê die Mededingingskommissie gaan in die komende jaar sowat 100 sake ondersoek van kartelgedrag in verskillende sektore insluitende voedsel, infrastruktuur, finansiële dienste en motoronderdele.

Die hulpbronne van die Mededingingsowerhede gaan aangevul word en die departement gaan die geld wat hulle kry uit samesmeltings verhoog.

Hy het die Mededingingskommissie en -tribunaal geloof vir die werk wat hulle doen.

“Ons is besig met markondersoeke wat gaan help om die deksel te lig van praktyke in die private gesondheidsorg, die kruidenierswaresektor, openbare vervoer en die brandstofbedryf.”

Nywerheidsbank

Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) wat onder die departement val, gaan in die huidige boekjaar nuwe beleggings van tussen R15 miljard en R18 miljard kry en sal ’n verdere R30 miljard in die private sektor belê.

“Die NOK is Afrika se grootste nywerheidsbank,” sê Patel. “Dit toon ’n sterk vertoning in moeilike marktoestande.”

Volgens hom het die NOK vars belegging van R47 miljard gefasiliteer. Daarvan is R15,3 miljard sy eie fondse en die res van die private sektor.

Dit is die grootste nog.

Die NOK het ook 77 swart nyweraars goedgekeur wat R4,7 miljard ontvang het. Dit is 60% meer as die vorige jaar.

Die NOK se wins het in die vorige boekjaar met 87% gedaal.

Die verlies is toegeskryf aan die NOK se wesenlike belang in twee maatskappye Scaw Metals en Foskor. Hulle is onderskeidelik ’n staal- en fosfaatprodusent.

Volgens Patel het die NOK nie ’n verlies getoon nie maar ’n kleiner wins gemaak.

“Maar die mandaat van die NOK is om teen die siklusse in die ekonomie in te gaan en groter risiko’s te neem.

“Ons verwag van die NOK om groter risiko’s te neem.”

Name sal kom

Hy het beklemtoon die NOK is ’n deursigtige organisasie en sal van Junie vanjaar af details bekendmaak oor die beleggers aan wie nywerheidsfinansiering verskaf word.

Gedurende die debat oor die departement se begrotingsrede later Donderdagmiddag het Michael Cardo van die DA gesê Patel se departement kan nie sy bestaan regverdig nie.

“Ons glo die departement moet ontbind word en sy funksies moet deur ander oorgeneem word,” het Cardo gesê.

Hy het gesê Zuma wil die NOK en mededingingsowerhede gebruik om radikale ekonomiese transformasie te bewerkstellig.

“Maar ons moet verseker hierdie instellings verryk nie ’n paar kamerade wat polities verbind is nie.”

“Die DA sal mooi kyk of die R23 miljard wat deur die NOK vir swart nyweraars opsygesit is die ekonomie vergroot en werk skep en nie ’n nuwe elite van radikale getransformeerde miljardêrs skep nie.”

Cardo het gesê die DA gaan druk op die NOK uitoefen om te toon wie dié nyweraars is en hoe die geld wat hulle kry aangewend is en wat die opbrengs op die belegging is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.