Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Pateties dat SA ‘desperaat bid’ oor Moody’s – Justice Malala

Ondanks twee waarskuwingskote wat Moody’s Investors Service die afgelope twee dae afgevuur het, reken die Nedbank-ekonoom Busisiwe Radebe die kredietgradeerder sal einde Maart ’n skietstilstand aankondig.

Moody’s het Woensdag en weer Donderdag gesê die begroting weerspieël fiskale agteruitgang.

Sy reken Moody’s sal Suid-Afrika nié afgradeer voor die verkiesing in Mei nie, selfs al het die staat se geldsake volgens alle maatstawwe agteruitgegaan.

Ná die verkiesing sal gradeerders beslis verwag dat die regering tot aksie oorgaan oor die hervormings waaroor pres. Cyril Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies, gepraat het, sê Radebe.

Die politieke ontleder Justice Malala beskryf dit as ’n teken van hoe benard die situasie in die land is dat ons “desperaat bid” dat Moody’s – die laaste kredietgradeerder wat ons nog op beleggingsgraad het – ons nie afgradeer nie.

“Dit het so sleg geword dat ons smeek, ‘asseblief, ons is gawe mense’, eerder om te fokus op ‘ons doen goed hier’.”

Radebe en Malala was Vrydagoggend onder die sprekers op Deloitte se bespreking van die begroting wat Mboweni Woensdag in die parlement ingedien het.

Verskeie syfers in die begroting is slegte nuus vir die land se gradering, sê Radebe. Dit sluit in die verhoging van die land se bestedingsplafon (met altesame R16 miljard oor die volgend drie jaar), die styging van die begrotingstekort in verhouding tot die bruto binnelandse produk (tot 4,5% vanjaar), en die skerp styging in skuld (tot 60,2% in 2024).

Mense (gradeerders) gee nie om vir ’n begrotingstekort as daar ’n groot ramp was nie – soos ’n oorlog of ’n aardbewing, waarna jy die land moet herbou. Ons het nie ’n oorlog gehad nie.
Busisiwe Radebe

Lucie Villa, Moody’s se hoofontleder, het Woensdag en weer Donderdag gesê die begroting weerspieël fiskale agteruitgang.

Radebe sê dit hang regtig af van hoe Moody’s na die begrotingsyfers kyk of die land afgegradeer gaan word of nie.

“Mense (gradeerders) gee nie om vir ’n begrotingstekort as daar ’n groot ramp was nie – soos ’n oorlog of ’n aardbewing, waarna jy die land moet herbou. Ons het nie ’n oorlog gehad nie.”

Radebe sê Moody’s sal in ag neem dat Eskom ’n krisis verteenwoordig en dat die begroting gelewer is binne die konteks van swak ekonomiese groei. Dit beteken druk op die belastingbasis sowel as bykomende besteding aan maatskaplike toelae.

Moody’s kan in die lig hiervan dalk redeneer die agteruitgang van skuldsyfers en so meer was onvermydelik en weerspieël nie net dat die tesourie die handdoek ingegooi het nie.

“Ek dink nie Moody’s sal ons afgradeer nie. Die minister het die beste gedoen met die bietjie wat hy gehad het.”

Radebe reken egter te veel word nog gepraat, met dieselfde dinge wat van jaar tot jaar herhaal word sonder dat enigiets verander.

Sy noem die verlaging van visumregulasies – wat pres. Cyril Ramaphosa reeds in sy 2018-staatsrede genoem het – as voorbeeld.

“Hulle hou aan sê visumregulasies moet verlaag word, hulle het dit verlede jaar gesê, in die staatsrede, nou weer. Maar ek hoor steeds van gesinne wat by die grens weggewys word ... Daar is geen inwerkingstelling nie.”

Malala beskou Ramaphosa se huidige regering net as ’n “plekhouer-administrasie”. ’n Enorme risiko vir sy hervormingsagenda is hoeveel steun hy in die algemene verkiesing kry.

Hy sê daar is baie binnegevegte in die ANC, sowel as twiste tussen die ANC, Cosatu en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty. Ramaphosa en Mboweni wen dalk die gesprek in die openbare domein, maar nie noodwendig die gesprek binne die ANC nie.

Malala verwag teenstand teen Ramaphosa se hervormingsagenda gaan grootliks afhang hoe hulle die verhouding met vakbonde en die SAKP bestuur.

’n Kernrisiko van die hervormingstrajek waarop Ramaphosa begin het, is dat daar ’n ‘ander ANC’ is wat terugbaklei teen hervormingsinisiatiewe.
Justice Malala

Hy waarsku dat mense nie die ANC-faksie wat oudpres. Jacob Zuma ondersteun, moet onderskat nie. Die party is steeds “reg in die middel verdeel”, al is dit ’n jaar sedert Zuma uitgetree het.

“’n Kernrisiko van die hervormingstrajek waarop Ramaphosa begin het, is dat daar ’n ‘ander ANC’ is wat terugbaklei teen hervormingsinisiatiewe.”

Malala waarsku ook dat vakbonde gaan terugbaklei teen stappe wat in die begroting aangekondig is, veral wat die herstrukturering van Eskom betref.

Melanie Milleskie, belastingkenner van Deloitte, sê dis interessant dat net een van die ses pilare waarop Mboweni sy begroting gebou het, fokus op belasting – en spesifiek op die verbetering van belastinginvordering. Die ander vyf pilare fokus op die stimulering van ekonomiese groei.

Milleskie beskryf dit as ’n “noemenswaardige” besluit dat inkomstebelasting nie vanjaar regstreeks verhoog is nie.

Belastingbetalers moet voel dat belasting billik en nie buitensporig is nie, anders bou weerstand teen die betaling daarvan op.

Milleskie loof die klem op die strewe om die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) weer tot sy “voormalige glorie as ’n belastingdiens van wêreldgehalte” te herstel deur die fokus op korporatiewe beheer. Dis ook goeie nuus dat klem gelê word op die verbetering van die SAID se inligtingstegnologiestelsels.

Die spoed en doeltreffendheid waardeur die belastinginvordering verbeter word, gaan deurslaggewend wees, sê Milleskie. Die bewys of dit gedoen word, sal spreek uit invorderingsyfers self.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.