Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Peilings lok net geharde en ryk rokers – regering

Die opskrifte op Netwerk24 was gewild: Rokers rook nou méér; Nou deel méér mense hul sigarette en 90% van rokers kry hul doepa – ná hiperinflasie.

covid-19
Meer mense het dalk opgehou rook weens die verbod op sigaretverkope as wat aanlyn peilings beweer.

Maar peilings wat op sosiale media gedoen word, is nie verteenwoordigend van alle rokers (of oudrokers) in Suid-Afrika nie en kan daarom nie gebruik word om te bewys dat die meerderheid rokers tydens die verbod op sigaretverkope hul sigarette in die sluikhandel bekom nie.

Navorsing wat wél verteenwoordigend is – soos ’n studie wat in Mei deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) gepubliseer is – bewys presies die teenoorgestelde.

In betooghoofde wat Vrydag ingedien is, haal die regering kenners van onder meer Statistieke Suid-Afrika aan wat aanlyn peilings se geldigheid bevraagteken. Dis juis van dié peilings wat British American Tobacco South Africa (Batsa) en ander applikante gebruik om te eis dat die verbod op sigaretverkope opgehef word.

LEES OOK: Rook-saak: ‘38,5% van rokers met Covid-19 sterf’

Een daarvan is die peiling wat die Universiteit van Kaapstad se navorsingseenheid oor die ekonomie van aksynspligtige produkte (Reep) gedoen het en waarin bevind is dat 90% van rokers steeds sigarette koop. ’n Opvolgpeiling het dit tot 93% verhoog.

Die probleem met die peiling is dat dit spesifiek op rokers gemik was en dat mense self moes klik om te antwoord. Dit het waarskynlik geharde rokers wat opstandig was jeens die verbod gelok om te antwoord en mense uitgesny wat nie onwettige sigarette gekoop het nie en opgehou rook het.

Goeie nuus?
Nagenoeg 8 miljoen Suid-Afrikaners van 15 jaar en ouer – oftewel 20% van die bevolking – rook. As 16% opgehou rook het, verteenwoordig dit 1,28 miljoen mense wat nie meer rook nie. Dit kan op lang termyn goeie nuus vir Suid-Afrikaners se gesondheidsprofiel wees.

Die peiling is net in Afrikaans en Engels gedoen, en dit lyk asof die meeste respondente gegoede stedelike Suid-Afrikaners was.

Daarteenoor het die RGN-studie, wat in April gedoen is, bevind 88% van rokers nié tydens die inperking sigarette gekoop kon kry nie. Dié peiling is in vyf landstale gedoen (ook in Pedi, Zoeloe en Xhosa) en is aangepas om die nasionale bevolking se samestelling te weerspieël.

Die RGN-studie het ook bevind mense wat tydens die inperking sigarette gekoop het, het baie nouer kontak (gedefinieer as handskud, druk of soen) met mense buite hul eie huis gehad as mense wat nié sigarette gekoop het nie – 26,2% teenoor 9,8%. Dit is juis een van die regering se argumente vir die rookverbod dat rokers nie sosiale distansiëring handhaaf nie.

Die peiling wat die tegnologiefirma M4Jam gedoen het, en waaroor Netwerk24 ook berig het as Helfte van rokers hou eerder op as hoes en betaal, loop minder fel deur onder die statistici wat die regering as kenners ingeroep het. In dié peiling is bevind dat 49% van rokers tydens die inperking opgehou rook het en 52% het nie sigarette op die swartmark probeer koop nie.

Ontleders wys daarop dat dié peiling só saamgestel is dat dit baie meer verteenwoordigend van die samelewing is en nie net welaf rokers betrek het nie.

In die Reep-studie is bevind dat net 16% tydens die inperking opgehou rook het. Dit is in die opvolgpeiling tot 11% verlaag.

Die regering sê selfs al is die Reep-peiling onbetroubaar, bevat dit tog goeie nuus.

Nagenoeg 8 miljoen Suid-Afrikaners van 15 jaar en ouer – oftewel 20% van die bevolking – rook. As 16% opgehou rook het, verteenwoordig dit 1,28 miljoen mense wat nie meer rook nie. Dit kan op lang termyn goeie nuus vir Suid-Afrikaners se gesondheidsprofiel wees.

Wat van die swartmark?

Een van die Reep-bevindings waarop Batsa swaar steun in sy hofaansoek, is dat die swartmark floreer. Dit is tot nadeel van die staat, wat miljarde se belastinginkomste verloor, en van wettige produsente wat nié sigarette onder die tafel verkoop nie.

Die regering ontken nie dat die sluikhandel in sigarette gegroei het nie, maar sê daar is geen bewyse dat dit so sal bly wanneer die tabakverbod eindelik opgehef word nie.

Die regering verwys na die M4Jam-peiling, waarin 64% van die respondente sê hulle sal terugkeer na hul gunsteling-handelsnaam wanneer dit weer gewettig word. “Hoewel dit redelik is om te aanvaar dat die onwettige mark veld gewen het aangesien ’n groter aantal mense aan dié produkte blootgestel is, en verspreidingskanale dalk geskep of versterk is, is dit ook waarskynlik dat ’n beduidende persentasie van die mark sal terugskuif na die wettige koop van sigarette wanneer die verbod opgehef word.”

Die regering betwis heelwat van die syfers oor werkverliese wat die applikante aanhaal.

Hy sê selfs die verlies aan aksyns, wat op R2,2 miljard geraam word, is oordrewe. Baie van die sigarette wat verkoop word, word onwettig verkoop, maar aksyns word met produksie betaal en baie daarvan is voorraad wat vóór die verbod op verkope vervaardig is – die staat het dus van daardie aksyns reeds verdien.

Batsa het byvoorbeeld aangevoer dat die tabakbedryf se hele waardeketting 725 100 poste ondersteun, maar het dit later tot 296 000 poste verminder.

Die alliansie van informele handelaars (South African Informal Traders Alliance, Safta) voer aan dat informele handelaars tot 25% van hul inkomste verdien uit sigaretverkope en dat meer as 50% van sy lede weens die verbod sal moet toemaak – ’n som wat vir die regering nie sin maak nie.

Daarby is daar ook heelparty informele handelaars wat nog altyd onwettige sigarette verkoop het of nou begin het om dit te verkoop – en hulle het in die inperking juis méér kliënte gelok, volgens alle peilings oor waar mense onwettig sigarette bekom.

Voor die verbod was nagenoeg 41% van die tabakverkope in die informele sektor; dit het tot 88% opgeskiet. “As dit die geval is, is dit onwaarskynlik dat die inkomste van informele handelaars, wat bereid is om onwettige sigarette te verkoop, met 25% geval het.”

Meer oor:  Fita  |  Bat  |  Batsa  |  Covid-19  |  Tabakbedryf  |  Sigarette  |  Tabak  |  Staat Van Inperking  |  Sigaretverkope  |  Koronavirus  |  Tabakverbod  |  Sigaretverbod  |  Sigaret-Verbod  |  Vlak 4  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.