Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Petrol teen R17 net die begin van die pyn
Die verhouding tussen inflasie, die rentekoers en die rand-dollar-wisselkoers.

Petrol teen R17 ’n liter gaan nie net jou sak ruk vanaf Oktober nie, maar die stygende oliepryse plaas ekstra druk op die Reserwebank om rentekoerse te verhoog.

Die Sentrale Energiefonds se berekenings van onderverhalings in September het die afgelope week nog gedui op ’n verhoging van R1,05 vir 93-oktaan-petrol en sowat R1,28 vir diesel in die eerste week van Oktober.

Dít terwyl die brandstofprys reeds met meer as R2,30 per liter gestyg het sedert die eerste kwartaal van die jaar, sê Annabel Bishop, ’n ekonoom van Investec.

Stygende oliepryse en die verswakkende rand gaan Suid-Afrikaners se sak aanhou ruk.

Intussen is dit ook onseker of en wanneer die regering die eenmalige ingryping in September om te keer dat die brandstofprys met meer as 5c per liter styg, gaan verhaal. Indien wel, kan dit ’n bykomende verhoging van tot 20c behels.

Die swakker rand en hoër olieprys het reeds die Reserwebank genoop om sy inflasievooruitsig vir 2019 opwaarts tot 5,7% aan te pas, teenoor Junie se vooruitsig van 5,6%.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Donderdag met die rentekoersaankondiging in Pretoria gesê die hoër inflasie-trajek is weens die swakker wisselkoers en duurder olie wat brandstofprysinflasie opjaag.

Sedert die monetêre beleidskomitee (MBK) se Julie-vergadering het die rand met 7,3% teenoor die dollar verswak. Vroeg in September het Brent-ruolie $80 per vat gekos, waar dit in 2016 nog $27 was.

Vrydag was die prys $79,36 per vat en die rand het teen R14,30 verhandel.

Die 2019-inflasievooruitsig is ook bo die middelpunt van die teikenband van 3% tot 6% wat die Reserwebank stel. Kganyago het gesê die middelpunt is baie belangrik vir die MBK omdat meer ontleders en prysvasstellers in die ekonomie oor tyd aangeneem het 6% word as teiken gestel en dit is nié die geval nie.

Sanisha Packirisamy, ’n ekonoom by Momentum Investments, sê ’n styging in die olieprys weens geopolitieke faktore soos die huidige spanning tussen Amerika en Iran is ’n wesenlike bron van kommer.

Momentum Investments raam die prys van Brent-ruolie volgende jaar op gemiddeld $73 per vat en teen 2020 op $75 per vat, met wisselvalligheid.

Amerika het opnuut sanksies teen Iran ingestel nadat pres. Donald Trump aan die kernooreenkoms onttrek het omdat hy meen Iran is nog te aktief in die Midde-Ooste en kon nie genoegsaam vrese besweer dat hy nie sy kernfasiliteite gebruik vir kernwapens nie.

Packirisamy sê Iran, wat die belangrike Seestraat van Hormoes beheer, kan as ’n teenreaksie keer dat olietenkskepe deur die straat beweeg met ’n negatiewe uitwerking op die wêreld se beskikbare olievoorraad en dus -pryse.

Hoewel dit Amerika nie so seer sal tref nie, kan dit baie nadelig wees vir China en ook Suid-Afrika, vir wie Iran die vierde grootste verskaffer van olie is, sê sy.

Bloomberg berig die prys van Brent het die laaste paar maande gestyg oor laer voorraad soos aankopers olie uit Iran begin vermy het. Besendings uit Iran was ook onlangs op die laagste vlak in meer as twee jaar voor die herinstelling van Amerikaanse sanksies wat op 4 November in werking tree.

Die Reserwebank het Donderdag die repokoers onveranderd gelaat op 6,5%.

Meer oor:  Rentekoers  |  Ruolie  |  Olieprys  |  Inflasie  |  Olie  |  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofpryse  |  Inflasiekoers  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.