Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Phuket reg vir toeriste, al is Delta-variant ook dáár

Thailand stoom voort met planne om sy toerismebedryf weer aan die gang te kry en gaan toeriste uit spesifieke lande wat reeds ingeënt is van Donderdag af verwelkom.

In 2020 het sowat 6,7 miljoen reisigers Thailand besoek. Die meeste daarvan was in die eerste drie maande van die jaar voordat die pandemie die wêreld se toerismebedryf op sy knieë gedwing het. Foto: Unsplash

Suid-Afrikaners sal egter nog moet wag voordat hulle na die eiland kan reis.

Slegs toeriste uit lande soos die VSA en Spanje, wat volgens die Thaise regering ’n lae tot medium-risiko vir Covid-19-infeksies inhou, mag daarheen reis. Dié toeriste hoef boonop nie in kwarantyn te gaan nadat hulle in Thailand aankom nie, maar kan dadelik hul handdoeke onder die palmbome oopgooi en die sonskyn geniet.

Volgens Bloomberg het Thailand besluit om deur te druk om Phuket op 1 Julie vir buitelandse toeriste oop te stel, ten spyte daarvan dat die Delta-variant van die koronavirus reeds in dié streek voorkom.

In die week tot 30 Junie is 30 608 nuwe infeksies in Thailand aangemeld en ’n rekordgetalsterftes van 57 is aangemeld.

In dieselfde tydperk is egter slegs 17 nuwe infeksies in Phuket aangemeld. Die Thaise regering het voorheen besluit om met sy inentingsprogram veral te fokus op Phuket en ongeveer 70% van die eilandbewoners is dus reeds ingeënt. Alle gesondheidswerkers wat daar woon, is ook reeds ingeënt.

Dit is egter nie die geval in die res van die land nie, waar die persentasie veel laer is.

Baie is op die spel vir Thailand, wat voor die pandemie staatgemaak het daarop dat toerisme 20% tot sy bruto binnelandse produk (BBP) sou bydra. Dié persentasie is amper die helfte meer as die gemiddelde bydrae van ander lande se toerismebedryf tot hul BBP.

Thailand se toerismebedryf dra ook by tot meer as 90% van die werkskepping.

Die regering beskou die stap dus as ’n eksperiment wat, as dit werk, daartoe sal lei dat meer Thaise toerismebestemmings teen Oktober oopgestel sal word.

Prajoet Tsjan-Otsja, die land se eerste minister, meen Phuket is op ’n “nasionale sending” om die pad vorentoe vir die land se toerisme oop te maak. “Ons mag nie misluk nie. Die hele land hou dit met valkoë dop.”

Hy erken daar is wel risiko’s daaraan verbonde wat die pandemie betref, maar meen die ekonomie en die sakeondernemings moet ten spyte daarvan vorentoe beweeg.

Streng regulasies vir toeriste

Maar daar is egter nie groot verwagting dat toeriste na Phuket gaan stroom nie. Na raming sal slegs 100 000 buitelandse toeriste die streek in die derde kwartaal van 2021 besoek.

Vluginligting van ses lugdienste wys dat 426 vlugte met 8 281 passasiers in Julie op Phuket gaan aankom.

Dit is baie minder as die 2,5 miljoen toeriste wat die eiland voor die pandemie kwartaalliks besoek het.

Alle vakansiegangers wat in Phuket aankom, moet voldoen aan heelparty vereistes, soos om ’n permit te kry, te bewys dat hulle ingeënt is en minder as 72 uur voor hul vertrek na die eiland negatief vir die koronavirus te toets.

Reisversekering moet uitgeneem word wat dekking van minstens $100 000 vir Covid-19-verwante uitgawes bied.

Besoekers moet met hul aankoms weer ’n toets ondergaan en weer ses of sewe dae ná hul aankoms getoets word. Die derde toets sal ná 12 of 13 dae wees, indien reisigers so lank sou bly.

Baie reisigers uit China, Hongkong en Singapoer sal moontlik ook afgesit word om na Phuket te reis omdat hulle eers weer in kwarantyn sal moet gaan sodra hulle na hul eie land terugkeer.

Van die hoteleienaars in Phuket het reeds teen die streng maatreëls beswaar gemaak. Hulle meen dit maak ander lande met minder strenger regulasies aantrekliker vir toeriste.

Die gewilde strande en restaurante is weens die pandemie dolleeg en die hotelkamers vergaar stof.

Die Thaise regering verwag dat 2021 sowat 500 000 reisigers sal bring. Dit is ’n fraksie van die 40 miljoen wat in 2019 daarheen gereis het.

Soos meer lande egter begin om hul reisregulasies te verslap, hoop Thailand om in 2022 minstens 20 miljoen vakansiegangers te verwelkom. ’n Volle herstel van die land se toerisme word eers teen 2026 verwag.

Die toerismebedryf wil ook verder as China, sy grootste mark vir toeriste voor Covid-19, kyk. Israel en Katar is van die lande wat die bedryf wil bereik. Bloomberg

Meer oor:  Phuket  |  Thailand  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Vlak 1  |  Toerismebedryf  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.