Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Plaaslike toeriste is bedryf se grootste hoop

Plaaslike toeriste bly steeds die grootste bron van hoop op inkomste vir die Suid-Afrikaanse toerismebedryf.

toerisme
Suid-Afrika se toerismebedryf se waarde word op R8,5 miljard geskat. Foto: Pixabay

Toerisme Suid-Afrika, wat die land as ’n toerismebestemming bemark, het einde Maart ’n verslag uitgereik oor die herstelpad wat die toerismebedryf heel moontlik gaan stap gegewe dat die Covid-19-pandemie steeds toerisme wêreldwyd lamlê.

Vorige voorspellings dat die bedryf teen die derde kwartaal vanjaar sou begin herstel, gaan nie realiseer nie, bevind die verslag. Dié voorspelling is verlede jaar gemaak voordat nuwe variante van die virus wat Covid-19 veroorsaak ’n tweede en derde vlaag infeksies laat ontstaan het. Die sogenaamde Suid-Afrikaanse variant, 501Y.V2, het veral veroorsaak dat baie streng reisbeperkings na en van Suid-Afrika ingestel is.

Hoop op plaaslike toeriste en dagreise

Volgens Toerisme SA se verslag is daar steeds 70% minder toeriste uit die buiteland as in 2019. Vir die tydperk van Augustus tot Desember 2020 het internasionale besoekersgetalle met tussen 80% en 100% afgeneem vergeleke met dieselfde tydperk in 2020, terwyl plaaslike getalle oor dieselfde tydperk net tussen 10% en 60% gedaal het.

toerisme

Kort nadat landsburgers in Augustus weer toegelaat is om plaaslik vakansie te hou, het baie Suid-Afrikaners by familie en vriende gaan kuier en oorgeslaap. Suid-Afrikaners het ook ná Augustus begin om toenemend meer oornagverblyf te bespreek.

Teen Desember was verblyfbesprekings nietemin 60% minder as die vorige Desember omdat die tweede vlaag infeksies Suid-Afrika getref het.

Mense wat dagreise aanpak, bly steeds min. Sommige maande is tot die helfte minder dagreise aangepak as in ooreenstemmende maande van 2019.

Dis juis dagreise wat volgens die verslag ’n baie sterk bydrae kan lewer tot die plaaslike toerismebedryf en waar daar potensiaal is om dit onder Suid-Afrikaners te bemark.

Daar is ook duidelike tekens dat plaaslike reisigers verkies om eerder op paaie te ry as wat hulle in ’n vliegtuig wil klim.

Padverkeer van ligte voertuie was vanaf September slegs tussen 10% tot 20% laer teenoor 2019. Hoewel plaaslike vlugte met tot 60% afgeneem het, is dubbeld soveel plaaslike vlugte onderneem as streeks- en internasionale vlugte.

jacques Nel
Jacques Nel, eienaar van Tourism Marketing SA. Foto: Verskaf

Volgens Jacques Nel, eienaar van Tourism Marketing SA, ’n bemarkingsonderneming wat bemarking vir gastehuise, bed-en-ontbyt-plekke en lodges behartig, is daar beslis ’n oplewing vanaf die begin van die jaar vir veral verblyfbesprekings.

“Ons ervaar dat veral plekke wat verblyf buite stede en groot dorpe aanbied, goed vaar. Mense is weer lus om weg te breek.

“Terwyl dit uitdagend gaan bly vir Suid-Afrikaners om oor grense te toer, glo ek ons plaaslike toerismebedryf gaan toenemend meer aftrek kry.”

Hy stem saam dat die uitkyk op plaaslike toerisme positief is. “Solank die land op vlak 1 van die Covid-19-inperking bly, verwag ek dat toerisme goed sal herstel,” het hy aan Netwerk24 gesê.

Vooruitsigte vir buitelandse besoekers

Hoewel daar nie streng reismaatreëls tussen Afrika-lande geld nie, is daar steeds minder mense wat tussen die lande reis.

Die hoeveelheid reisigers uit die res van Afrika is omtrent tien keer meer as besoekers uit ander lande, hoewel tussen 62% en 94% laer in 2020 as in 2019.

Die meeste besoekers was uit die buurlande Zimbabwe, Lesotho en Mosambiek.

Hoewel lande soos Indië, Japan, Australië en China se infeksiekoerse nie so hoog is nie, vaar hulle nie te waffers met inentings nie en gaan reisbeperkings op besoekers vanuit Suid-Afrika waarskynlik ’n aansienlike tydperk geld.

Die verslag bied ook nie baie hoop dat reisigers binnekort vanuit Europa na Suid-Afrika sal reis nie. Europese lande verwag ’n derde vlaag en reisbeperkings word steeds baie streng toegepas.

Brittanje se inentingsveldtogte vaar goed, maar die land het onlangs bekend gemaak streng internasionale reisbeperkings kan moontlik tot in die Europese somer (dus Junie of later) gehandhaaf word.

The Guardian berig Ben Wallace, die Britse minister van verdediging, het juis dié week daarop gesinspeel dat die land nie kan bekostig om roekeloos te wees nie en daarom steeds oorweeg om internasionale reisbeperkinge streng te beheer, al is goeie vordering met sy inentingsveldtog gemaak.

Daar word wel verwag dat Amerikaners teen September kudde-immuniteit gaan bereik, wat reis na ander lande soos Suid-Afrika kan vergemaklik, maar besoekers vanaf Kanada en Brasilië moenie te gou verwag word nie.

Meer oor:  Toerisme Sa  |  Tourism Marketing Sa  |  Jacques Nel  |  Inperking  |  Toerisme  |  Reismaatreëls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.