Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Plan met water? Nóg ’n staatsinstelling

Rolspelers is bekommerd oor die regering se nuwe watermeesterplan, wat onder meer nóg ’n staatsinstelling voorstel om watergebruik te reguleer.

Minister Lindiwe Sisulu

Lindiwe Sisulu, minister van behuising, water en sanitasie, het die afgelope week die lank verwagte watermeesterplan bekend gemaak wat as ’n bloudruk sal dien vir die vraag na en aanbod van water, instandhouding van bestaande infrastruktuur, die bou van nuwe damme, watersuiwering en die herverdeling van waterregte.

Sisulu het ook aangekondig dat die regering so gou soos in 2020 ’n nasionale owerheid vir die regulering van waterhulpbronne (NWA) in die lewe sal roep.

Dié owerheid sal verantwoordelik wees om alle water- en sanitasieverwante infrastruktuur te finansier, te bedryf en te beheer.

Bo en behalwe die nuwe NWA sal daar ook ’n waterdienstereguleerder (NWR) in die lewe geroep word wat op sy beurt sal toesien dat daar aan die regulasies en wetlike vereistes van waterwetgewing voldoen word.

Janse Rabie, hoof van natuurlike hulpbronne by Agri SA, het aan Rapport gesê die meesterplan is uiters vaag oor wat presies die doelstellings en onderskeie funksies van die nuwe liggame sal wees.

Leon Basson, DA-woordvoerder oor water en sanitasie, het op sy beurt gesê die stigting van die owerheid en reguleerder kom daarop neer dat Sisulu die werk waarvoor haar departement verantwoordelik is, uitkontrakteer.

Die minister moet liewer toesien dat ’n regrukplan by haar departement om die beroerde geldsake reg te stel tot uitvoering gebring word en waterrade help stabiliseer.

“Dit gaan nie help om ’n nuwe staatsinstelling te stig om kapitaalprojekte te bestuur nie. Wat ons nou nodig het, is aanspreeklikheid, deursigtigheid en politieke wil.”

Rabie sê Sisulu moet wel daarvoor geloof word dat sy die waterkrisis in die land goed geformuleer het en dat sy klem gelê het op die noodsaaklikheid van kundige mense om waterhulpbronne te bestuur.

Wat die bestuursaspek van die plan betref, stippel dit onder meer uit:

  • Munisipale verordeninge om watergehalte te beskerm moet ingestel word, asook administratiewe boetes vir oortreders.
  • Hulp en ondersteuning moet verskaf word aan waterrade om grootmaat-water te reguleer en te beheer.
  • Daar moet deur middel van ondersteuningsprogramme ingryping wees by munisipaliteite wat misluk in hul watervoorsiening- en suiweringsfunksies.
  • ’n Langtermyn-regrukplan moet ontwikkel en uitgevoer word in samewerking met ander staatsdepartemente soos samewerkende regering en die nasionale tesourie en dit moet op ’n jaarlikse grondslag hersien en aangepas word.
  • Daar moet teen 2022 ’n spesiale plan wees vir onbeplande gebeurtenisse soos vloede en droogtes.
  • Akkurate fakturering- en geldinsamelingstelsels moet ontwikkel word met ’n streng beleid van “geen betaling; geen water”.

Die plan lê klem op die “transformasie van watertoewysing” wat ’n nuwe proses voorstel om waterregte aan meer swart aansoekers toe te ken.

Sisulu het vroeër in ’n onderhoud met Rapport gesê dit is kommerwekkend dat 95% van die water wat vir landbou beskikbaar is in die besit van wit gebruikers is en dat die historiese ongelykheid reggestel moet word.

Rabie sê egter die meesterplan gee steeds nie uitsluitsel oor die stand van bestaande waterregte nie en dit brei ook nie uit oor die proses van bewyslewering en validering nie. “ ’n Mens moet tog weet wie besit wat, wie betaal daarvoor, waarvoor word dit gebruik en hoeveel gebruik word. Dié vraag kon nie beantwoord word nie,” sê Rabie.

’n Positiewe ontwikkeling is die totstandbringing van agentskappe wat die opvanggebiede sal reguleer, sê Rabie.

Sisulu het aangekondig dat die agentskappe verantwoordelik sal wees vir die instandhouding van bestaande waterbronne, veral in die lig van klimaatsverandering wat dikwels langdurige droogtes tot gevolg het.

Rabie meen ook dit is positief dat die regering nie die hele spul wil verongeluk met ’n ganse nuwe waterwet nie, maar eerder wysigings aan bestaande wetgewing soos die Nasionale Waterwet, die Waterdienstewet en die Waternavorsingswet wil aanbring.

In die meesterplan het Sisulu gesê ’n openbare deelnameproses oor die beoogde veranderinge sal reeds volgende jaar plaasvind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.