Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Plan vir infrastruktuur dalk gou bekend

Suid-Afrika wil hê ontwikkelingsbanke, handelsbanke en pensioenfondse moet in sy infrastruktuurfonds van nagenoeg R350 miljard belê.

’n Uitsig op die Kaapse hawe se houerkaai. Foto: Transnet

Die program sal op “netwerknywerhede soos spoorweë en hawens, energie, breëbandkonnektiwiteit, water, sanitasie en menslike nedersettings” fokus, het Paul Mashatile, sekretaris-generaal van die ANC, Woensdag in ’n toespraak aan Londen se Chatham House gesê.

Die regering sal projekte Donderdag en Vrydag aan potensiële finansierders voorstel en ’n simposium sal op 23 Junie gehou word om die program te bespreek, sê die presidensie.

“Ons het nou ’n projekplan geskep,” sê Kgosiento Ramokgopa, hoof van beleggings en die infrastruktuurkantoor in die presidensie.

“Ons gaan nie geld uit die fiskus vra nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa het reeds byna twee jaar gelede na die beoogde infrastruktuurfonds verwys as ’n voertuig om ekonomiese groei te stimuleer.

Volgens Ramokgopa het die kabinet die projekte wat oorweeg word Woensdag bespreek. Mashatile sê hy verwag aankondigings oor die infrastruktuurprojekte binne ’n week.

Intussen het die regering ’n hulppakket ter waarde van R500 miljoen aangekondig om die ekonomie weens die Covid-19-verwante inperking te ondersteun. Baie min van dié geld is nuwe geld – dis grootliks uitstel op belastingverpligtinge, lenings en die hertoewysing van geld uit die bestaande begroting.

Mashatile sê die land sal eksterne finansiering moet inspan om ekonomiese groei aan te help. Die land gaan tot $100 miljard (meer as R1 700 miljard) nodig hê, volgens hom.

“Sowat 1,8 miljoen poste sal in dié tyd verlore gaan, hoofsaaklik onder jong mense. Dis waarom ons sal moet druk vir enorme infrastruktuurbesteding in arbeidsintensiewe sektore.”

Pessimistiese voorspellings is dat die ekonomie in die tweede kwartaal met tot 22% gaan krimp en vir die volle 2020 met tussen 6% en 12%.

Die regering is reeds in gesprek met onder meer die Internasionale Monetêre Fonds, Wêreldbank, Nuwe Ontwikkelingsbank en Afrika-ontwikkelingsbank om $27 miljard (byna R470 miljard) te leen vir die onmiddellike reaksie op die pandemie, sê Mashatile.

Dis aansienlik meer as die R100 miljard wat die tesourie gesê het geleen sal moet word vir die Covid-19-hulppakket.

Die tesourie het by navraag nie besonderhede oor die bedrag gegee nie, maar sê “alle finansieringsopsies” word oorweeg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.