Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Planne oor korrupsie, krag in staatsrede is ligpunte - kenners

Die verwagtinge vir vanjaar se staatsrede was so laag dat as die regering net drie goed uit pres. Cyril Ramaphosa se herstelplan gedoen kan kry, sal dit wondere verrig vir die ekonomie.

Só meen Nazmeera Moola, hoof van Suid-Afrikaanse beleggings by die batebestuursbroep Ninety One.

ouers
Die toelaag van R350 wat verleng is, kan hongersnood afweer. Foto: Pixabay

Ramaphosa se verbintenis tot elektrisiteitshervorming is baie belangrik, en die tydskale wat bekend gemaak is, is baie duidelik, het Moola gesê.

Dit is met verwysing na Ramaphosa se belofte dat ’n versoek om voorstelle binne die volgende paar weke uitgereik gaan word vir die bou van 2 600 MW se wind- en sonkrag as deel van die vyfde bodronde vir die regering se groenkragprogram.

Die departement van minerale bronne en energie gaan ook binnekort die voorkeurbieërs aankondig in die tender vir 2 000 MW se noodkrag wat voorheen uitgereik is.

Ramaphosa het verder beloof dat die Wet op Elektrisiteitsregulering binne die volgende drie maande gewysig gaan word sodat meer mense hul eie krag kan opwek sonder dat hulle deur die rompslomp hoef te gaan om vir kragopwekkingslisensies aansoek te doen.

Moola sê die verwagtinge is so laag dat al wat mense net wil sien, is dat iets uit die staatsrede in praktyk omgesit word.

Prof. Anton Eberhard, afgetrede professor in elektrisiteitsregulering by die Universiteit van Kaapstad se nagraadse sakeskool en ’n vorige kommissaris van die Nasionale Beplanningskommissie, het op Twitter gesê alle oë is nou op Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, om die beloftes te laat realiseer wat Ramaphosa oor kraghervorming gemaak het.

Nivesh Govender, bedryfshoof van die Suid-Afrikaanse Fotovoltaïese Bedryfsvereniging, wat sonkragprodusente verteenwoordig, het juis dié week dit verwelkom dat Eskom se hoof, André de Ruyter, ook saamstem dat die drempel vir verpligte lisensiëring van eie kragopwekking van 1 MW tot 50 MW verhoog moet word.

Ramaphosa het in sy staatsrede gesê die verhoging van dié drempel kan tot 5 000 MW se ekstra kragopwekking moontlik maak, wat ook die impak van beurtkrag sal verlig.

Eberhard sê op Twitter die vraag is nou of Mantashe wel die leiding sal neem met die nodige regulatoriese hervorming ter ondersteuning van Ramaphosa, en of hy bloot net die minimum gaan doen. 

Stappe teen korrupsie verwelkom

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomie en sakewetenskappe, was op sy beurt nog meer sinies en meen dit lyk of Ramaphosa sy aptyt verloor het om president te wees.

Prof. Jannie Rossouw, ekonoom verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Volgens Rossouw het Ramaphosa in sy staatsrede niks gesê wat hy nie al die afgelope drie jaar gesê het nie – net dieselfde beloftes van verlede jaar is gemaak.

Die enigste krediet wat Rossouw vir die staatsrede wil gee, is die stappe wat gedoen gaan word om korrupsie verder hok te slaan.

Hy meen die res van die staatsrede was onsamehangend.

Hy meen boonop die hernieude verbintenis tot swart ekonomiese bemagtiging gaan geen verskil maak aan ekonomiese groei nie.

Rossouw erken wel dis ’n goeie ding dat Ramaphosa aangekondig het dat die toelae van R350 aan werkloses wat geen ander staatshulp kry nie, nog ’n paar maande sal voortduur. Dit bereik reeds 4,5 miljoen mense.

Dit sal nie die ekonomie help groei nie, maar sal minstens keer dat miljoene mense dieper in armoede verval en aan hongersnood ly.
Prof. Jannie Rossouw

“Dit sal nie die ekonomie help groei nie, maar sal minstens keer dat miljoene mense dieper in armoede verval en aan hongersnood ly.”

Rossouw meen hy het vooraf lae verwagtinge van vanjaar se staatsrede gehad, maar is desondanks teleurgesteld.

Meer oor:  Cyril Rama­Phosa  |  Ekonomie  |  Staatsrede2021  |  Ekonomiese Groei  |  Krag  |  Groenkrag  |  Staatsrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.