Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Plastieksakke: strenger reëls oor herwinning

Verbruikers kan uitsien na die gebruik van meer omgewingsvriendelike plastieksakke.

Die regering raak strenger oor die gebruik en vervaardiging van plastieksakke. Foto: Unsplash

Van 2023 af moet alle plastieksakke wat vir inkopies by winkels soos Checkers, Pick n Pay of Shoprite gebruik word, uit ’n minimum van 50% herwinde materiaal bestaan, volgens gewysigde regulasies wat Barbara Creecy, minister van omgewing, in die Staatskoerant gepubliseer het.

Die voorskrif vir herwinde materiaal raak dan stelselmatig strenger, want die nuwe regulasies bepaal dat die sakke teen 2025 ’n minimum van 75% uit herwinde plastiek moet bestaan, en teen 2027 uitsluitlik van herwinde plastiek.

Die wysigings word gedoen ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur.

Niemand sal plastieksakke in Suid-Afrika mag vervaardig of enige plastieksakke mag invoer as dit nie aan bogenoemde inhoudstandaarde voldoen nie.

Oortreders sal met ’n maksimum boete van R5 miljoen beboet word of gevangenisstraf van vyf jaar, en vir ’n tweede oortreding styg die maksimum boete tot R10 miljoen of tronkstraf van tien jaar.

Die wysigings is bedoel om die sogenaamde sirkel-ekonomie – wat op hergebruik en herwinning fokus – te bevorder, luidens ’n verklaring van Albi Modise, woordvoerder van die departement. Die herwinbare materiaal waarmee plastieksakke vervaardig moet word, moet kom van afval by huishoudings, asook nywerhede, kantore, winkels en enige ander instellings.

Die voorskrif sal die nodige vraag aandryf om plastiekafval weg van stortingsterreine te kanaliseer, om sodoende die vraag na afvalbestuur te verbeter, sê Modise.

Beton van plastiekafval

Die krisis met plastiek
  • Net 21% van alle plastiekafval in Suid-Afrika word herwin.
  • 1,5 miljoen ton plastiek word jaarliks in Suid-Afrika verbruik.
  • 1,1 miljoen ton plastiek beland op vullishope of besoedel die omgewing.

Oral in die herwinningsbedryf probeer maatskappye beter waarde put uit die sirkel-ekonomie en afvalbestuur. Die Center for Regenerative Design and Collaboration (CRDC), ’n onderneming van Costa Rica wat ’n Suid-Afrikaanse afdeling het, het ’n toekenning van $100 000 (sowat R1,43 miljoen) van ’n beleggingsfonds van die Amerikaanse nywerheidsreus Dow Chemicals ontvang om sy betonbymiddel te ontwikkel wat van plastiekafval gemaak word.

CRDC sê die toekenning sal hom help om sy bedrywighede in Suid-Afrika uit te brei en met massaproduksie van die betonbymiddel genaamd Resin8 te begin.

CRDC sal met konstruksiemaatskappye, swartbeheerde herwinners en afvalbestuursmaatskappye soos Wasteplan kan saamwerk, asook met maatskappye soos Pepsico en Tiger Brands, wat baie plastiek as verpakkingsmateriaal gebruik.

CRDC wil binne vyf jaar tot 21 aanlegte begin wat Resin8 vervaardig. Dit sal 250 000 ton plastiekafval per jaar kan verwerk tot betonbymiddel wat in die boubedryf gebruik kan word.

Deon Robbertze, sake- en kommunikasiedirekteur by CRDC SA, sê ’n volgehoue stroom van hoëgehalte boumateriaal sal so aan die konstruksiebedryf gelewer kan word, wat terselfdertyd afvalplastiek uit die omgewing verwyder, tot werkskepping bydra, asook tot die vermindering van die behuisingstekort.

Die bymiddel gemaak van plastiekafval kan 3% tot 10% van die mengsel vir strukturele beton (byvoorbeeld vir lasdraende pilare) uitmaak, en tot soveel as 25% vir die mengsel vir nie-strukturele beton (byvoorbeeld vir vloeroppervlakke).

    Meer oor:  Kleinhandel  |  Plastieksakke  |  Herwinning  |  Plastiek  |  Omgewingsake  |  Vervaardiging  |  Besoedeling  |  Inkopies
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.