Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Plundery: WVF werk aan hulp vir werkers

Sowat 75 000 werkers is geraak deur die chaotiese plundery en vandalisme in KwaZulu-Natal en Gauteng vroeër in Julie.

’n Pakhuis en vragmotor in Durban nadat dit geplunder is. Foto: Reuters

Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, het Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê ’n spesiale direktief sal opgestel word om werkers wat geraak is uit die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) te help.

Die direktief is om werkers te help wat nie normaalweg vir hulp kwalifiseer nie weens werkgewers wat nie aan al die voorskrifte vir werkloosheidsvoordele voldoen nie.

Die proses sal volgens departementele amptenare so gou moontlik afgehandel word sodat die eerste aansoeke vir hulp al teen volgende week verwerk kan word.

Die tydelike indiensnemingsverligting (Ters) wat vir die Covid-19-pandemie ingestel is, kan nie gebruik word om werkers te help wat weens die onluste hul werk verloor het nie omdat dit spesifiek bedoel is vir mense wat hul werk weens die inperkings verloor het.

Die WVF sal egter maniere ondersoek hoe om werkers te help wat deur die plundery geraak is. Die geld sal regstreeks in die werkers se bankrekeninge inbetaal word om die korrupsie te verhoed wat met die Covid-19-Ters plaasgevind het, het Nxesi gesê.

Dit volg op die aankondiging vroeër deur die nasionale tesourie dat nog R5,3 miljard deur die WVF opsy gesit is vir die uitbreiding van die Covid-19-Ters om mense te help wat hul werk verloor het weens die pandemie-inperkings.

Daar moenie verwarring wees tussen die Covid-19-Ters en die normale Ters nie, het Nxesi beklemtoon.

Die WVF sal wel van dié nuwe geld gebruik om werkers by te staan wat deur die onrus geraak is, het Thobile Lamati, direkteur-generaal van arbeid, gesê.

’n Onafhanklike evalueringskomitee sal aansoeke en eise oorweeg vir hulp aan werkers en werkgewers wat deur die jongste plundery geraak is, in samewerking met die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie.

Nxesi gee toe daar sal ondernemings wees wat nie die plundery oorleef nie en wat sal sluit, wat tot werkverliese sal lei. Die WVF sal ook probeer om sulke werkers te help deur hulle te help met heropleiding vir poste elders.

Gedwonge inenting van werkers

Wat betref vrae of werknemers gedwing kan word om ingeënt te word, het Lamati gesê die departement kan nie werkgewers verplig of dwing om werkers in te ent of nie in te ent nie. Dit is steeds vrywillig.

Die departement kan ook nie werkgewers keer om inenting verpligtend te maak as hulle op grond van ’n risiko-ontleding besluit dat hulle hul werkers móét inent nie.

Volgens Nxesi verwag hy nie dat werkgewers eensydige besluite moet neem nie, maar alle belanghebbers moet geraadpleeg word. Dis die grondslag van alle arbeidswetgewing. “As daar behoorlike konsultasie is, sien ons geen probleme nie.”

Meer oor:  Thulas Nxesi  |  Ters  |  Wvf  |  Covid-19-Ters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.