Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Praat is maklik; nou die ‘hoe’, sê ekonome

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede te veel gefokus op wat die staat moet en wil doen, en te min op wat die private sektor kan doen, meen ekonome.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, sê Suid-Afrika hét ’n nuwe stad gebou die afgelope jare - Waterfall City in Midrand. Foto: Wikus de Wet

Daar is ook te vaag gepraat oor presies watter ekonomiese groei Suid-Afrika in die visier moet kry, meen Dawie Klopper, ekonoom van PSG Wealth.

“Dis lekker om planne te maak, maar dis klipharde werk om die strategie in werking te stel,” sê Klopper.

Maar hy meen Ramaphosa het die regte goed gesê deur die Reserwebank se onafhanklikheid en mandaat te bevestig, en om te wys op die kritieke faktore in die ekonomie wat aandag moet kry. soos onderwys, Eskom, laer datakoste, minder rompslomp, en groter klem op hernieubare energie.

Volgens Ramaphosa moet die ekonomie veel vinniger as die bevolkingsgroei uitbrei.

Die ekonoom Mike Schüssler sê bevolkingsgroei is tans 1,6%, maar ekonomiese groei van 1,5% of minder word vir vanjaar verwag. Dit is vanjaar reeds die vyfde jaar dat Suid-Afrikaners op grond hiervan armer word.

Klopper sê werkskepping daal slegs as die ekonomie teen 4% of meer groei, maar Ramaphosa was vaag oor die spesifieke teiken vir groei.

Oor die ambisieuse drome van Ramaphosa om ’n nuwe stad te bou, meen Klopper Suid-Afrika het nie die soort kapitaal om China se model van ontwikkeling te volg nie.

En dit is die private sektor wat betrek behoort te word. “Wie gaan die stad bou?”

Dis lekker om planne te maak, maar dis klipharde werk om die strategie in werking te stel
Dawie Klopper van PSG

Ramaphosa het gesê Suid-Afrika het sedert die begin van demokrasie nog nooit weer ’n stad van nuuts af gebou nie.

Klopper wys daarop dat Waterfall City in Midrand tog kan deurgaan as ’n nuwe “stad”.

Schüssler meen ook die regering gaan baie meer hulp van die private sektor nodig hê. Hy is oor die algemeen egter effens meer positief ná die staatsrede as voor die staatsrede, sê hy.

As Ramaphosa egter die private sektor wil lok om meer betrokke te raak, sal hy ’n omgewing moet skep waarin die sakesektor kan weet wat is die risiko’s en wat is sy verwagte opbrengs, want die sakesektor moet kan wins maak.

Mense wil weet hul grond gaan nie afgevat word nie.
Mike Schüssler

“Mense wil weet hul grond gaan nie afgevat word nie.”

Schüssler beklemtoon ’n mens kan nie te veel van die “hoe” in die staatsrede verwag nie, hoewel mense meer geïnteresseer is in die “hoe” van al die planne wat die regering het.

Die onafhanklike ekonoom Fanie Brink meen op sy beurt Ramaphosa se staatsrede is “suiwer wensdenkery”.

Hy meen die inkrimping van 3,2% in die eerste kwartaal is die eerste aanduiding dat die ekonomie vanjaar in ’n diep resessie kan val en die staatsrede sal niks kan doen om dit te keer nie.

Brink meen die feit dat die regering nou wil terugval op die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), wat al sewe jaar gelede bekend gestel is, wys dat die regering geen plan het nie.

Die NOP was volgens Brink nooit ’n plan oor hoe om die ekonomie te laat groei nie en die uitgangspunt is aanvaar dat die ekonomie met minstens 5,4% sal moet groei om die plan enigsins suksesvol in werking te stel. Maar die afgelope vyf jaar was die groeikoers skaars 2%.

Brink meen die enkele probleem met die ekonomie in Suid-Afrika is dat die ANC-regering ná 1994 ’n gemengde sosialistiese en kommunistiese ideologie omhels en kapitalisme verwerp het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.