Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Praatjies oor groei sonder planne bekommer ekonome
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Argief

Daar word nou al hoe lank gesê dat Suid-Afrika ’n nuwe ekonomie moet skep, maar waar is die planne oor presies hóé dit gedoen gaan word?

Dit is die reaksie van die ekonoom Mike Schüssler van Economist.co.za en prof. Jannie Rossouw, waarnemende hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se bestuurskool, op pres. Cyril Ramaphosa se gesprek Sondagmiddag met die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef).

Ramaphosa het gesê die Covid-19-pandemie gee die regering ’n sterker platform en rede om die ekonomie te transformeer en te herstruktureer.

Hy het ook gesê dat die ekonomie “koloniaal en rassisties” is en dat dit “herbelyn” moet word.

Net soos voor die uitbreking van die pandemie het Ramaphosa na “inklusiewe groei” verwys.

“Die nuwe ekonomie moet ’n ekonomie wees wat reageer op die armoede in die land.”

Ramaphosa het net in breë trekke verwys na die bydrae wat infrastruktuur op ekonomiese groei kan hê.

“Die vraag is lankal nie meer oor óf die ekonomie herstruktureer moet word nie, die vraag is nou hóé dit gedoen gaan word. Waar is die planne oor hoe die regering voorstel dat ons dit doen? As ons spesifieke planne het, dan kan ons dit debatteer, maar waar is dit?” vra Rossouw.

“En selfs al is daar ’n werkbare plan is die vraag presies wie dit gaan debatteer? Daar kan nie net ’n debat wees oor wat die beste gaan wees uit ’n politieke oogpunt nie, maar wat gaan die beste wees vir die land?” sê Rossouw.

Schüssler sê die gepraat sonder enige tasbare voorstelle oor hóé om probleme op te los maak hom bekommerd.

“Ek is nie ’n vriend van mense met groot planne nie. Ek is wel ’n vriend van die persoon met die regte planne.

“Ek is bly dat Ramaphosa na infrastruktuur verwys het, maar is bekommerd oor hoe die staat beplan om infrastruktuur te gebruik om ekonomiese groei aan te wakker. Maak geen fout nie, deur infrastruktuur te skep, kan jy sonder enige twyfel werkloosheid verminder en die ekonomie ’n enorme hupstoot gee. Maar dan moet jy die regte infrastuktuur ontwikkel.

“Kyk net na die vorige projekte wat ons aangepak het. Het die bou van byvoorbeeld sokkerstadiums regtig bygedra tot langdurige ekonomiese groei?”

Ek is nie ’n vriend van mense met groot planne nie. Ek is wel ’n vriend van die persoon met die regte planne.
Mike Schüssler

Schüssler sê hy is bekommerd dat die regering die wiel wil herontwerp ten opsigte van ekonomiese groei.

“Kyk na wat ander lande gedoen het wat hul ekonomieë suksesvol opgebou het. En nee, ek verwys nie na lande soos Kuba en Venezuela nie.

“Dit is algemeen bekend dat hoe aanlokliker ’n land dit maak vir maatskappye – plaaslik en internasionaal – om in hom te belê, en dan ’n wins te maak, hoe beter is dit vir die ekonomie.

“Lande, soos selfs China, was juis suksesvol om hul ekonomieë op te bou omdat hulle ’n vryemarkstelsel en privatisering verwelkom het. Ja, polities mag hulle dalk nie demokraties wees nie, maar hulle het hul ekonomieë toegelaat om oop te maak.”

Rossouw stem saam, en sê dat as daar een ding is wat die regering juis uit die Covid-19-pandemie geleer het, is dat ekonomiese groei gekelder, eerder as ondersteun word wanneer die staat probeer om dit te beheer.

“Kyk net wat het tydens inperking met byvoorbeeld sigarette gebeur. Moenie vir my vertel mense het ophou rook nie. Hulle het net maniere gekry om die regulasies te omseil.

“Nog ’n les wat die regering ter harte moet neem, is dat jy nie een dag een plan ter tafel kan lê, en dit die volgende dag verander nie. Neem ’n verantwoordelike en deurdagte besluit en voer dit deur. En moet jou nie dan deur elke belangegroep laat beïnvloed nie,” maan hy.

Meer oor:  Jannie Rossouw  |  Cyril Ramaphosa  |  Mike Schüss­Ler  |  Covid-19  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.