Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Prioriteit nommer een: Skep werk

Ek glo mense kan in een van twee kampe verdeel word: dié wat glo dat rykdom verkry word deur van ander te neem, of dié wat glo dat rykdom geskep word. Kyk maar na verduidelikings vir die Nywerheidsomwenteling wat in Engeland in die 18de eeu begin het.

Johan Fourie is medeprofessor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Sommige beweer die rede vir dié merkwaardige toename in produksie was die gevolg van koloniale uitbuiting, waarvan die Karibiese suikerplantasies wat deur slawe uit Afrika bedryf is die vernaamste was.

Ander beweer dat, hoewel sulke uitbuitende arbeidspraktyke inderdaad tragies was, dit nie ’n fraksie van die groei in die lewenspeil van die gemiddelde Brit kan verduidelik nie.

Slawerny is ’n eeue oue instelling; hoekom sou dit in die 18de eeu skielik tot welvaartskepping lei?

Nee, dit was die nuwe tegnologieë soos die spinning jenny, aangevuur deur beter politieke en ekonomiese instellings, waaronder vryer internasionale handel en mededinging, wat Engelse werkers baie produktiewer gemaak het. ’n Produktiewer arbeidsmag beteken groter winste vir maatskappye, wat hulle toelaat om hoër lone te betaal.

Vandag verdien die gemiddelde Engelsman 29 keer meer as die gemiddelde Engelsman van die 17de eeu. Anders gestel: die gemiddelde Engelsman verdien meer in twee weke vandag as wat die gemiddelde Engelsman in ’n jaar sou verdien 300 jaar gelede. (Terloops, die gemiddelde Jamaikaan is sewe keer ryker as in 1850; nog ’n bewys dat uitbuiting sukkel om ekonomiese ontwikkeling te verduidelik.)

Vandag se beleidsmakers kan in dieselfde twee kampe verdeel word. Sommige glo dat die beste manier om arm mense op te hef is om van die rykes te neem. Verskeie beleidsvoorstelle is tans op die tafel (of reeds afgeteken) wat in pas is met hierdie denkrigting: grondonteiening sonder vergoeding, welvaartsbelastings, nasionale gesondheidsversekering. Herverdeling, vir hierdie denkskool, is die pad na rykdom.

Die bron van welvaart lê nie in herverdeling nie, maar in produktiwiteit van mense. En produktiwiteit word beloon in die arbeidsmark.

Moet my nie verkeerd verstaan nie: Sinvolle herverdeling is nodig in enige land om die weerloses te beskerm. En dit is noodsaaklik in ’n land soos Suid-Afrika vanweë ons geskiedenis.

Maar wat hierdie denkskool vergeet, is dat Suid-Afrika reeds een van die mees progressiewe belastingstelsels ter wêreld het.

Mashekwa Maboshe en Ingrid Woolard bereken in ’n konsepartikel in 2018 dat 86,9% van alle inkomstebelasting deur die 10% rykste Suid-Afrikaners betaal word. Die naasrykste 10% betaal ’n verdere 10,4% en die res – 80%! – betaal net meer as 3%.

Die goeie nuus is dat die staat die inkomste met welslae herverdeel deur maatskaplike toelaes en ander goedgeteikende uitgawes: Maboshe en Woolard toon dat dié verdeling mense onder die broodlyn met twee-derdes verminder en die Gini-koëffisiënt, ’n maatstaf van ongelykheid, effe verlaag.

Die slegte nuus is natuurlik dat indien hierdie top-10% besluit om hul heil elders te soek, dit die staatskas baie vinnig in groot moeilikheid kan laat.

Die feit van die saak is egter dat selfs met al die herverdeling, kan armoede en ongelykheid nie volhoubaar getakel word nie. Dit is omdat die bron van welvaart nie in herverdeling lê nie, maar in produktiwiteit van mense. En produktiwiteit word beloon in die arbeidsmark.

Hoewel die amptelike werkloosheidsyfer 29% is, die hoogste nog, is 60% ’n baie belangriker syfer om in gedagte te hou: dit is die getal volwasse Suid-Afrikaners wat nie werk nie. Dit is verbysterend hoog. Om die rykes se inkomstes te herverdeel, sal nooit genoeg wees om hierdie mense ’n goeie lewe te gee nie. Hulle moet eenvoudig ’n inkomste in die arbeidsmark verdien. Werkskepping is die sleutel tot Suid-Afrika se sukses.

Die land moet baie vinnig besluit oor watter tipe samelewing ons wil wees. Ons kan óf ’n land wees waar net 40% van mense werk en waar net ’n kwart van daardie werkendes se surplusse gebruik word om die res tot net bo die broodlyn te help. Óf ons besef dat die enigste manier om Suid-Afrika weer terug op ’n volhoubare pad van welvaartskepping (vir almal) te plaas, is om dit vir entrepreneurs maklik te maak om wins te maak en werk te skep.

Dit gaan ’n daadwerklike poging verg om die populistiese waansin van ekstreme herverdeling te pos en te vervang deur beleid wat voorrang verleen aan werkskepping deur die private sektor.

  • Johan Fourie is medeprofessor in die ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Johan Fourie  |  Armoede  |  Werkskepping  |  Ekonomie  |  Werkloosheid  |  Private Sektor  |  Ongelykheid  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.