Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Probleme by SAID een van redes vir hoër BTW
Ismail Momoniat, adjunk-direkteur-generaal van die tesourie.Foto: Elvira Wood

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se onvermoë om belasting in te samel is een van die redes waarom belasting op toegevoegde waarde (BTW) vanjaar verhoog is.

BTW is in April met een persentasiepunt tot 15% verhoog.

Dit is volgens Ismail Momoniat, adjunk-direkteur-generaal van die tesourie.

Hy het Dinsdag getuig voor die Nugent-kommissie van ondersoek wat openbare sittings in Brooklyn, Pretoria, hervat het.

Die kommissie is vroeër vanjaar deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel om gebeure, wat onder meer korporatiewe bestuur insluit, by die SAID te ondersoek.

Momoniat verduidelik dat as die SAID nie sy teikens haal nie, daar ’n verandering moet kom.

“Verlede jaar was dit baie duidelik dat ons ’n beduidende verhoging gaan moet toepas,” sê hy met verwysing na die verhoging van BTW.

Momoniat het bevestig die vooruitsig was dat die tekort vir die nuwe boekjaar R50 miljard sal wees.

Deur BTW te verhoog, en as die lys van produkte wat tans daarvan uitgesluit word nie verander word nie, verwag die tesourie dat tussen R23 miljard en R25 miljard meer belasting ingesamel moet word.

Buiten vir die verhoging van die BTW-koers was die probleme in 2017 met BTW-terugbetalings ook een van die kwessies wat bespreek is.

Momoniat het getuig dat Pravin Gordhan, wat toe minister van finansies was, gevra het wat die probleme met die syfers was.

“Hy het spesifieke vrae gevra en dit was duidelik hulle (afgevaardigdes van die SAID) het geen idee gehad waarvan hy praat nie,” sê hy.

“Die kommissaris en die uitvoerende bestuur het die oorspronklike vergadering wat Gordhan belê het, bygewoon, maar het geen verdere tegniese vergaderings bygewoon nie.

“Daar was toe reeds gerugte dat minister Gordhan die deur gewys gaan word.

“Deur op 31 Maart 2017 hom wel af te dank, het dit beteken die proses om uit te vind wat die probleem met die BTW-terugbetalings was, is laat vaar,” vertel hy.

Tom Moyane, wat nou geskors is, was toe kommissaris van die SAID.

Lede van die tesourie, wat Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, insluit, sal vir die res van die dag getuienis lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.