Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Prys van toiletpapier in Taiwan skiet omhoog
Toiletpapier het byna oornag van supermarkrakke in Taiwan verdwyn toe nuus van ’n skerp prysstyging rugbaar geword het.

In Taiwan het toiletpapier byna oornag witgoud geword nadat winkels gewaarsku het die prys van dié noodsaaklikheid gaan skerp styg.

Só erg was die benoudheid dat die land se eerste minister, Lai Ching-te, sy land se inwoners Maandag moes maan om nie paniekerig te raak nie. Die eiland se regering hou die situasie fyn dop vir enige tekens van prysmanipulasie, het Lai volgens Bloomberg gesê.

Berigte het oor die naweek in die plaaslike media verskyn dat toiletpapiervervaardigers ’n prysstyging van tussen 10% en 30% in die prys van toiletpapier verwag.

Dit het daartoe gelei dat klante groot hoeveelhede toiletpapier gekoop en winkelrakke leeggemaak het.

Foto’s van leë rakke in supermarkte en video’s van klante wat desperaat stoei om die laaste rolle in die hande te kry, het Maandag op sosiale media verskyn.

Aanvanklik het die land se departement van ekonomiese sake die skerp prysstyging toegeskryf aan ’n internasionale styging in die koste van die grondstowwe wat gebruik word om toiletpapier te vervaardig. Bosbrande in Kanada en die ontwrigting van produksie in Brasilië is van die faktore wat die skuld vir die styging kry.

Een van Taiwan se grootste verskaffers sê die situasie kan grootliks toegeskryf word aan ’n styging van byna 50% in die koste van papierpulp, vervoer en verpakkingskoste.

Die eiland voer byna al sy papierpulp in.

Daar was egter op ’n internasionale vlak min aanduiding dat die prys van toiletpapier aan die styg is en die Taiwanse mededingingskommissie stel nou ondersoek in na moontlike samespanning tussen verskaffers.

Oortreders wat hulle afvee aan die owerheid, kan met tot $3,4 miljoen beboet word.  

Meer oor:  Taiwan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.