Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Punt van die Saak: Lag en betaal maar vir petrol

Francois Williams, spesialisverslaggewer van Netwerk24, gee sy siening van die pleidooi dat die brandstofheffing verlaag of selfs geskrap word.

         

Francois Williams

’n Mens het gedog die DA en ander organisasies is slimmer as om populistiese veldtogte te voer om die regering te probeer dwing om petrolpryse te verlaag.

Die algemene brandstofheffing het in die afgelope boekjaar meer as R71 miljard vir die staatskas ingevorder.

As die regering die brandstofheffing moet sny, sal daardie geld bloot op ’n ander manier van belastingbetalers verhaal moet word.

Wat is die alternatiewe voorstelle? Wil jy meer persoonlike inkomstebelasting betaal? Die belastingkoek is net só groot.

Die brandstofheffing is, soos belasting op toegevoegde waarde (BTW), ’n breë, demokratiese belasting wat nie diskrimineer op grond van inkomste nie. Die brandstofheffing weet nie of jy ’n eerlike en gedienste belastingbetaler of ’n ontduiker en skelm is nie.

Dis nie die brandstofheffing as sodanig wat die probleem is nie, dis die manier waarop die regering belastinggeld bestee.

Die onwettige perlemoenstropers of ongeregistreerde taxibase of dwelmhandelaars moet óók hul voertuie met brandstof vul, en ten minste is die brandstofheffing een manier waarop hulle gedwing word om ’n fraksie van hul regmatige deel belasting by te dra.

Dis nie die brandstofheffing as sodanig wat die probleem is nie, dis die manier waarop die regering belastinggeld bestee, en dít geld alle inkomste van die staat, nie net brandstofheffings nie.

Hoe petrolprys bepaal word

Wat mense blykbaar steeds nie kleinkry nie, is dat die maandelikse stygings in brandstofpryse niks te doen het met die regering se belastinginvordering nie. Die brandstofheffing word een maal per jaar in April verhoog, op ’n vaste grondslag van sent per liter.

Dit beteken die brandstofheffing as absolute bedrag in die kleinhandelprys van petrol word nie meer of minder soos wat pryse maandeliks verander nie. Dit bly dieselfde tot volgende jaar April.

Die maandelikse pryse word verander op grond van internasionale brandstofpryse en die rand-dollar-wisselkoers.

As die regering die brandstofheffing moet sny, sal daardie geld bloot op ’n ander manier van belastingbetalers verhaal moet word.

Die DA is dus net deels en onregstreeks reg as hy die skuld vir duurder brandstof op die regering wil pak. Die rand se swakheid teen die dollar weens die ANC-regering se swak ekonomiese beleid dra weliswaar by tot duurder brandstof. Maar die besluite van die Organisasie van Petroleumuitvoerlande in Wene, die buie van milisiegroepe in die olieryke Niger-delta in Nigerië, die besluite van ’n skalie-oliebaron op die vlaktes van Ohio in Amerika of die aspirasies van miljoene Chinese en Indiërs wat ook ’n motor wil ry, is so effe buite die beheer van die departement van energie in Pretoria.

Deregulering

Wat wel ’n verskil kon maak aan brandstofpryse, is as die regering sou besluit om sy prysbeheer te laat vaar. Olieraffinaderye en Sasol sal dan kan meeding op suiwer kommersiële gronde, en Sasol sou sekerlik steeds munt kon slaan uit sy bewese voordeel om brandstof uit steenkool en aardgas te maak pleks van ingevoerde ruolie. Vulstasies in dieselfde straat of dorp sou dan met mekaar kon meeding met goedkoper petrol deur klante op allerhande kreatiewe maniere te lok.

Maar kenners waarsku gewoonlik deregulering kan onbedoelde gevolge hê. Om mededingend te bly, sal vulstasies koste moet snoei, en die poste van petroljoggies kan in die slag bly.

Tans hou die regering dus petrolprysregulering in plek en is vulstasies ’n de facto-werkskeppingsprojek om sowat 50 000 mense en hul gesinne van ’n lewensbestaan te voorsien.

Kenners sê gewoonlik prysderegulering sal dalk aanvanklik tot laer pryse lei, maar as kleiner vulstasies wat nie die mas kan opkom nie eers uit die mark is, sal die oorblywendes bloot weer hul pryse verhoog.

Die huidige prysstelsel kan beslis verfyn en verbeter word, maar dit boots werklike pryse so goed moontlik na en op ’n manier bied dit minstens van maand tot maand pryssekerheid vir sowel die groot- as kleinhandelaars en die publiek.

Vulstasies en groothandelaars is verseker van ’n vaste winsmarge. As pryse vry kan verhandel, is dit elkeen vir homself en sal motoriste wat pryssensitief is, wil rondjaag van die een vulstasie na die ander op soek na ’n winskopie.

In lande waar die bevolking soos babas opgepiep is met gesubsidieerde brandstofpryse het die subsidiebeleid al lelik skeefgeloop.

Subsidies

In lande waar die bevolking soos babas opgepiep is met gesubsidieerde brandstofpryse het die subsidiebeleid al lelik skeefgeloop.

Toe die Nigeriese regering ’n paar jaar gelede besef het hy kan nie meer sy reuse-subsidie van brandstofpryse bekostig nie, was daar chaos toe hy die bottel by die babas wou afvat.

Egipte sê hy wil volgende jaar alle brandstofsubsidies uitfaseer. Dit het die afgelope weke tot gewelddadige betogings in Egipte gelei, want om sy brandstofpryse na werklike vlakke terug te bring moes Egipte verhogings van meer as 60% instel, wat volg op die vorige jaar se verhoging van meer as 55%.

Die beste manier om teen duurder brandstof te protesteer is om minder van die goed te koop. Ry bus of trein. Maak ’n plan.

  • Francois Williams is ’n spesialisverslaggewer by Netwerk24 met ’n belangstelling in onder meer energiesake. Hy pendel daagliks met Metrorail.
Meer oor:  Petrolprys  |  Petrol  |  Brandstofheffing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.