Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
R106 mjd. se mediese eise teen staat

Die ouditeur-generaal se jongste verslag is nie ligte leesstof nie, maar daar is wel klein ligpuntjies.

Tsakani Maluleke, ouditeur-generaal.

Meer as 60% van die nasionale en provinsiale staatsdepartemente het nie teen die einde van die 2019-’20-boekjaar genoeg geld gehad om al hul skuld en agterstallige rekeninge te betaal nie.

Tsakani Maluleke, die ouditeur-generaal (OG), verduidelik dat dié departemente by implikasie die pas afgelope boekjaar reeds met ’n agterstand begin het met ’n groot deel van hul begrotings wat prakties reeds uitgegee is. Tot 27 departemente sou meer as 10% van die afgelope boekjaar se bedryfsbegroting moes gebruik om eers sulke agterstande te delg.

Mediese eise

Boonop is baie van die eise teen die staat as gevolg van die departemente se eie toedoen. Maluleke wys op R147,12 miljard se eise teen die staat, met R105,8 miljard wat uit mediese nalatigheid in provinsiale gesondheidsgeriewe spruit.

Tito Mboweni, minister van finansies, kla ook al sedert hy in sy pos is oor dié enorme bedrae vir eise waarteen die staat hom in howe moet verdedig, wat voorkom kon word en onnodig is.

Volgens Maluleke begroot die departemente nie vir sulke eise nie, en dit beteken dus dat as eise suksesvol is, sal dit betaal moet word met geld wat vir ander strategiese prioriteite bedoel was.

Vir ’n derde van dié departemente is die eise teen hulle meer as 10% van hul bedryfsbegroting vir die volgende jaar, en vir vyf gesondheidsdepartemente was die onbetaalde eise teen die jaareinde selfs meer as die volgende jaar se volle bedryfsbegroting.

Rente en boetes

Nog ’n aspek wat kommerwekkend is, is die volgehoue toename in vrugtelose en vermorste uitgawes.

Maluleke wys op R370 miljoen uit die totaal van R2,39 miljard se vrugtelose en vermorste besteding wat heeltemal onnodig aan boetes en rente weens laat betalings aan krediteure bestee is.

Skerper tande begin byt

Wat wel ’n mate van hoop gee, is dat dit lyk asof die skerper tande, wat die OG se kantoor met wetswysigings verkry het, stadigaan begin vrugte afwerp.

Maluleke het verslag gedoen oor die nuwe maniere waarop haar kantoor by rekenpligtige beamptes en owerhede opvolg oor wesenlike onreëlmatighede wat in vorige oudits opgetel is. Teen die einde van Februarie vanjaar is die rekenpligtige beamptes en owerhede, waar die nuwe benadering ingefaseer is, van 75 wesenlike onreëlmatighede ingelig.

In die jongste OG-verslag is op 45 van die onreëlmatighede gefokus. Volgens Maluleke is drie van die kwessies al opgelos en 33 kry toepaslike aandag, wat volgens haar dui op gedragsverandering wat besig is om pos te vat.

“By sommige entiteite kry sake waaroor ons al jare verslag doen, nou uiteindelik die nodige aandag.”

Uitgebrei na 89

Sedert die Wet op Openbare Oudit in 2019 gewysig is, het die OG die nuwe benadering aanvanklik in 16 entiteite vir die 2018-’19-boekjaar begin toepas, en vir die 2019-’20-boekjaar is dit tot 89 entiteite uitgebrei. Dit sluit die nasionale asook al die provinsiale gesondheids- en onderwysdepartemente in, provinsiale departemente vir behuising, die nasionale en provinsiale departemente van vervoer en openbare werke, die departement van water en sanitasie en nege waterrade, die departemente van verdediging, korrektiewe dienste, samewerkende regering en landbou, asook die nasionale tesourie.

k
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.