Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
R145 miljard se belasting geskuld aan staat

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se skuldboek lyk beroerd, want belastingbetalers skuld hom nou al sowat R145 miljard.

Mark Kingon, waarnemende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, loof werknemers van die belastingdiens vir hul toewyding. Foto: Deon Raath

“Ons is baie bekommerd hieroor aangesien die fiskus dié geld dringend nodig het,” sê Mark Kingon, waarnemende kommissaris van die SAID.

Hy sê dit verteenwoordig egter nie net skuld wat belastingbetalers versuim het om die afgelope boekjaar te betaal nie. Dit sluit ook skuld in wat oor ’n paar jaar opgehoop het.

Kingon sê die SAID wil veral op die skuldboek fokus om soveel moontlik hiervan in te samel.

Te min ingesamel

Die voorlopige syfers wat die SAID Maandag bekend gemaak het, onderstreep weer eens die uitdagende jaar wat hy agter die rug het.

Hy het in die jaar tot einde Maart R57,4 miljard (-4,3%) minder ingesamel as waarvoor die staat aanvanklik in Februarie 2018 begroot het. Hy het wel teen die aanwasbegroting in Oktober sy verwagtinge afgeskaal, maar dis steeds R14,6 miljard (-1,1%) minder as die hersiene bedrag.

Die R1 287,6 miljard wat in die 2018-’19-belastingjaar ingesamel is, is wel R71,2 miljard of 5,8% meer as in die vorige boekjaar, het Kingon Maandag in Pretoria bekend gemaak.

Die finale geouditeerde syfers behoort later vandeesmaand beskikbaar te wees.

Die bruto belasting wat ingesamel is, het met 8,6% gestyg terwyl 22,7% meer geld aan belastingbetalers terugbetaal is.

belastinginkomste2019maart

Bronne van belastinginkomste

Die grootste bron van inkomste bly individue.

Suid-Afrikaners het die afgelope jaar R493,8 miljard in persoonlike-inkomstebelasting betaal.

Belasting op toegevoegde waarde (BTW) beloop R324,6 miljard. Dit is ’n styging van sowat R22 miljard en is hoofsaaklik vanweë die verhoging van die BTW-koers van 14% tot 15% in April 2018.

Maatskappye het R214,5 miljard belasting betaal, terwyl die SAID R55,2 miljard uit invoertariewe verdien het.

Kingon sê die SAID het veral baie op sigaret- en brandstofsmokkelary gefokus, wat gehelp het om inkomste te verhoog.

Terugbetalings

Die SAID het nie nét geld ingesamel nie. Hy het ook belastingbetalers – en veral dié aan wie hy BTW skuld – terugbetaal.

In die boekjaar het die SAID altesame R287,8 miljard aan individue en maatskappye terugbetaal. Dié bedrag is nie by die finale inkomstesyfer van R1 287,6 miljard ingereken nie.

Die SAID het R30,5 miljard aan individue en R22,2 miljard aan maatskappye terugbetaal.

Hy het ’n verdere R229,2 miljard aan BTW terugbetaal.

Kieswetter-era lê voor

Dié stel syfers is die laaste wat Kingon as waarnemende kommissaris voorgelê het.

Van 1 Mei neem Edward Kieswetter oor as kommissaris van die SAID.

Kieswetter en Tito Mboweni, die minister van finansies, was nie by die aankondiging nie. Mboweni het Maandag die Brics-bank se vergadering in Kaapstad bygewoon.

Ismail Momoniat, wat die tesourie verteenwoordig het, sê aangesien die SAID altyd die dag nadat die boekjaar afgesluit het die media toespreek, is besluit om dié gebruik vol te hou ondanks die minister se afwesigheid.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Inkomstediens  |  Said  |  Jan Taks  |  Btw  |  Staatsbegroting  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.