Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
R17 per dollar nou ’n groot risiko

As die afkeer van risiko voortduur en die handelsoorlog wat Amerika ontketen het, vererger, gaan die rand voor die einde van die jaar tot R15,90 verswak.

Annabel Bishop, Investec-ekonoom, sê die rand is die slagoffer van afkeer aan risiko.

Dit kan dan ook in die eerste kwartaal van 2019 tot selfs R17 per dollar val.

Dis die pessimistiese siening van Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, nadat die rand volgens Bloomberg se data Maandag tot selfs R15,55 per dollar verswak het te midde van ’n krisis in Turkye. Maandag teen middagete het die rand tot R14,46 teruggetrek.

Die heel eerste plek waar die vryval van die rand sedert Vrydag Suid-Afrikaanse verbruikers gaan seermaak, is waarskynlik by die vulstasie.

Die skerp verswakking van die geldeenheid – die skerpste eendagdaling nóg – kan die effense oorverhaling op brandstofpryse omkeer.

Maandagoggend het die Sentrale Energiefonds bekend gemaak daar is tot op hede ’n oorverhaling van tussen 5c en 6c per liter op petrol en tussen 9c en 10c per liter op diesel. ’n Oorverhaling beteken die prys moet daal – maar dis data wat slegs tot Vrydag 10 Augustus strek en dus nog nie Maandag se rand-krisis in ag neem nie.

Die brandstofpryse vir September word eers op Vrydag 31 Augustus vasgepen en geld van Woensdag 5 September af. Dit beteken daar is nog drie weke oor waarin die rand en wisselende oliepryse die finale pryse sal bepaal.

Volgens Neels Heyneke, Nedbank-ekonoom, bestaan die risiko dat die rand op ’n aansienlik swakker vlak kan konsolideer nadat dit van die R15-vlak teruggetrek het. R14,39 word as een van die moontlike weerstandsvlakke genoem, wat beteken die rand het binne dae met byna R1 swakker teenoor die dollar verswak sedert Woensdag se sluitingstydprys van R13,41.

Die verswakking van die rand is onder meer as ’n “swart swaan” – ’n gebeurtenis wat nie voorspel kan word nie – beskryf. Dit word voor die deur gelê van die politieke en finansiële krisis in Turkye.

Volgens Bishop het internasionale beleggers nou ’n sterk afkeer aan risiko, “terwyl inflasiedruk in die VSA kommer verhoog het oor die Amerikaanse rentekoerstrajek, en kommer oor traer wêreld- ekonomiese groei weens stygende handelspanning laat ontstaan het.”

Net Vrydag het buitelanders R5,2 miljard se netto Suid-Afrikaanse effekte verkoop.

Die Turkse lire het Maandag met tot 8% teenoor die dollar verswak en is nou reeds byna 23% swakker vir die jaar tot dusver. Dis die ontluikende geldeenheid wat tot dusver die droewigste jaar beleef.

Inflasie in Turkye beloop nou bykans 16%, maar die land se sentrale bank weier om die rentekoers te verhoog.

Pres. Recep Tayyip Erdogan van Turkye het Maandag gesê hy sal alles moontlik doen om die lire te beskerm. Hy praat volgens die BBC van ’n “komplot” teen die land.

Die lire het begin gly sedert Vrydag, toe pres. Donald Trump van Amerika die verdubbeling van invoertariewe op staal en aluminium wat vanuit Turkye ingevoer word, goedgekeur het. Dit kom te midde van Turkye se weiering om ’n Amerikaanse pastoor vry te laat wat al twee jaar in Turkey gevange gehou word.

Andrew Brunson, wat reeds 23 jaar lank in Turkye woon, is in 2016 saam met duisende ander mense in hegtenis geneem vir ’n beweerde komplot om ’n staatsgreep uit te voer.

Volgens Bishop word die rand – wat baie meer likied is as ander ontluikende lande se geld – dikwels as ’n plaasvervanger vir ontluikende geld in die algemeen gesien. Dit beteken die geldeenheid loop die risiko van verdere verswakking “so lank as wat Turkye nalaat om die nodige beleidsherstelwerk te doen om sy geldeenheid te ondersteun”.

Wat Amerikaanse data betref, is Vrydag bekend gemaak dié land se kerninflasie het in Julie tot 2,4% gestyg, die hoogste koers sedert 2008. Kerninflasie sluit die prys van kos en energie uit en die Federale Reserweraad hou dit fyn waar met die oog op rentekoersverhogings.

Die inflasiesyfers het die verwagting in die mark verhoog dat die Fed nog twee keer vanjaar – in September en desember – sy rentekoers gaan verhoog. Dit kan nog institusionele beleggers uit ontluikende lande laat onttrek ten einde in Amerikaanse staatseffekte te belê.

Bishop waarsku dat die rand “merkbaar wisselvallig” sal bly in die lig van die Amerikaanse handelsoorlog. Dit kan nog tot November 2019 voortduur wanneer Amerika goewerneursverkiesings in verskeie state hou.

Meer oor:  Donald Trump  |  Annabel Bishop  |  Turkye  |  Handelsoorlog  |  Wisselkoers  |  Dollar  |  Rand  |  Inflasie  |  Markte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.