Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
R20 per sigaret: Is dit dalk rokers se lot tot vlak 1?

Rokers sal dalk hul sakke moet skud om vir nog ’n paar maande tot soveel as R20 per enkele sigaret of tot R200 (of meer) vir ’n pakkie van 20 sigarette te moet betaal.

Lag en betaal is die wet van... rook tydens die inperking. Foto: Bloomberg

Dit is as gerugte waar is dat die regering die verbod op tabakprodukverkope steeds tydens vlak 3 van die Covid-19-inperking wil handhaaf ondanks vroeëre beloftes dat dit opgehef sal word.

Regeringswoordvoerders het Vrydag wal gegooi oor dié gerugte.

News24 het berig betroubare bronne sê dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het aan die nasionale bevelsraad oor die Covid-19-pandemie gesê dis te veel van ’n gesondheidsrisiko om al op 1 Junie die verkope van sigarette én alkohol toe te laat.

Dit kom ondanks ’n ooreenkoms dat die regering wel van plan is om sigaretverkope op vlak 3 toe te laat.

Dlamini-Zuma is volgens die betroubare bron gesteun deur dr. Aaron Motsoaledi, tans minister van binnelandse sake wat voorheen minister van gesondheid was. Dlamini-Zuma het akademiese studies aangehaal om haar standpunt te steun dat die gesondheidsrisiko te groot is om tabak- en alkoholverkope tydens die pandemie toe te laat.

Die kwessie is glo wyd gedebatteer, maar ’n finale besluit is nog nie geneem nie, het die bron aan News24 gesê.

Mlungisi Mtshali, Cogta-woordvoerder, het gesê hy het ook nog niks gehoor van die gerugte dat sigaret- en drankverkope eers op vlak 1 van die inperking toegelaat sal word nie. “Ek kan nie kommentaar lewer op inligting van ’n anonieme bron nie.”

Sidwell Medupe, woordvoerder van die departement van handel, nywerheid en mededinging, wou ook nie kommentaar lewer nie en het gesê dis beter om vir die amptelike aankondiging te wag. Die bevelsraad vergader weer Dinsdag.

Fita, die organisasie van onafhanklike tabakprodusente, het ook bevestig die kwessie word nog by die bevelsraad bespreek en ’n finale besluit is nog nie geneem nie. Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van Fita, sê baie lede van die bevelsraad steun die opheffing van die verbod op tabakhandel. Fita het ’n hofbevel teen die regering wat hom verplig om teen Dinsdag die notules openbaar te maak en redes te verskaf vir die omstrede besluit om tabakverkope steeds op vlak 4 te verbied, al het pres. Cyril Ramaphosa vroeër aangedui die verbod sou opgehef word.

Leon Louw, uitvoerende hoof van die Vryemarkstigting, waarsku dit alles beteken net dat rokers nog maande lank buitensporige pryse vir sigarette op die onwettige mark sal moet betaal.

leon louw
Leon Louw, uitvoerende direkteur van die Vryemarkstigting.

British American Tobacco Suid-Afrika (Batsa), die grootste enkele sigaretvervaardiger in die land, het nie op navrae gereageer nie, maar het vroeër gewaarsku die regering verloor R36 miljoen per dag aan belasting op die verkoop van wettige sigarette.

Louw sê daar is geen bewese gesondheidsverband tussen rook en Covid-19 nie. “Waarom verbied hulle nie ook suiker nie, want studies van Chinese Covid-19-pasiënte het gewys die sterftekoers is drie keer hoër in pasiënte met diabetes?

“Soos gewoonlik met afgerammelde en swak uitgedinkte regulasies, is die wet van onbedoelde gevolge aan die werk. Teen einde April het die nasionale tesourie al meer as R300 miljoen aan aksyns op tabakprodukte verloor, en het die onwettige handelaars die mark op ’n skinkbord gekry. Hulle vra buitensporige pryse en mense het nie opgehou rook nie. Die regering het oornag 11 miljoen rokers in misdadigers omskep.”

Die stryd teen onwettige tabakhandel is verlore, en die toekoms lyk droewig vir die wettige tabakbedryf, insluitend informele handelaars en klein winkels wat op tabakverkope staatmaak om te oorleef, sê Louw.

Volgens Michael Mokgoja, sekretaris-generaal van Saita, die vereniging wat informele sigarethandelaars verteenwoordig, het pres. Cyril Ramaphosa nog geensins gereageer op Saita se “talle briewe” nie, waarin Saita verduidelik informele handelaars kry tot 50% van hul inkomste uit die wettige verkoop van sigarette, wat nou beteken hulle en hul kinders ly honger.

“Ons sektor word die hardste getref deur die inperking, want daar is geen veiligheidsnet wat ons dreigende ineenstorting kan stuit nie,” sê Mokgoja.

Die mark van die sigarette wat tans gekoop word, word deur sindikate bestuur, sê Mokgoja. “Dit is nie ons mense wat onwettige sigarette verkoop nie, hulle weet nie eens hoe om in die onwettige bedryf in te kom nie.”

Mokgoja sê die verbod moedig regstreeks misdaad aan, want rokers gaan nie ophou rook omdat die regering so sê nie. “Al mense wat baat vind, is misdadigers!”

Intussen rook rokers ongesonde, ongereguleerde sigarette wat bendes finansier en informele handelaars se kinders “het nie brood op die tafel nie. Dit kan nie so wees nie.” – Saamgestel deur Jana Marx, William Horne en Francois Williams

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Sigaretverkope  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Vlak 3  |  Sigaretverbod  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Rook  |  Sigarette  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.