Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
R20 vir ’n dollar? Dié nagmerrie dalk binnekort werklikheid
Die rand het opnuut ’n laagtepunt teenoor die Amerikaanse dollar bereik, en kan selfs tot R20 teenoor die dollar terugsak.Foto: Elvira Wood

Daar is ’n groot kans dat die rand binnekort tot R20 teenoor die dollar kan verswak.

Dit kom nadat die geldeenheid in die eerste week van die staat van inperking drasties teenoor ander geldeenhede teruggesak het en die afgelope week verder veld verloor het nadat Moody’s Suid-Afrika tot rommelstatus afgegradeer het.

Dit het Vrydag opnuut ’n nuwe laagtepunt bereik toe dit tot R18,78 teenoor die dollar verswak het.

Dit het dus nou reeds meer as ’n rand teenoor die Amerikaanse geldeenheid verswak sedert die staat van inperking op 27 Maart begin het.

Op 1 Januarie het die rand nog teen R14 teenoor die dollar verhandel. Die geldeenheid het dus vanjaar reeds met bykans 34% verswak.

Dis ook nie net teenoor die dollar wat die rand teruggesak het nie.

’n Britse pond kos nou R23,05, terwyl ’n euro R20,19 kos.

Jee-A van der Linde, ekonoom by NKC African Economics, het aan Fin24 gesê hy dink die rand kan binnekort selfs deur die R20-vlak teenoor die dollar breek.

“Die plaaslike geldeenheid het houe van alle kante gekry. Die rand is nie net onder druk geplaas weens die invloed van die Covid-19-pandemie op die ekonomie nie, maar ook weens die verswakking van Suid-Afrika se groei- en fiskale vooruitsigte,” sê hy.

“Suid-Afrika se ekonomiese grondbeginsels is droewig, en die eksterne omgewing het al hoe meer vyandig geword. “Die verlies aan Suid-Afrika se beleggingsgraadstatus oefen verdere druk op die rand uit, wat al hoe swakker word as gevolg van die ekonomiese skade wat Covid-19 aangerig het,” sê Van der Linde.

Nedbank sê Vrydag in ’n nota hy verwag die rand gaan reeds vandag tot R19 teenoor die dollar kan terugsak.

“Die rand het meer gedaal as wat ek verwag het,” sê prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand.

“Dit kan kortstondig tot R20 teenoor die dollar daal, soos toe dit die (destydse) lae vlak van R13,84 (in Des 2001) bereik het. Daarna het dit heelwat gestyg soos normaliteit teruggekeer het. Toe was dit sowat R7 teenoor die dollar.”

Rossouw verwag dat die rand wel in ’n mate sal herstel soos sake normaliseer nadat die staat van inperking opgehef word.

  • Goud verhandel Vrydagoggend teen $1 610,91 per fynons en Brent-ruolie teen $31,36 per vat.
Meer oor:  Jannie Rossouw  |  Dollar  |  Covid-19  |  Rand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.