Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
R58 mjd. se Covid-19-Ters uitbetaal

Meer as R58 miljard se Covid-19-Ters-geld is teen einde Februarie uitbetaal, volgens Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid.

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid. Foto: Daily Sun

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se tydelike hulpskema vir werkgewers wat te midde van die inperkings nie hul werknemers kon betaal nie, het tot middel Maart gegeld, op die laaste net vir mense in bedrywe wat weens inperkings steeds nie kon werk nie.

Die fonds was gereeld in die spervuur oor foutiewe uitbetalings en bedrieglike eise.

In antwoord op ’n vraag deur Michael Cardo, DA-LP, oor wat die departement doen om werkloosheid te verlig, het Nxesi gesê Covid-19-Ters was ’n belangrike maatreël waardeur afleggings verminder kon word. Volgens Statistieke Suid-Afrika het byna 1,4 miljoen mense in 2020 hul werk verloor, 594 000 in die formele sektor.

Die departement het teen einde Maart gehelp om tydelike werk vir 800 000 jong mense te skep as deel van die program vir uitgebreide openbare werke wat pres. Cyril Ramaphosa verlede jaar aangekondig het. Dit sluit in poste vir onderwysers se assistente wat by staatskole geskep is.

Die departement het ook 702 001 werksoekers geregistreer en berading oor indiensneming, insluitend voorbereiding vir werkonderhoude, aan 200 065 verskaf. Die departement het 71 262 nuwe werkgeleenthede geregistreer nadat potensiële werkgewers genader is.

Nxesi sê die inisiatief Produkwiteit Suid-Afrika het al baie gedoen om te keer dat ondernemings ondergaan deur hulle met omkeerplanne te help.

Die minister wys ook op die rol wat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) speel om gevalle van onbillike afdanking tydens die Covid-19-pandemie om te keer.

Die regsfirma Webber Wentzel het juis die afgelope week die saak uitgelig van ’n vrou wie se afdanking deur die KVBA omgekeer is nadat sy tydens vlak 5 van die inperking van die werk af weggebly het. Dit was nadat haar aansoek om gewone sowel as onbetaalde verlof afgekeur is. Sy het ’n kind met asma en ’n bejaarde ouer wat by haar woon.

Die KVBA het haar werkgewer gekap omdat hy die werknemer se persoonlike omstandighede te midde van die buitengewone omstandighede van die wêreldwye pandemie geminag het en eerder bang was om ’n “presedent” te skep wat kollegas kon uitbuit.

Nxesi het ook uitgelig die departement van arbeid het nou selfhelp-rekenaars by 62 van sy 126 arbeidsentrums landwyd waarop mense werk kan soek. In Kaapstad word ’n jeugsentrum getoets wat later vanjaar ook in Gauteng en die Oos-Kaap in werking gestel sal word.

Mobiele arbeidsentrums gaan eersdaags na mense op die platteland begin uitreik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.