Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Raar maar waar, dié sakestories het oë laat rek

’n Lugdiens wat op Gumtree geadverteer is, en ’n selfoonnetwerk op die maan. Daar was talle eienaardige sakestories in 2020 wat lesers hul koppe in verbasing laat skud het. Hier is tien wat uitgestaan het.

   

1. SA Express op Gumtree

SA Express se vliegtuie is op platforms soos Gumtree geadverteer. Foto: Verskaf

Die sakeredders wat by die lugdiens SA Express aangestel is, was so desperaat om die lugdiens te verkoop, dat hulle dit selfs op aanlyn platforms soos Gumtree en Junk Mail geadverteer het.

Die veilig is eindelik op 18 November gehou. Die meeste van die vliegtuie wat toe opgeveil is, sou egter deur die Burgerlugvaartowerheid afgeskryf word, en was waarskynlik net gepas om as skrootmetaal gebruik te word.

     

2. SAL se toiletpapier

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het nie homself te koop aangebied nie, maar het wel in November derduisende  verbruiksartikels opgeveil.

Dit het van 18 366 rolle dubbellaag-toiletpapier tot 540 000 tandestokkies tot kaste en kaste vol drank behels.

   

3. Guptas se vliegtuig te koop

Vliegtuie was in 2020 dikwels die onderwerp van eienaardige stories.

Vroeër die jaar het dit op die lappe gekom dat die peperduur 2015-model-Bombardier Global 6000-vliegtuig wat aan die Guptas behoort het, te koop is.

Die vliegtuig kon egter weens die staat van inperking nie verkoop word nie. Dit staan steeds op die Lanseria-lughawe, wes van Johannesburg.

   

4. Gidshonde wat bank toe gaan

Absa het soveel vertroue in gidshonde dat hy ’n ooreenkoms met die Gidshondvereniging van Suid-Afrika aangegaan het om honde op te lei om hul eienaars te help om kitsbanke te gebruik.

Absa laat gidshonde oplei om hul eienaars by kitsbanke te help. Foto: Argief

Absa het ’n kitsbank by die Gidshondvereniging se hoofkantoor in Paulshof, Johannesburg, geïnstalleer, waar die honde opgelei word. Die honde kan geleer word om bankkaarte by die kliënt te neem en dit in die masjien te sit. Die hond kan ook weer die kaart uithaal, en dit vir sy/haar eienaar teruggee.

    

5. Baie dors diewe

Talle Suid-Afrikaners sou wát wou gee om gedurende die staat van inperking drank te kon koop. Ná twee maande van geen drankverkope nie, was diewe in Johannesburg so desperaat om dit in die hande te kry dat hulle ’n tonnel gegrawe het om toegang tot ’n Shoprite Liquorshop-winkel te kry.

Drie mans kan op die beeldmateriaal van die sekuriteitskamera in die winkel gesien word. Hulle het gedurende die nag na raming sowat R300 000 se drank, insluitende whisky, brandewyn, jenewer, sider, wodka en bier, gesteel.

  

6. Van skatryk tot stinkryk

Elon Musk is nou naas Bill Gates die wêreld se rykste man. Foto: Reuters

Miljoene mense oor die wêreld heen het hul werk verloor, of het ’n kleiner salaris verdien weens die Covid-19-pandemie.

Tog het ’n paar individue, wat nog voor die uitbreking van die pandemie van die rykste mense ter wêreld was, selfs nóg ryker geword.

Teen einde November was Elon Musk op een na die rykste mens in die wêreld nadat sy persoonlike rykdom dié van Bill Gates verbygesteek het.

Bloomberg reken Musk, uitvoerende hoof van Tesla en SpaceX, se netto batewaarde het in November met $7,2 miljard tot $127,9 miljard gestyg danksy Tesla se aandeelprys wat skerp gestyg het.

    

7. Ligswaard te koop

Die karakter Obi-Wan Kenobi van die Star Wars-fliekreeks se ligsabel word einde Desember opgeveil.

Stephen Lane, besturende direkteur van Prop Store, meen die ligsabel is tussen £80 000 en £120 000 werd.

Teen die huidige wisselkoers beteken dit enige Suid-Afrikaanse Padawan (’n leerling-Jedi), sal tussen R1,7 miljoen en R2,56 miljoen daarvoor moet uithaal.

In Mei 2019 is een van die pakke wat in 1979 vir die karakter Darth Vader gemaak is, ook opgeveil.

    

8. Baie duur paar tekkies

Michael Jordan se tekkies wat vir R10,3 miljoen opgeveil is. Foto: Sotheby’s

’n Paar van die legendariese basketbalspeler Michael Jordan se tekkies is in Mei vir ’n enorme $560 000 verkoop.

Dit was sowat R10,3 miljoen teen die wisselkoers in daardie stadium.

Dit is ook die meeste wat enige persoon tot nog toe vir ’n paar tekkies betaal het.

Die nr. 13- (links) en nr. 13½- (regs) Air Jordan 1-skoene is spesiaal vir die reus, wat 1,98 m in sy sokkies staan, gemaak toe hy vir die Chicago Bulls gespeel het.

    

9. Selfone op die maan

Die Amerikaanse ruimteagentskap Nasa het Nokia gekies om ’n selfoonnetwerk op die maan op te rig.

Die selfoonnetwerk is deel van Nasa se planne om teen 2024 na die maan terug te keer en om te begin om ’n permanente nedersetting daar te vestig as deel van sy Artemis-program.

Volgens Nokia sal die maan se eerste selfoonnetwerk laat in 2022 gebou word, dus voordat die ruimtevaarders daarheen terugkeer.

  

10. Enorme diamantring

Die Marigold-ring met meer as 12 000 diamante. Foto: Renani Jewels

In Desember het Guinness World Records aangekondig dat ’n diamantring met 12 638 diamante die wêreld se grootste diamantring is.

Die ring is deur die juwelier Harshit Bansal (25) van Renani Jewels in Nieu-Delhi, Indië, gemaak.

Bansal se The Marigold – The Ring of Prosperity – weeg sowat 165 gram. Dit bevat 38,08 karaat se diamante en lyk soos ’n gousblom.

Die ring is nie te koop nie.

Meer oor:  Gumtree  |  Suid-Afrikaanse Lugdiens  |  Sa Express  |  Guptas  |  Whiskey  |  Toiletpapier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.