Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Durban: Hawe sal weer topklas word, meen Cyril

Wanneer ’n hawe soos dié van Durban nie behoorlik funksioneer nie, ly die hele Suid-Afrikaanse ekonomie daaronder – van die invoerders tot die uitvoerders en selfs die verbruiker, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Die president sê in sy jongste nuusbrief hoewel daar nog baie harde werk voorlê, is hy dankbaar om te sien daar word vordering gemaak om dié hawe weer een van wêreldgehalte te maak.

Durban was baie lank die besigste hawe in Afrika, maar het die laaste paar jaar teruggesak tot die derde besigste hawe.

Die Durbanse hawe. Foto: Argief

Tangier in Marokko en Port Said in Egipte is nou die twee besigste hawens in Afrika.

Daar was die laaste paar jaar baie klagtes van plaaslike maatskappye, die landbousektor en in- en uitvoerders oor die Durbanse hawe. Skeepsmaatskappye het gekla oor die opeenhoping van vragmotors en die lang tye wat skepe moes wag, vertragings met die vasmeer van skepe, die lang tye wat skepe op anker moes lê, die swak onderhoud van toerusting en lae produktiwiteit.

“As die hawe (Durban) behoorlik funksioneer, kan dit ekonomiese groei aanhelp en ’n poort na die streek en die vasteland wees,” skryf Ramaphosa.

“Hoewel daar groot vordering gemaak is, is baie werk nog nodig om Durban ’n hawe van wêreldgehalte en een van die belangrikste hawens in die Suidelike Halfrond te maak.”

Ramaphosa het die hawe verlede week besoek om hom te vergewis van die vordering wat gemaak is.

Hy sê daar is – ondanks die Covid-19-pandemie – in die laaste jaar inderdaad heelwat verbeteringe. Die hawe is nou meer doeltreffend en mededingend.

Daar was ’n verbetering in die onderhoud van toerusting, opeenhopings het afgeneem en skepe bring nou ’n korter tyd in die hawe deur. Meer vrag word ook per spoor vervoer as padlangs.

As die hawe (Durban) behoorlik funksioneer, kan dit ekonomiese groei aanhelp en ’n poort na die streek en die vasteland wees.

Vragmotors beweeg nou vinniger in en uit die hawe en die betroubaarheid van vraghanteringstoerusting het tot 80% verbeter en is vinnig op pad na die wêreld se maatstaf van 95%.

Die tye wat skepe wag om gehelp te word, het baie verbeter.

“Dié statistieke klink dalk tegnies en onbelangrik, maar dit het ’n regstreekse invloed op die groei van ons ekonomie en die pryse wat verbruikers vir goedere moet betaal.”

Ramaphosa sê met die regering se Operasie Vulindlela word gefokus op die verbetering van die doeltreffendheid van die land se hawens en die heropbou van Transnet.

Die nuwe bestuur van Transnet en sy operasionele afdeling is onverskrokke besig om daarop te fokus om die Durbanse hawe reg te ruk.

Planne word beraam om al vyf die hawe se ingeslote ruimtes uit te brei. Die Maydon-kaai sal dieper gemaak word om groot en moderne skepe die hawe te laat gebruik.

Landingshoofde 1 en 2 se kapasiteit om meer vraghouers te kan hanteer, sal uitgebrei word. ’n Nuwe vraghouerterminaal by die Punt-gebied sal ontwikkel word.

Hoewel daar groot vordering gemaak is, is baie werk nog nodig om Durban as ’n hawe van wêreldgehalte en een van die belangrikste hawens in die Suidelike Halfrond te maak.

Die president sê R100 miljard se beleggings oor die volgende tien jaar en meer is nodig om die hawe-infrastruktuur te verbeter en te omskep.

Dit sal die hawe in staat stel om tot 11 miljoen – pleks van die huidige 2,9 miljoen – vraghouers te kan hanteer.

Om dit reg te kry, sal die private sektor en die staat hande moet vat.

Die private sektor se beleggings, tegnologie en kundigheid met die bestuur van hawens is nodig om die toerusting en infrastruktuur te moderniseer.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Durban  |  Hawe  |  Operasie Vulindlela  |  Ekonomie  |  Invoerders  |  Durban-Hawe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.