Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Ramp wag ‘soos in 1996’ oor pakkette vir amptenare

Die regering se plan om van 30 000 ouer staatsamptenare ontslae te raak met ’n wortel kan ’n lat vir Suid-Afrika word soortgelyk aan die 1996-vaardigheidskrisis wat ontstaan het toe staatsamptenare in massas pakkette aanvaar het.

So waarsku vakbondleiers en ekonome. Hulle sê die staatsdiens kan selfs ondoeltreffender wees ná die pakket-projek.

“As personeelvermindering geskied bloot om salarisse te bespaar, is dit soos om jou bene af te sny as jy gewig wil verloor,” sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

Tito Mboweni, minister van finansies, het die afgelope week in sy begrotingsrede die vervroegde-aftrede-pakkette aangekondig om die staatsdiens se salarisrekening te besnoei.

Volgens hom gaan dit die land R4,8 miljard bespaar in 2019-’20, R7,5 miljard in 2020-’21 en R8 miljard in 2021-’22. Op ’n mediakonferensie is gesê tussen 25 000 en 30 000 mense tussen die ouderdomme van 55 en 59 sal geraak word.

Du Plessis sê egter wanneer jy mense van dié ouderdom laat gaan, verloor jy doeltreffendheid en kennisoordrag wat nodig is om doeltreffendheid in die toekoms te verseker.

Du Plessis sê die pakket-projek van 1996 was wel belangrik om die rassesamestelling van staatsdepartemente meer verteenwoordigend te maak, maar vandag se probleme met ondoeltreffende munisipale regerings kan tot daar herlei word.

Die proses het die vinnigste plaasgevind in munisipale regerings en in die weermag. “Albei se doeltreffendheid het gevolglik gedaal.”

In sommige gevalle wou die regering juis nie ontslae raak van ervare personeel nie, maar om die rassesamestelling dan meer verteenwoordigend te maak, is ekstra poste geskep, wat die staatsdiens vergroot het.

Baie van die staatsamptenare wat pakkette aanvaar het, het hul eie ondernemings begin en die werk op kontrakgrondslag vir die departement aanhou doen, wat die regering meer gekos het.

In sommige gevalle wou die regering juis nie ontslae raak van ervare personeel nie, maar om die rassesamestelling dan meer verteenwoordigend te maak, is ekstra poste geskep, wat die staatsdiens vergroot het.

Du Plessis sê as daar meer doeltreffende bestuur was en nie ’n verdraagsaamheid vir korrupsie nie, sou die probleem van ’n oorgroot staatsdiens nie so groot gewees het nie. “Die probleem is dat nog mense aangestel is omdat die wat daar is nie doeltreffend is nie.”

Du Plessis sê die Staatsdienskommissie het juis die afgelope week met die vakbonde vergader en die klem was op die swak diens van staatsamptenare.

“Almal is dit eens dat daar swak diens is. Dit help nie jy pak dit nie aan nie.”

Hy sê die regering moet eers besluit hoeveel staatsdepartemente nodig is en ’n vaardigheidsoudit doen om te bepaal waar daar te veel en te min personeel is.

soustreine

Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za, sê die salarisrekening moet wel besnoei word, maar hy is bekommerd mense met ervaring kom in die visier.

Ook hy verwys na die 1996-proses.

“Daar was bewese probleme waar daar vinnig van mense ontslae geraak is.

“Mense tussen die ouderdom van 55 en 59 is dalk nie fisiek die hardwerkendste mense nie, maar hulle is verstandelik die mees ervare. In laerskole sal jy byvoorbeeld dikwels sien dat die ouer onderwysers die probleemkinders hanteer, want hulle het die verstandelike ervaring daarvoor.

“Net so het jy wysheid nodig as jy ’n goeie regter wil wees.

“ ’n Goeie polisieman soos Piet Byleveld kon sake oplos omdat hy ’n goeie instink gehad het. Daardie soort instink kry jy eers nadat jy al ’n ruk gewerk het.”

Ivan Fredericks, hoofbestuurder van die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), sê die vereniging respekteer die kundigheid van ouer mense. “En die president en die minister respekteer dit ook. Dis hoekom daar soveel oues van dae in die parlement sit. Ons sit met ’n parlement vol oumense. Hoekom gaan hulle nie self nie? Ons sal volg . . . so tien jaar later.”

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê volgens hul berekeninge is tot soveel as 20% van die onderwysers ouer as 55, berig Landi Slatter. Hul gemiddelde ouderdom is 49.

Basil Manuel, hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, sê die jong onderwysers wat pas gegradueer het, het boekekennis, maar het die kennis van die ervare onderwysers nodig.

Syfers in die mediumtermynbegroting wat in Oktober gelewer is, wys dat die getal staatsamptenare in provinsiale regerings tussen 2012 en 2018 met sowat 17 600 verminder het tot sowat 1,3 miljoen poste.

Dit is nog onduidelik waar presies die poste verminder gaan word en Ayanda Dlodlo, minister van staatsdiens en administrasie, gaan na verwagting in die komende week ’n aankondiging daaroor doen.

In die begroting word sowat 3 000 poste wat op nasionale vlak verminder kan word, geïdentifiseer. 1 000 hiervan is in die polisie, 900 in die departemente van verdediging en militêre veterane en 421 by korrektiewe dienste.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.