Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rampspoed wink vir SA ekonomie, verbruikers
Protesoptrede ­Vrydag buite die parlement in Kaapstad teen pres. Jacob Zuma se afdanking van die minister van finansies. Foto: Reuters

Ná Donderdagnag se aanslag op die tesourie is die kans “een uit vyf” dat Suid-Afrika op ’n glybaan na ekonomiese ondergang sal beland, wat sal insluit ’n rand wat tuimel, hoër rentekoerse, inflasieskokke en selfs die risiko om as staat te misluk.

Dié riller-waarskuwing kom uit die mond van Annabel Bishop, ’n ekonoom van die wêreldwyd gerekende bank ­Investec.

Soos ’n koor by ’n dodemars het analiste, banke en die land se wipwa-sat maatskappybase Vrydag een vernietigende gevolg ná die ander voorspel van pres. Jacob Zuma se veldtog teen Pravin Gordhan, Mcebisi Jonas, en die onafhanklikheid van die kritiek belangrike tesourie.

Die rand het hul sentimente geëggo deur in ’n stadium Vrydag tot R13,62 teen die dollar te verswak nadat die geldeenheid dit toe pas reggekry het om een van die bes presterende geldeenhede uit ’n ontluikende mark te word.

Allerweë is gemaan rommelstatus is nou séker. En die gewone Suid-Afrikaner sal die rekening betaal.

Lank laas het die sakewêreld so verenig oor ’n politieke kwessie.

Jabu Mabuza van die CEO Initiative sê hulle is woedend en beraadslaag nou oor “volgende stappe”.

Die ver-swakking in die rand skakel enige hoop op laer rentekoerse uit.
Rian le Roux, ekonoom

André Venter, woordvoerder van die vakbond Uasa, dreig om ’n massa-mobiliseringsveldtog te organiseer om Zuma se “roekelose leierskap” stop te sit.

En prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en bestuurswetenskappe aan Wits, sê die noodwendige afgradering, wat binne dae kan kom, “sal ons almal armer maak”.

Mark Appleton van Ashburton Investments sê die aanstelling van Malusi Gigaba as nuwe minister van finansies, en Sfiso Buthelezi as sy adjunk, veroorsaak “aansienlike onsekerheid” oor die land se fiskale vooruitsig.

Rossouw en Appleton glo albei ’n afgradering kan vinnig kom, wat dit duurder vir die land sal maak om geld in die buiteland te leen.

Moody’s, wat Suid-Afrika se soewereine skuld op twee vlakke bo rommelstatus gradeer, moet volgende week reeds Suid-Afrika se kredietgradering hersien.

Só verloor JSE markwaarde
  • Met die afdanking in Desember 2015 van Nhlanhla Nene as minister van finansies het die JSE ’n geraamde R500 miljard in waarde verloor.
  • Tydens die Valke se veldtog teen Gordhan verlede jaar, het die finansiële joernalis Alec Hogg geraam dat bankaandele met sowat R60 miljard in waarde geval het.
  • Vrydag se dalings word op sowat R86 miljard bereken. Veral Nedbank en Standard Bank het teen marksluiting die grootste verliese vir die dag getoon.

Sowel Standard & Poor’s (S&P) as Fitch pen Suid-Afrika se kredietgradering vas op die laagste beleggingsgraad, net bokant rommel. Al drie graderingsagentskappe het die land op ’n negatiewe vooruitsig geplaas.

Die ramp het begin ontvou toe Gor­dhan Sondagaand teruggeroep is van ’n beleggingstoer na Brittanje en Jonas verbied is om na Amerika te vertrek.

Geen komplot

Gordhan het Vrydag gesê hulle het darem in Londen vergader met sowat 50 beleggers wat saam $5 000 miljard se fondse bestuur.

Hy het benadruk die toer is standaardpraktyk ná die begrotingsrede – en nie ’n komplot om die regering omver te werp soos Zuma weens ’n versinde intelligensieverslag glo nie.

Die week se drama het ook gelei tot die grootste daling in sewe maande in staatseffekte. Die toonaangewende staatseffekte wat in Desember 2026 betaalbaar is, moet nou teen ’n hoër koers vergoed, en die opbrengs het teen Vrydag met 36 basispunte tot 8,86% gestyg.

Bishop het in ’n nota gewaarsku die kans vir ’n “slegte ekonomiese scenario” in Suid-Afrika staan volgens hulle nou op 35%, terwyl die kans op ’n “uiters slegte scenario” 19% is – bykans een uit vyf.

In dié verskillende scenario’s kan die rand tot R17,26 tot die dollar versleg teen die vierde kwartaal, en kan die repokoers van 7% tot 8,5% styg.

Dit kan saamval met beurtkrag, inflasieskokke en stakings.

Uitgestoot . . . Mcebisi Jonas, die tesourie se voormalige adjunkminister, en oud­finansminister Pravin Gordhan. Foto: Felix Dlangamandla

Weens toekomsvrese soos dié is skerp kritiek teen Zuma se besluit ook gelewer deur die Nelson Mandelabaai-sakekamer in Port Elizabeth, die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa), die Kamer van Mynwese en Business Leadership South Africa.

Cas Coovadia, besturende direkteur van Basa, sê die skokke ondermyn die “goeie vordering” wat die afgelope 18 maande gemaak is om vertroue in die land te herstel en ’n afgradering te ­vermy.

“ ’n Afgradering sal ernstige gevolge hê vir die banke en die sakesektor in die algemeen. Dit sal ook ons gesamentlike vermoë om maatskaplike programme te finansier, ondermyn. Dit sal die armstes van die armes die ergste raak.”

Openlike aanval

Peter Attard Montalto van Nomura sien die nuwe aanstellings as ’n openlike aanval op die tesourie om mense wat konserwatief is en korrupsie beveg te vervang met Zuma-lojaliste.

“Die aanval op die instansie van die tesourie sal tot verskeie afgraderings lei. Ons is besorg oor die tesourie se rol in verkryging, om korrupsie te verhoed en sy toesigrol oor staatsbeheerde entiteite soos kernkrag en die bankwese.”

Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool sê daar is vrese dat fiskale eerlikheid ’n slagoffer kan word van politieke faksiegevegte. 

Die onus is op Gigaba en Buthelezi om die vertroue van buitelandse en plaaslike beleggers te wen...
Prof. Raymond Parsons

“Die onus is op Gigaba en Buthelezi om die vertroue van buitelandse en plaaslike beleggers te wen deur beleid te volg wat duidelik, eties, konsekwent en groeigerig is.”

Vergeet van laer rentekoers

Rian le Roux, hoofekonoom van die Old Mutual Investment Group, verwag aansienlike wisselvalligheid in die ­markte.

“Die verswakking in die rand skakel enige hoop op laer rentekoerse uit – iets wat die laaste paar maande al hoe meer in die vooruitsig gestel is.

“Hoewel beter eksterne asook landboutoestande ekonomiese herstel in die komende maande sal ondersteun, kan die land ’n verdere insinking in private belegging verwag, wat die ondersteunende faktore kan teëwerk,” sê Le Roux.

Ook die Automobiel-Assosiasie is omgekrap, aangesien ’n swakker rand weldra vervoerkostes vir gewone, arm ­mense opjaag.

Sean Ashton, beleggingshoof van ­Anchor Capital, beskryf Zuma se optrede as katastrofies. “Die rand het reeds verswak, maar dit kan erger word. Banke, kleinhandelaars en die genoteerde eiendomsektor se aandeelprys kan onder baie druk kom.”

Appleton sê hulle handhaaf ’n langtermynsiening dat daar plaaslik en internasionaal gebeure is wat risiko’s inhou. Hierdie is so ’n gebeurtenis.

Hulle soek steeds na geleenthede, maar hou nie daarvan om in tye van ­uitsonderlike onvoorspelbaarheid te ­belê nie.

Wayne McCurrie, ’n portefeuljebestuurder by Ashburton Investments, sê enige maatskappy wat die grootste deel van sy sake in Suid-Afrika het en afhanklik is van die plaaslike ekonomie, sal swaarkry. Maatskappye met heelwat oorsese belange, sal goed doen in die lig van die swakker rand.

Meer oor:  Cas Coovadia  |  Pravin Gordhan  |  Jabu Mabuza  |  Kabinetskommeling  |  Wisselkoers  |  Dollar  |  Ekonomie  |  Rand  |  Markte  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.