Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand 10c swakker ná aanval op olie-aanleg

Die aanval op die wêreld se grootste olie-aanleg in Saoedi-Arabië het Maandag ’n impak van ongeveer 10c op die rand-dollar-wisselkoers gehad.

Sá het die Brent-ruolieprys Maandagoggend gespring. Die grafiek is van Iress oor die afgelope vyf dae.

Die rand het Vrydag op R14,57 gesluit en Maandagoggend op R14,70 geopen. Dit het later die middag op R14,67 verhandel.

Siobhan Redford, ’n ekonoom van RMB, sê in ’n nuusbrief die aanval en enige vergelding sal markte wisselvallig maak en lei tot risikovermyding wat opkomende markte se wisselkoers en aandeelmarkte kan aftrek.

Michelle Wohlberg, vasterente-ontleder van RMB, sê riskante bates is op die agtervoet ná die aanval met hommeltuie op die aanleg in Saoedi-Arabië.

Die Brent-ruolieprys was laatmiddag steeds 10% hoër op $66,36 per vat.

Die aanval het die helfte van die land se olieproduksie uitgewis. Dit is gelykstaande aan 5% van die internasionale olieproduksie.

Die aanleg behoort aan Saudi Aramco wat van plan was om binnekort ’n aanvanklike aanbod aan die publiek te maak. Dit word deur ’n notering gevolg.

Die onderneming het Saterdag in ’n verklaring op sy webtuiste gesê die brande by sy aanlegte in Abqaiq en Khurais wat spruit uit “terroristeaanvalle” is onder beheer. “Die aanvalle het gelei tot die opskorting van die produksie van 5,7 miljoen vate Brent-ruolie per dag.”

Vestact sê in ’n nuusbrief die aanval klink soos iets uit ’n wetenskapfiksie-fliek. Volgens die portefeuljebestuurders is die olieprys gedeeltelik hoër omdat die risiko dat nog ’n aanval kan voorkom, nou deur handelaars ingeprys word.

Annabel Bishop, ekonoom van Investec, sê die rand het tot ’n mate verswak as gevolg van die styging in die olieprys.

Die rand het ook van die sluitingsprys van Vrydag teenoor die euro en pond verswak.

“Die verswakking is veroorsaak deur die sprong in die olieprys weens die aanvalle op die olie-aanlegte.”

Volgens Bishop is die styging in die olieprys sleg vir Suid-Afrika omdat die land olie moet invoer. Dit is veral sleg vanuit die oogpunt van inflasie indien die olieprys op dié vlak bly.

“Die styging in die olieprys weens die konflik het gevolg net toe die prys begin daal het as gevolg van vrese vir ’n dalende vraag weens die verlangsaming in die ekonomiese groei internasionaal.”

Sy meen die rand gaan vandeesmaand wisselvallig bly.

Volgens Bishop en Redford is die fokus ook vandeesweek op die besluit deur die Reserwebank oor die rentekoers.

Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee neem ook die olieprys in sy besluit in ag omdat dit Suid-Afrika se grootste invoerproduk is.

Na verwagting gaan die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee ook die besluit van die Amerikaanse Federale Reserweraad oor sy rentekoerse stip dophou. Dié aankondiging vind Woensdagnag Suid-Afrikaanse tyd plaas.

Die finansiële markte verwag daar is ’n 99,6%-kans vir ’n 25 basispunte verlaging in dié land se rentekoerse vandeesweek.

“Die markte se verwagting van ’n verdere verlaging in Amerika se rentekoerse gaan waarskynlik die rand in ’n betekenisvolle mate versterk, veral gegewe die verswakking van Vrydag af wat nie besonder wesenlik is vergeleke met vorige bewegings nie,” sê Bishop.

Meer oor:  Rand  |  Markte  |  Dollar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.