Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand 4,7% swakker, JSE daal 3% afgelope week

Die rand het sy slegste week in meer as vyf maande agter die rug ná Amerika se Federale Reserweraad se aankondiging dat rentekoerse daar vinniger gaan verhoog as wat voorheen gesê is.

rand, dollar
Die rand het die afgelope week weer bo R14 verswak. Foto: Reuters

Die rand het met 64c van sy sluiting verlede Vrydag van R13,70 tot R14,34 verswak.

Dit kom ná drie weke wat die rand deurlopend versterk het.

Die Fed verwag nou rentekoersverhogings in 2023, wat ’n jaar vroeër is as wat voorheen gesê is weens die kommer oor inflasie in Amerika.

Die Fed het ook aangedui daar word begin met gesprekke oor die moontlikheid om die stimulus af te skaal wat verlede jaar begin is om die impak van die pandemie te versag.

André Cilliers, valutastrateeg van TreasuryONE, sê dit het tot ’n sterker dollar en ’n korreksie in hulpbronpryse gelei.

Deon Kohlmeyer, ’n ontleder van RMB, sê in ’n nuusbrief die sterker dollar, laer hulpbronpryse en die verergerende derde vlaag van die virus in Suid-Afrika het alles druk op die rand geplaas.

Reuters berig die aanloklikheid van opkomende markte se geldeenhede vir die drahandel – waar beleggers geld goedkoop in een geldeenheid leen om bates in ’n ander geldeenheid te koop waar opbrengste hoër is – het afgeneem.

Die drahandel het vanjaar tesame met gunstige hulpbronpryse die rand een van die beste geldeenhede in opkomende markte gemaak.

Stanlib sê in ’n markverslag die JSE het gedaal omdat beleggers bekommerd is oor die negatiewe siening van die Fed wat die invloei van geld na opkomende markte se aandele gaan beperk.

Die indeks van alle aandele van die JSE het die week op 3% of meer as 2 000 punte laer op 65 635 indekspunte afgesluit. Dit is sy laagste sluitingsvlak in amper drie maande.

Dit beteken die mark het van sy jongste rekordhoogte van 69 049 waarop hy op 2 Junie gesluit het, al met 5% gedaal.

Veral myn- en bankaandele het skerp gedaal.

Die indeks van mynaandele het met 7% gedaal, terwyl die indeks van finansiële aandele met 4% gedaal het.

Iress toon die afgelope week het Gold Fields 11%, Anglo American 10%, Sasol 9%, AngloGold Ashanti 7,5%, Glencore 7%, Sibanye Stillwater 7%, Anglo American Platinum 6%, Impala 5%, BHP 4%, Absa 9%, Standard Bank 7%, Discovery 6%, FirstRand 5%, Old Mutual 5%, Capitec 4% en Sanlam 3% gedaal.

Vandeesweek word die groot ekonomieë se PMI-peilings vir Junie bekend gemaak wat toon hoe bestellings en produksie op die oomblik lyk.

Vrydag reik Amerika sy belangrike maatstaf vir inflasie uit.

Suid-Afrika reik ook Woensdag sy verbruikersprysinflasiesyfers vir April uit.

Meer oor:  Rand  |  Dollar  |  Geldeenheid  |  Pond  |  Euro  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.