Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand, aandele versterk nadat Fed mark verras

Die rand het Woensdagmiddag met amper 1% versterk vanaf die R14,20 teenoor die dollar waarteen dit vroegoggend nog verhandel het.

rand, geld, ekonomie
Die rand het Woensdag weer teen die dollar begin versterk. Foto: Elvira Wood

Net voor 16:00 het die rand op R14,05 gestaan. Dit het Dinsdagaand op R14,18 gesluit.

Dit kom nadat Jerome Powell, hoof van Amerika se sentrale bank, die Federale Reserweraad (Fed), onverwags voor die kongres getuig het dat die Fed nou meer geneë is om rentekoerse te verlaag, sê Bianca Botes, ’n vennoot van Peregrine Treasury Solutions.

“Ons glo dit is waarskynlik dat die rand nou weer na R14 mik omdat die dollar onder hernude druk kom,” sê Botes in ’n verklaring.

Ook aandeelpryse op die JSE het sterk gestyg. Die indeks van top-40 aandele was goed op pad na sy sterkste lopie sedert 7 Junie volgens Iress-data. Teen 16:30 was die indeks 1,4% hoër op 51 618 punte.

Gold Fields het die sterkste gestyg (4%); gevolg deur Aspen (3,4%); The Foschini Group (TFG) en die Mr Price-groep (albei met 2,8%); Naspers (2,5%) en Clicks (2,6%).

Net vier aandele was laer, en dit was meestal maatskappye wat hul winste oorsee verdien.

dollar
dollar

Die JSE se indeks van alle aandele het met 1,3% gestyg.

Per Hammarlund, hoofstrateeg van opkomende markte van SEB, het vroeër Woensdag aan Reuters gesê dit is nie heeltemal duidelik hoeveel opkomende markte se geldeenhede verwagtinge oor ’n rentekoersverlaging ingeprys het nie.

“Indien Powell nie markverwagtinge verander oor ’n rentekoersverlaging in Julie nie, gaan die reaksie betreklik klein wees vir opkomende markte.

“As hy die verwagtinge wil temper, gaan dié markte se geldeenhede verswak.”

Sterk arbeidsyfers wat verlede week uitgereik is, het verwagtinge vir ’n 50 basispunt-rentekoersdaling verminder, maar die meeste beleggers het reeds ’n rentekoersverlaging van 25 basispunte ingeprys.

Die enigste ander groot nuus waarop die mark wag, is Tito Mboweni, minister van finansies, se toespraak in die nasionale tesourie se begrotingspos-debat Donderdagaand.

CNN Business berig Powell het sterk aanduidings gegee van ’n potensiële rentekoersverlaging later vandeesmaand, met sy redes die onopgeloste spanning oor handel en kommer oor die swak vooruitsigte vir die wêreldekonomie.

Die rand het laatmiddag met sowat 7c teenoor sowel die pond as die euro versterk.

Die rand het Dinsdagmiddag op R17,67 teenoor die pond gesluit en teen Woensdag laatmiddag was dit op R17,59.

Teenoor die euro was dit laatmiddag op R15,82, teenoor die Dinsdagsluiting van R15,89.

Powell se getuienis is een van twee verskynings wat hy die week in die Amerikaanse kongres maak te midde van die druk wat pres. Donald Trump op die Fed probeer plaas om rentekoerse te verlaag.

Hy gaan Donderdag voor die senaat se komitee oor bankwese verskyn en het Woensdag voor die komitee oor finansiële dienste verskyn.

Yahoo News berig die S&P 500 het vir die eerste keer die vlak van 3 000 punte verbygesteek en was Woensdag laatmiddag Suid-Afrikaanse tyd op 3 002 punte.

Meer oor:  Federale Reserweraad  |  Jerome Powell  |  Dollar  |  Aandeelpryse  |  Wisselkoers  |  Rand  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.