Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand herwin veld ná vloermoer op wêreld se markte

Die rand het Vrydag teen teetyd reeds 34c teruggewen van die 51c wat hy Donderdag teen die dollar verloor het.

File photo of stacks of money
Baie stormwinde het vandeesweek rondom die rand gewoed, nie net die begroting wat Woensdag aangekondig is nie. Foto: iStock

Teen 11:00 was ’n rand R14,85 werd.

Die rand, een van die mees likiede geldeenhede onder ontluikende lande, is volgens André Cilliers, valutastrateeg van TreasuryOne, die swaarste getref toe institusionele beleggers hulle op ’n streep aan ontluikende markte onttrek het.

Bloomberg skryf dit toe aan ’n skerp styging in opbrengskoerse van Amerikaanse staatseffekte wat vergelyk word met die sogenaamde taper tantrum van 2013.

Dit was toe daar ’n skerp styging in opbrengskoerse was nadat die Federale Reserweraad (Fed) aangekondig het hy gaan in die toekoms sy beleid van kwantitatiewe verruiming geleidelik afskaal (taper).

Kwantitatiewe verruiming verwys na wanneer die sentrale bank op die oop mark langtermyneffekte koop as ’n manier om geld by die ekonomie in te pomp en banke se kontantvloei te help.

Dié keer was daar egter geen werklike aanduiding dat die Fed kwantitatiewe verruiming gaan afskaal of rentekoerse gaan verhoog nie.

Nietemin het aandeelpryse en geldeenhede van ontluikende lande die afgelope twee dae skerp gedaal soos federale opbrengskoerse tot die hoogste vlak in meer as ’n jaar (1,6%) opgeskiet het.

Die rand het met meer as 3% verswak.

Alvin Tan van RBC Capital Markets in Hongkong het aan Bloomberg gesê dit lyk asof die mark ’n taper tantrum verwag, ongeag wat die Fed sê. Hy beskou die rand onder die kwesbaarste geldeenhede, tesame met Indonesië se roepia, die Turkse lira en Brasiliaanse reaal.

Die swakker rand skep risiko’s vir inflasie en daarom ook vir rentekoerse.

Mitul Kotecha van TD Securities in Singapoer reken kapitaalvlug uit ontluikende lande sal nie dié keer so erg soos in 2013 wees nie.

“Die Fed is nie naby afskaal of hoër rentekoerse nie, en uiteindelik behoort dit die senuwees te laat kalmeer.”

Cilliers sê die rand is ook swaarder getref omdat die mark nie van Tito Mboweni, minister van finansies, se begroting gehou het nie.

Nema Ramkhelawan-Bhana van RMB sê aan die einde van enige maand is markte gewoonlik wisselvalliger, wat ook ’n faktor was. Markte is egter uiters senuagtig op die oomblik. Sy voorsien wel dat dinge gaan stabiliseer, maar dat die rand nog ’n paar dae kwesbaar sal bly.

Die vloermoer op markte het ook hulpbronpryse laat daal. Goud was teen 11:00 1,1% laer vir die dag op $1 767,60 per fynons, en platinum was 2,3% laer op $1 213,45.

Aandelebeurse in Asië het Vrydag verder gedaal en die JSE se indeks van alle aandele was teen 11:00 1,6% laer, maar steeds naby rekordvlakke op 66 417 punte.

Meer oor:  Federale Reserweraad  |  Fed  |  Rand  |  Dollar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.