Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand markeer die pas voor stemdag

Net ’n dag voor Suid-Afrika se algemene verkiesing is die spanning tussen die VSA en China oor handelstariewe die belangrikste faktor wat die rand roer.

Die rand kan tot R13 teenoor die dollar versterk of tot R19 per dollar verswak - alles na gelang van Woensdag se verkiesingsuitslag.

Die rand het deur die loop van die dag heelwat in ’n band tussen R14,40 en R14,52 teenoor die dollar geskommel. Dis teenoor Maandag se swakste vlak van R14,58. Teen 16:00 was ’n dollar nagenoeg R14,45 werd.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, reken dat die rand Dinsdag effens steun gekry het van die jongste Ipsos-peiling, wat daarop dui dat ’n stewige persentasie kiesers Woensdag hul kruisies gaan trek.

In die 2016- munisipale verkiesing het duisende ontnugterde Suid-Afrikaners van die stemlokale weggebly, en dit was veral die ANC wat só stemme verloor het.

Met ’n stewige opkoms by die stembus sal die ANC na verwagting ’n oorwinning van meer as 55% behaal. Die mark sal dit as positief bestempel, is vroeër berig.

Lees ook: Mark wed op ANC-golf

Investec se scenario-ontleding oor die impak van die uitslag op die verkiesing dui nou op ’n 42%-kans vir sy sogenaamde basislyn-uitkoms.

Volgens dié basislyn-uitkoms behoort die rand dié kwartaal tot selfs R13 teenoor die dollar en tot R10,40 teen die einde van die jaar te versterk.

Die uitkoms kan ook meebring dat ekonomiese groei tot 2% in 2020 en 3% teen 2024 versnel. Daarvolgens sal die beleid van grondonteiening sonder vergoeding, met die fokus op ongebruikte staatsgrond en die landbou, baie beperk in werking gestel word.

Die 42%-kans is laer as Investec se vorige ontleding toe dit op 45% geraam is.

Die kans op ’n swakker uitkoms styg van 35% tot 37%. Daarvolgens sal die rand dadelik tot R15 per dollar verswak en dit kan teen die begin van 2020 selfs R19,50 tref.

Bishop beaam wat ander ekonome vroeër gesê het, naamlik dat ’n goeie ANC-oorwinning die rand kan laat versterk. Sy waarsku egter dat geduld nodig sal wees, want dit kan lank duur voordat so ’n oorwinning voordele vir die ekonomie meebring. “Die herstel en verbetering van korporatiewe beheer in regeringsinstellings is ook nodig.”

Ontleders verwag die res van die week ’n mate van onsekerheid in die markte. Die amptelike verkiesingsuitslae word eers Saterdag verwag.

Wat internasionale faktore betref, sê André Botha, senior valutahandelaar van TreasuryOne, is die handelsoorlog tussen die VSA en China soos ’n “sepie”. Pres. Donald Trump het Maandag getwiet dat die VSA $500 miljard per jaar aan China verloor.

Dis ’n verwysing na die handelstekort wat die VSA met China het, en ekonome was gou om hom oor die vingers te tik. ’n Handelstekort is bloot die verskil tussen hoeveel ’n land in- en uitvoer en beteken nie geld gaan “verlore” nie. Die VSA se handelstekort met China was in 2018 $400 miljard.

’n Chinese afvaardiging is Donderdag in Washington om oor wedersydse invoertariewe te onderhandel. Trump dreig om Vrydag drakoniese invoertariewe in te stel op die meeste goedere wat die VSA vanuit China inkom.

Meer oor:  Rand  |  Markte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.