Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand op beste vlakke in maande

Die moontlikheid dat ’n dollar jou binnekort minder as R14 gaan kos, ’n pond minder as R18 en ’n euro minder as R16, lyk vir die eerste keer in maande haalbaar.

’n Dollar sou jou Donderdagoggend vroeg R14,23 kos.

Die rand het die afgelope week al met ’n verstommende 4,4% teenoor die dollar versterk.

Verskeie ontleders is ná die nuuskonferensie van Jerome Powell, voorsitter van die Federale Reserweraad (Fed), Woensdagaand optimisties dat die rand selfs verder gaan versterk.

Die rand het Woensdagaand in New York 22c tot R14,30 veld gewen nadat die Fed aangekondig het hy hou die Amerikaanse rentekoerse onveranderd, maar het Donderdag ná middagete nóg 10c tot selfs R14,20 per dollar versterk. Die rand het laas op 17 April (twee maande gelede) onder R14 per dollar in New York gesluit.

’n Versterking tot onder R18 per pond lyk selfs nader, met die rand vroegmiddag so sterk as R18,04. Dit het laas op 12 Februarie (vier maande gelede) onder dié vlak gesluit.

Teenoor die euro het die rand in ’n stadium slegs 5c gekort om die vlak van R16 te haal. Dis op 16 Mei (’n maand gelede) laas gehaal.

Dis nie die aankondiging dat die rentekoers onveranderd bly wat die rand laat versterk het nie, maar die baie gematigde toon van Powell se nuuskonferensie. Hy het dit baie duidelik laat blyk dat die Fed binnekort die rentekoers sal verlaag, mits die Amerikaanse ekonomie aanhou groei.

Die Fed se opemarkkomitee, wat agt keer per jaar vergader, besluit weer einde Julie oor die rentekoers. 50% van ontleders reken nou dat die rentekoers dan verlaag sal word.

Die aankondiging op 31 Julie is egter een van dié sonder ’n nuuskonferensie en ’n bygeloof volhard dat die Fed nie sommer die rentekoers verander sonder ’n nuuskonferensie om sy besluit te verduidelik nie.

Die monetêrebeleidskomitee van die Suid-Afrikaanse Reserwebank besluit weer op 18 Julie oor plaaslike rentekoerse en heelwat ontleders verwag ook ’n rentekoersverlaging.

LEES OOK: Rentekoers dalk reeds in Julie verlaag

Benewens duiwe wat die botoon voer by sentrale banke, is pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede die grootste risiko vir die rand oor die volgende paar dae.

Volgens RMB se oggendmarkverslag gaan die staatsrede gefynkam word vir tekens dat Ramaphosa ná die verkiesing genoeg mag gemonster het om broodnodige hervorming deur te voer.

Die mark wil ook besonderhede en tydlyne hoor, eerder as vae planne.

LEES OOK: Dís wat ekonome al 3 jaar lank by Cyril wil hoor

André Botha, senior verhandelaar by TreasuryOne, sê benewens omkeerplanne vir die ekonomie hoop markte dat Ramaphosa helderheid gaan gee oor hoe die situasie by beleërde staatsondernemings beredder gaan word. Eskom het die grootste skuldlas, maar die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie is ook op die rand van ineenstorting.

Reuters berig dat die staatsrede dalk die laaste kans vir Suid-Afrika is om sy kredietgradering op beleggingsgraad by Moody’s Investors Service te behou.

In ander nuus op die markte is daar oënskynlik geen keer aan die goudprys nie. Die edelmetaal het al by $1 386,16 per fynons gedraai, die hoogste vlak sedert begin 2018.

Botha wys daarop dat dit eintlik teenstrydig is dat goud, ’n sogenaamde veilige hawe in onsekere tye, versterk terwyl die dollar, nog ’n veilige hawe, verswak. Terselfdertyd versterk ontluikende geldeenhede, wat juis risikobates is.

“Die mark voel ’n bietjie ongebalanseerd, met aandeelbeursindekse elke dag hoër, maar veiligehawebates soos goud het deur die dak gestyg. Dit voel vreemd dat ons ’n risiko-aan- en risiko-af-spel gelyktydig het, en dis waarskynlik ’n geval van wie die eerste gaan koes. Op die oomblik voel dit egter of die korttermyn-momentum aan die rand se kant is en invoerders moet hul kattebakke begin volmaak.”

Teen 11:00 het sake op die markte só gestaan:

Rand

  • $: R14,23
  • £: R18,08
  • €: R16,06

JSE

  • Indeks van alle aandele: 59 072 (+0,87%)
  • Top-40-indeks: 53 023 (+0,93%)

Hulpbronne

  • Goud: $1 379,65 per fynons
  • Platinum: $816,95 per fynons
  • Brent-ruolie: $63,59 per vat

Kriptogeld

  • Bitcoin: $9 230,40 (R140 278)
  • Ethereum: $266,76 (R4 054)
Meer oor:  Ekonomie  |  Rand  |  Markte  |  Dollar  |  Fed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.