Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Fed-storm waai rand tot R14,50 teen dollar

Die rand het Donderdagoggend vir die eerste keer in meer as ’n maand tot R14,50 per dollar verswak.

Dit het by R14,4945 gedraai nadat dit Woensdag in New York op die laagste vlak sedert 24 Junie, R14,36, gesluit het.

dollar, rand
Die dollar staan sterker teenoor byna alle geldeenhede. Foto: Elvira Wood

Die dollar het teenoor die meeste geldeenhede versterk weens aanduidings dat die Federale Reserweraad (Fed) nie van plan is om die VSA se rentekoers skerp of herhaaldelik te verlaag nie.

Hoewel Woensdagaand se verlaging van die rentekoers met 0,25 van ’n persentasiepunt alom verwag is, het baie ontleders gehoop die Fed sou die rentekoers met 0,5 verlaag óf aandui dat ’n hele reeks rentekoersverlagings op pad is.

Nou lyk dit asof hoogstens drie klein rentekoersverlagings oor die volgende paar jaar verwag kan word – en Jerome Powell, Fed-voorsitter, het ook benadruk dat daar ekonomiese risiko’s is wat verdere verlagings kan verhinder.

Powell het verwys na ’n “middel-van-die-siklus-aanpassings”. In vorige soortgelyke omstandighede – onder meer in 1995 en 1998 – het dit drie rentekoersverlagings van altesame 0,75 van ’n persentasiepunt meegebring.

Die feit dat twee lede van die opemarkkomitee Woensdag gestem het om die rentekoers onveranderd te hou, beteken daar is glad nie sekerheid van verdere rentekoersverlagings nie.

Volgens Nedbank sal die rand onder druk bly, minstens totdat werkloosheidsyfers Vrydag in die VSA uitgereik word.

Die Investec-ekonoom Annabel Bishop sê die 0,25-verlaging is reeds in die waarde van die rand ingereken, wat die rand vroeg in Julie tot onder R14 per dollar laat versterk het.

Dit was die eerste keer in ’n dekade – sedert voor die finansiële krisis van 2008 – dat die Fed die rentekoers verlaag het.

Die federalefondskoers is vanaf die band van 2,25% tot 2,5% tot die band van 2% tot 2,25% verlaag.

Dit kom twee weke nadat die Suid-Afrikaanse Reserwebank plaaslike rentekoerse ook met 0,25 van ’n persentasiepunt verlaag het. Die repokoers is nou 6,5% en handelsbanke se prima rentekoers 10%.

CNBC berig dit is nie net die rand wat ’n dwarsklap gekry het nie.

Die goudprys het ook teruggesak. Dit is omdat goud tipies eerder as veilige beleggingshawe beskou word. ’n Sterker dollar is dus ’n aantrekliker belegging.

Goud het vroeg Donderdagoggend teen $1 421,70 per fynons verhandel. Dit is bykans $20 per fynons minder as ’n dag tevore.

Die rand verhandel vroeg Donderdagoggend teen R17,41 teenoor die Britse pond en R15,86 teenoor die euro.

Met hulpbronne staan sake soos volg:

  • Goud: $1 421,70 per fynons
  • Platinum: $860 per ons
  • Olie: $66,04 per vat

Digitale geld

  • Bitcoin: $9 975,40/R148 357
  • Ethereum: $213,54/R3 167

Meer oor:  Federale Reserweraad  |  Vsa  |  Rentekoers  |  Rand  |  Markte  |  Dollar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.