Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand se kragtoer vat hom tot vlak voor pandemie

Die rand het Donderdag verder versterk tot sy sterkste vlak sedert Januarie 2020 voordat die koors oor die Covid-19-pandemie begin klim het.

’n Dollar sou jou Donderdagaand R14,16 kos.

Die rand het Woensdagaand op R14,39 gesluit – ’n vlak waarop hy laas omtrent 14 maande gelede was. Donderdag het die rand nog 22c of 1,5% tot R14,16 versterk.

Volgens Reuters het die rand versterk nadat beleggers se aptyt vir risiko wêreldwyd verhoog het en positiewe kleinhandelverkope in die Suid-Afrikaanse mark ook die vraag na die geldeenheid laat optel het.

In ’n nuusbrief wat vroegoggend uitgereik is, sê Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van RMB Global Markets Research, oor die algemeen bevoordeel die risikotoestande opkomende markte ten spyte van kommer oor die veiligheid en doeltreffendheid van die Johnson & Johnson-entstof.

Sy sê dit het die poging van die wisselkoers ondersteun om deur die ontwykende R14,40 te breek.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec Bank, sê die rand het in die eerste kwartaal gemiddeld teen R15 teen die dollar verhandel.

Sedert 26 Maart is die rand die beste presteerder onder die opkomende markte se wisselkoerse teen die dollar.

“Die huidige sterk aptyt vir risiko in internasionale finansiële markte het die rand wesenlik laat versterk, maar die wisselkoers is nog ver van die R13,93, wat begin 2020 bereik is, toe ook ’n sterk aptyt vir risiko geheers het,” sê Bishop.

Die rand is 25% sterker as ’n jaar gelede.

’n Jaar gelede in April was die wisselkoers op R18,44 teen die dollar, toe die koors begin klim het oor die effek wat die pandemie op die ekonomie gaan hê.

Daarna het die rand einde April 2020 tot R19,35 teen die dollar verswak.

Aandeelpryse het Woensdag ook sterk geklim, veral dié van kleinhandelaars nadat die inligting oor kleinhandelverkope uitgereik is.

Dit het die JSE se indeks van alle aandele met 1,1% tot 67 812 laat styg.

Donderdag was die mark rondom sluitingstyd amper onveranderd van die vorige dag se sluiting af.

Meer oor:  Rand  |  Markte  |  Dollar  |  Jse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.