Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand sink wéér verby R18 per dollar
Die rand het Woensdag wéér deur die R18-vlak teenoor die dollar gebreek. Foto: Elvira Wood

’n Storm van slegte nuus het Woensdagoggend om die rand gewoed en die wisselkoers opnuut laat verswak tot R18 teenoor die dollar.

Die rand het Maandag vroegoggend vir die eerste keer deur R18 gesink tot sy swakste vlak nog.

Dinsdag het die rand effens sterker verhandel nadat inligting oor Suid-Afrika se handelstatistieke uitgereik is.

Die rand se beterskap was egter van korte duur namate slegte nuus Woensdag begin instroom het.

Die eerste daarvan was dat Fitch die vyf groot banke in die land tot dieper in rommelstatus afgegradeer het weens kommer dat die koronavirus-pandemie die land in ’n diep resessie kan dompel. Boonop gaan die skuldverligting wat die banke aangekondig het om verbruikers en maatskappye deur die krisis te probeer help, hul eie finansiële situasie geensins help nie.

LEES OOK: Fitch gradeer 5 groot SA banke verder in rommel in

Kort ná Fitch se aankondiging het die nuus gekom dat die bekende Instituut vir Internasionale Finansies meen Suid-Afrika moet nou maar liefs by die Internasionale Monetêre Fonds vir hulp gaan aanklop.

Dié nuus was skaars koud of Moody’s Investors Service het die banke ook tot onder beleggingsgraad afgegradeer, hoewel dit te verwagte was nadat hy die land se kredietgradering Vrydag tot rommelstatus verlaag het.

LEES OOK: Ook Moody's gradeer SA banke as 'rommel'

Die nuus dat Amerika se pres. Donald Trump Dinsdagaand oënskynlik vir die eerste keer besef het hoe rampspoedig die pandemie vir sy land gaan wees, het ook nie gehelp nie. Sy uitsprake het aandelepryse weer laat daal.

Bianca Botes, uitvoerende direkteur van Peregrine Treasury Solutions, sê die rand bly onder druk omdat die impak op die internasionale ekonomie en die moontlikheid van ’n resessie beleggers wakker hou.

André Botha, senior handelaar van TreasuryOne, sê die rand was Dinsdag effens sterker nadat Suid-Afrika ’n onverwagse R14,1 miljard-handelsurplus vir Februarie aangekondig het. Dit het die rand ondersteun.

Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van RMB Global Markets Research, het in ’n nuusbrief opgemerk “hoe vreemd positief die plaaslike mark is” gegewe dat Moody’s se besluit om die land tot rommelstatus af te gradeer nog “in ons ore suis”.

Die rand het teen 10:51 Woensdagoggend met 20c of 1,1% verswak van sy vorige sluiting tot R18,03, toon Investing.com.

Staatseffekte se veiling bemoedig

Nadat Moody’s Suid-Afrika se kredietgradering tot rommelstatus verlaag het, was die verwagting dat die land Dinsdag sou sukkel om staatseffekte op te veil.

Die nasionale tesourie hou weekliks op Dinsdae ’n veiling van staatseffekte.

Tebogo Mekgwe, ’n ontleder by RMB, sê in ’n nuusbrief “ondanks die afgradering wys die veiling Dinsdag daar is steeds ’n taamlike vraag na Suid-Afrikaanse staatseffekte”.

Volgens hom was daar taamlike belangstelling van plaaslike en buitelandse beleggers.


Meer oor:  Ekonomie  |  Rommelstatus  |  Staatseffekte  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.