Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand sit kraglopie teen dollar voort

Die rand het Vrydagoggend sy kraglopie teen die dollar volgehou en tot R13,93 versterk teenoor Donderdagaand se sluiting op R13,96.

nikkei
’n Vrou staan by ’n elektroniese aandeelbeurs-kennisgewingbord in Tokio, wat wys hoe die Nikkei-beurs in Tokio Vrydag gestyg het.Foto: AP

Die nuus dat Eskom se reuse-skuldlas dalk herstruktureer sal word het volgens die valutahandelaar TreasuryOne gehelp om die rand Donderdagaand tot selfs so sterk as R13,87 teen die dollar te laat verhandel.

Bloomberg het berig die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) bespreek die opsie om sy belegging in Eskom-effekte in aandele in Eskom om te skakel. Die nasionale tesourie het al ’n ruk gelede dié opsie geopper as een van die alternatiewe maniere om Eskom met sy skuldlas van meer as R440 miljard te help sonder om die staatskas te knak.

Die ander vername rede vir die rand se verstewiging die afgelope dag of wat is die seine van die Amerikaanse Federale Reserweraad oor rentekoersverlagings, wat die dollar laat verswak het en dus ander geldeenhede dienooreenkomstig laat verstewig het. As Amerikaanse rentekoerse daal, probeer beleggers hul geld skuif na jurisdiksies met hoër rentekoerse. Namate hulle van hul dollarbates ontslae raak sit dit ’n lopie aan die gang onder ander geldeenhede.

Op die aandelebeurse het markte in Asië Vrydag wisselvallig verhandel te midde van ’n opvlam van handelspanning. In Australië en Japan was aandeelpryse laer. In Hongkong en China was daar aanvanklik maar min verandering, maar die aandeelpryse het later hoër geklim. In Suid-Korea het die beurs gestyg.

Die Amerikaanse beurse het daarenteen oornag op ’n nuwe hoogtepunt gesluit, met die Dow Jones nywerheidsindeks vir die eerste keer bo 27 000 indekspunte.

Oliepryse was Vrydag hoër weens vrese oor die impak wat ’n dreigende tropiese storm in die Golf van Mexiko op olieproduksie en infrastruktuur kan hê, asook die vooruitsigte van meer handelskonflik wat op pad is. Oliepryse het tot hul beste vlakke in ses weke gestyg, het Reuters berig.

West Texas Intermediate - die Amerikaanse olieprysmaatstaf - is 0,56% hoër op $60,54 per vat. Brent ruolie in Londen is 0,65% hoër op $66,95 per vat.

Die goudprys is effe sterker op $1 408 per fynons.

Teen die Britse pond is die rand net effe sterker op R17,48.

Teen die euro het die rand ook nie so stewig as teen die dollar versterk nie, en verhandel dit bykans onveranderd teen R15,71.

Meer oor:  Rand  |  Markte  |  Markverslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.