Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand verswak skerp toe Fed rentekoers sny

Die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) se opemarkkomitee het Woensdagaand sy rentekoers verlaag – ’n stap wat alom verwag is.

Jerome Powell, voorsitter van die Federale Reserweraad. Foto: Reuters

Dit is die eerste keer in ’n dekade – sedert voor die finansiële krisis van 2008 – dat die Fed die rentekoers verlaag.

Dit het die rand dadelik laat verswak en teen 21:00 het die rand by R14,39 - die swakste vir die dag - gedraai. As die rand later in New York op dié vlak sluit, sal dit die swakste sluiting sedert 25 Junie wees.

Dié soort wisselvalligheid is tipies kort ná die Fed se rentekoersbesluite en die rand sal waarskynlik eers teen Donderdag begin stabiliseer. Die vlak sal afhang van hoe die Fed se verklaring geïnterpreteer word, maar sal ook weerspieël in watter mate die lang verwagte Fed-besluit reeds ingereken is.

Die federalefondskoers is met ’n kwart van ’n persentasiepunt verlaag, vanaf die band van 2,25% tot 2,5% tot die band van 2% tot 2,25%.

Die Fed het ook aangedui dat die rentekoers dalk weer vanjaar verlaag gaan word.

Dit kom twee weke nadat die Suid-Afrikaanse Reserwebank plaaslike rentekoerse ook met 0,25 van ’n persentasiepunt verlaag het. Die repokoers is nou 6,5% en handelsbanke se prima rentekoers 10%.

Agt uit die tien lede van die opemarkkomitee, insluitende Jerome Powell, voorsitter, het ten gunste van die verlaging gestem. Die ander twee lede wou die rentekoers onveranderd hou.

Die Fed sê in sy verklaring die land se arbeidsmark bly sterk, die ekonomie groei, hoewel matig. Inflasie bly effens onder die Fed se teiken van 2%, en die hoop is dat die laer rentekoers dit sal laat styg.

Die Fed is wel bekommerd oor die ekonomiese vooruitsig, veral in die lig van “wêreldontwikkelings”, sy kodewoord vir die handelsoorlog wat pres. Donald Trump met China en ander lande voer.

In sy nuuskonferensie het Powell gesê die handelsoorlog, wat in Mei gelyk het of dit gaan oorkook, het nou verlaag tot ’n “prut”.

Benewens die laer rentekoers gaan die Fed ook die effekte wat hy besit, vanaf Augustus verminder. Dis twee maande as wat hy vantevore voorspel het. Dié effekte is oor jare hene aangekoop as deel van ’n enorme program bekend as kwantitatiewe verruiming in ’n poging om die Amerikaanse ekonomie teen die uitwerking van die wêreldresessie van 2008-’09 te buffer.

Powell het aangedui dat die Fed nou “meer akkommoderend” is wat monetêre beleid betref.

Trump eis nou al geruime tyd dat die Fed die rentekoers verlaag, maar Dinsdag het hy op Twitter gevra vir ’n groot verlaging, wat hy nie gekry het nie.

Powell het in antwoord op ’n vraag of dit nou lyk of hy toegegee het aan politieke druk, gesê die Fed neem nie politieke faktore in ag nie. Aan die ander kant gaan die Fed ook nie die teenoorgestelde doen as wat politici vra net om sy onafhanklikheid te probeer bewys nie.

Die debat oor die Fed se onafhanklikheid eggo die debat oor die Reserwebank se nasionalisering en mandaat wat in Suid-Afrika woed.

Meer oor:  Jerome Powell  |  Vsa  |  Fed  |  Markte  |  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Rand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.