Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand sterker ná SAL hulp kry, kalmte oor virus

Die rand wat vinnig swakker begin neig het weens die kommer oor die koronavirus, het ná die nuus oor SAL met ’n paar sente omgeswaai.

Die dodetal styg steeds nadat die dodelike nuwe koronavirus in China uitgebreek het, maar beleggers is vir eers kalmer daaroor. Foto: Reuters

Die rand het Dinsdagaand ná die aankondiging dat die SAL R3,6 miljard van die Ontwikkelingsbank gaan kry, 5c sterker teen die dollar op R14,54 gesluit, toon Iress.

Dit volg nadat hy Maandagaand amper 20c swakker op R14,60 gesluit het.

Bianca Botes, ’n vennoot van Peregrine Treasury Solutions, meen die omswaai oornag in verhandeling oorsee kan toegeskryf word aan die nuus dat SAL die R3,5 miljard gaan kry.

Die rand het in ’n stadium Dinsdag tot R14,71 verswak. Die prys deur die dag asook die sluitingsprys Maandag was die swakste in meer as ’n maand.

Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van RMB se Global Market-navorsingspan, skryf die omkeer van die rand toe aan beleggers wat kalmer is oor die koronavirus.

“Kommer het nog nie afgeneem nie, maar dinge is vanoggend kalmer nadat Amerika bevestig het vlugte na China vind steeds plaas, gerugte dat die uitbreking in toom gehou word en dat daar ’n minimale invloed op ekonomiese groei is,” sê sy.

Volgens haar het die VIX, die sogenaamde vreesindeks, vir die eerste keer die afgelope vyf werksdae gedaal.

“Die omkeer van die rand van R14,70 tot sy huidige vlak van R14,55 toon die verligting.”

Sy sê die omgewing is effens beter vir ’n terugkeer van beleggers na meer riskante bates, maar skeptisisme bly in die lug en dit gaan ’n verdere versterking in wisselkoerse beperk.

Die swak prestasie van die Hang Seng-indeks ná sy opening Woensdagoggend dui op die vrese oor die virus wat nog nie gekwyn het nie en reeds 132 sterftes op sy kerfstok het.

Terwyl die koronavirus steeds hoofnuus is, gaan die inligting wat die Federale Reserweraad van Amerika vanaand uitreik, ook wisselkoerse beïnvloed.

Ramkhelawan-Bhana sê die SAL kry finansiering van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika.

“Dit sal sorg vir korttermynverligting terwyl die sakereddingspraktisyns ’n werkbare plan vir die lugdiens se omkeer opstel.

“Ek sal nie noodwendig nou ’n klomp vlugte op die lugdiens bespreek nie, omdat nog R2 miljard nodig is om hom aan die gang te hou totdat die herstrukturering voltooi is.”

Michelle Wohlberg, ’n ontleder van RMB, sê in dieselfde nuusbrief die internasionale sentiment van minder vrees sal vandag na die plaaslike mark deursypel.

Volgens Wohlberg is dit ook goeie nuus dat Moody’s gesê het dit is nog te vroeg om oor Suid-Afrika se gradering te besluit.

Dit beteken meer beleggers gaan nou glo dat ’n afgradering van Moody’s eers in November gaan plaasvind.

Meer oor:  Rmb  |  Sal  |  China  |  Geldeenheid  |  Beleggers  |  Wisselkoers  |  Rand  |  Koronavirus  |  Markte  |  Dollar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.