Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand breek deur R14,50/$
rand, geld
Die rand is besig om teen die dollar te verstewig. Foto: Getty Images

Die rand het Woensdag sy kraglopie voortgesit en die oggend verder tot R14,47 teenoor die dollar verstewig nadat dit Dinsdag van R14,81 tot R14,52 versterk het.

Dit was meer die geluide in Europa en Amerika van laer rentekoerse wat die rand laat versterk het as enige plaaslike markfaktore.

Mario Draghi, president van die Europese Sentrale Bank, het Dinsdag in ’n toespraak gesê laer rentekoerse is steeds ’n wesenlike moontlikheid om die eurogebied se ekonomie aan die gang te skop. Enige praatjies van rentekoersdalings in ontwikkelde lande sit ’n jagtog onder beleggers aan die gang om beter opbrengskoerse elders te gaan soek, sê André Botha, senior handelaar by die plaaslike valutahandelaar TreasuryOne.

“Die rand is hier in ’n gunstige posisie want hy is in ’n ontwikkelde finansiële stelsel en bied beter opbrengste as ontwikkelde ekonomieë. Dit het veroorsaak dat die rand Dinsdagaand van R14,80 tot R14,50 versterk het,” sê Botha.

Draghi se opmerkings het nie pres. Donald Trump van Amerika ontgaan nie, en hy was gou op sy perdjie om Draghi daarvan te beskuldig dat hy die euro met opset wil laat verswak om ’n mededingende voordeel teen Amerika op te bou. Trump het selfs gedreig dat hy Jerome Powell, voorsitter van die Federale Reserweraad, in die pad gaan steek as Powell nie Woensdagaand Amerikaanse rentekoerse verlaag nie.

Botha meen dít is ook in die rand se guns, want ’n rentekoersverlaging deur nog ’n groot sentrale bank kan weer ’n nuwe windjie in die rand se seile wees.

Die rand is hier in ’n gunstige posisie want hy is in ’n ontwikkelde finansiële stelsel en bied beter opbrengste as ontwikkelde ekonomieë.
Mario Draghi

Ander positiewe nuus op die handelsfront is Trump se opmerking dat hy volgende week op die komende G20-beraad ’n lang vergadering met pres. Xi Jingping van China gereël het. Aandele in Asië het Woensdag in reaksie hierop versterk. Ontleders verwag die vergadering is ’n positiewe sein dat Amerika en China nader kan kom aan ’n oplossing vir hul voortslepende handelsoorlog.

Botha meen die sentiment is Woensdag positief vir geldeenhede in die opkomende markte, en die rand kan selfs verder versterk in aanloop tot die Fed se rentekoersbesluit Woensdagaand.

Teenoor die Britse pond het die rand tot R18,16 versterk teenoor die vorige dag se sluiting van R18,23.

Teenoor die euro was die rand ook woelig, en het van R16,25 tot R16,20 versterk.

Die prys van Brent-ruolie in Londen het met 0,24% tot $62,29 per vat gestyg, en Amerikaanse oliepryse was 0,3% sterker op $54,06 per vat.

Die goudprys was effe laer op $1 343 per fynons.

Meer oor:  Ekonomie  |  Rand  |  Markte  |  Dollar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.