Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand steur hom nie veel aan negatiewe Fitch

Die rand het oornag hom nie veel aan die kredietgradeerder Fitch Ratings se negatiewe vooruitsig gesteur nie.

Hy het vroeg Donderdagoggend teen R14,30 teenoor die dollar verhandel. Dit was nadat hy Woensdag in ’n stadium tot R14,46 teenoor die Amerikaanse geldeenheid teruggesak het.

Fitch Ratings is ook nou negatief oor Suid-Afrika se finansiële toekoms. Foto: Argief

Fitch het in ’n verklaring bevestig dat hy Suid-Afrika se soewereine kredietgradering op BB+ hou en die negatiewe vooruitsig handhaaf.

Dié gradering is reeds een vlak onder beleggingsgraad oftewel rommelstatus.

Fitch is nie die enigste kredietgradeerder wat Suid-Afrika reeds tot rommel afgegradeer het nie.

Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) het die land ook lank reeds op die rommelhoop geplaas met sy gradering van BB vir staatskuld in ander geldeenhede as die rand. Dit is twee vlakke onder beleggingsgraad. S&P het ook in November sy vooruitsig vir die land se kredietgradering van stabiel na negatief verander.

Dit is tans net Moody’s Investors Service wat nóg nie die land op die rommelhoop geplaas het nie. Hy het egter wel – net soos die ander twee – sy vooruitsig vroeg in November van stabiel tot negatief verander.

Fitch sê in ’n verklaring Woensdagaand “lae groeipotensiaal, hoë en stygende staatskuld, groot voorwaardelike aanspreeklikhede en druk op beleidmaking . . . weerspieël onsekerheid oor die regering se vermoë om openbare skuld op mediumtermyn te stabiliseer.”

Fitch sê, net soos Moody’s en S&P, hy is veral bekommerd oor die nuus in Oktober dat die land se fiskale situasie agteruit gegaan het.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy mediumtermynbegrotingsraamwerkrede in die parlement gesê die tesourie verwag nou net ekonomiese groei van 0,5% vir vanjaar én dat staatskuld vinnig aan die styg is.

Fitch is ook baie bekommerd oor wat by Eskom aangaan en hoeveel die staat aan lone spandeer.

Die kredietgradeerder waarsku egter selfs al belowe die staat om na sy loonrekening te kyk, dit nie ’n vinnige oplossing vir sy finansiële probleme gaan wees nie.

“Fitch meen aansienlike verlagings in die vergoedingskoste kan eers op mediumtermyn plaasvind, aangesien magtige vakbonde in die openbare sektor besnoeiings sal teenstaan. Die huidige loonooreenkoms in die openbare sektor kom eers in Maart 2021 tot ’n einde en pogings om die betaalstaat in te kort was tot dusver nie baie suksesvol nie,” lui die verklaring.

Kommentaar

Die tesourie sê Woensdagaand in ’n verklaring dat hy kennis neem van Fitch se besluit.

Hy het die gradeerder wel probeer paai.

“Die regering bly verbind tot die stabilisering en verbetering van sy fiskale posisie. Die agentskap erken die regering se planne om sy finansies te stabiliseer.

“Verder sal die regering voortgaan om hand-aan-hand met vakbonde te werk om die groei van die staat se loonrekening te beperk om só die skuldlas van die regering te verminder,” sê hy in die verklaring.

Die tesourie sê verder “die regering is ook bewus van die druk en risiko’s wat maatskappye in staatsbesit het – veral Eskom – wat die fiskale raamwerk betref.

“Die regering bied mediumtermynondersteuning aan Eskom om energievoorsiening te verseker en om die staat se kontraktuele verpligtinge te eerbiedig.

“Die tesourie, in vennootskap met die departement van openbare ondernemings, is besig met ’n reeks maatreëls om Eskom se finansies in orde te kry en om die tydlyn vir herstrukturering te bespoedig.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.