
Die rand het Woensdag verder versterk nadat markte kalmeer het in die nadraai van Brexit.
Die rand het Woensdag verder teenoor die dollar versterk nadat beleggers gevlug het van meer riskante bates na veilige toevlugsoorde in die nadraai van Brittanje se besluit om die Europese Unie (EU) te verlaat.
Die rand het versterk na onder die vlak van R15 teenoor die dollar.
Brittanje het verlede week in ’n referendum gestem om die EU te verlaat. Dit het die rand en wêreldmarkte laat tuimel.
Die rand het met meer as 4% herstel teenoor die Amerikaanse geldeenheid nadat dit Vrydag getuimel het na R15,68 met die nuus van Brittanje se besluit, oftewel die Brexit.
“Internasionale markte het gestabiliseer en die meeste riskante bates spring terug,” sê John Cairns, ontleder van Rand Merchant Bank.
“Sentiment oor Brexit bly die grootste faktor, maar die aandag keer nou terug na die data.”
Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, sê Brittanje se besluit om die EU te verlaat, gaan Suid-Afrika se ekonomie ook tref.
“Ons sal nie ’n resessie binnegaan in hierdie stadium nie, maar daar is geen twyfel dat dit die Suid-Afrikaanse ekonomie se reeds stadige groei verder gaan laat verlangsaam nie,” het Kganyago aan Bloomberg TV in Portugal gesê.
Pravin Gordhan, minister van finansies, het Sondag gesê die markwisselvalligheid weens Brexit, kan beleggingsvloei na Suid-Afrika verlaag.
“Dit [Brexit] het sentiment geraak en beleggers het gesoek na veilige bates. Ons word nie as een van die veilige bates beskou nie,” sê Kganyago.
Die Suid-Afrikaanse ekonomie het gekrimp in die eerste kwartaal van die jaar en plaas die ekonomie op koers om die eerste keer in sewe jaar ’n resessie te ervaar.
Teen 11:15 het die rand teen R14,98 teenoor die dollar verhandel.
– Reuters