Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand val 21c ná nuus dat Tito waai

Dis jammer dat Tito Mboweni as minister van finansies bedank het, want hy het vertroue ingeboesem.

Dis ook jammer dat ander, “beter” kandidate nie die pos gekry het as Enoch Godongwana, die ANC se hoof van ekonomiese transformasie, nie.

Só het prof. Jannie Rossouw, ekonoom verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, gereageer op pres. Cyril Ramaphosa se kabinetskommeling Donderdagaand.

Rossouw sê dis welbekend dat Mboweni al lank wou uittree en dit is daarom nie ’n verrassing nie.

Hy wonder egter waarom dr. David Masondo, adjunkminister van finansies, oor die hoof gesien is, gegewe hoe hy “in statuur gegroei” het die afgelope jare.

tito mboweni
Tito Mboweni, minister van finansies.

Nog ’n kandidaat wat Rossouw, wat self jare lank by die Reserwebank gewerk het, hoog aanskryf, is Lesetja Kganyago, president van die sentrale bank.

Oorhoofs gesien was die skuiwe in die kabinet nie genoeg om die ekonomiese wa deur die drif te trek nie, meen Rossouw.

“Die president het ’n wonderlike geleentheid laat verbygaan om ’n regering van nasionale eenheid, ’n veelparty-kabinet, in te stel. Dis ál wat die land op ’n nuwe groeitrajek sou kon plaas.”

Rossouw reken ook ’n gulde geleentheid is verspeel om die kabinet te verklein deur byvoorbeeld departemente saam te voeg en nie adjunkministers te vervang nie.

Die rand het ten tyde van Ramaphosa se toespraak met 21c teenoor die dollar verswak, van R14,39 tot R14,60, maar het intussen weer 9c veld gewen tot sowat R14,51.

Rossouw sê die beweging op die markte is verstaanbaar, selfs al het almal geweet Mboweni sou nie lank minister van finansies bly nie. Daar is altyd ’n mate van onsekerheid met ’n nuwe minister van finansies, ’n baie belangrike pos veral in die lig van die land se hemelhoë skuldvlakke.

Razia Khan, hoofekonoom vir Afrika en die Midde-Ooste van Standard Chartered, sê hoewel die markte onmiddellik negatief gereageer het, is Godongwana welbekend aan baie beleggers in die lig van sy ekonomiese rol in die VSA. “Hy behoort steeds versekering te verskaf oor hervorming.”


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.