Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand val en ja, dis steeds die vervloekte virus

Die aankondiging Woensdagoggend dat Covid-19 by nóg ses mense in Suid-Afrika gediagnoseer is, het tot die verswakking van die rand gelei, volgens Wichard Cilliers, hoofhandelaar van TreasuryOne.

MADRID, SPAIN - JUNE 04: Desperate equity trader i
Tot $10 miljard kan regstreeks die land uitvloei indien Moody's Investors Service Suid-Afrika tot rommelstatus afgradeer. Foto: Getty Images

Cilliers het gesê dis eerder dié nuus as die rentekoersverlaging in Brittanje wat die rand laat verswak het.

Die rand se swakste vlak vir die dag was R16,14 teenoor die dollar en R20,86 teenoor die pond.

“Enige opskrif wat nou nuus oor die koronavirus bevat, is baie marksensitief,” het Cilliers gesê.

“Dis beslis die aankondiging wat gelei het tot die verswakking in die rand, tesame met die nuus dat ’n pasiënt in Gauteng kritiek is.”

Boonop wag almal nog vir Moody’s ook

Ontleders glo die skadu van Moody’s hang ook nog oor die rand. Moody’s kondig op 27 Maart aan of hy Suid-Afrika tot rommelstatus afgradeer.

George Herman, direkteur en beleggingshoof van Citadel, meen as Moody’s die land afgradeer, kan die rand tot bo R17 teen die dollar verswak.

“Maar dit sal waarskynlik kort daarna gevolg word deur ’n konsolidasie, waar nuwe spekulasie-geld gelok word deur van die hoogste opbrengste ter wêreld.”

Hy meen as Moody’s vir November wag, sal die rand in ooreenstemming met wêreldnuus reageer.

Volgens hom skep dit onsekerheid of Suid-Afrika gaan beleef wat gesien is in lande waar die virus versprei het waar kwarantyn ingestel moes word en onder meer sportgeleenthede gekanselleer moes word. “Dit maak die mark senuagtig.”

Boonop toon termynmarkte die Amerikaanse aandeelmarkte gaan vandag sowat 3% laer open. “Die verskaf verdere onsekerheid vir ontluikende markte.”

Ontluikende markte trek aan die agterspeen wanneer onsekerheid internasionaal toeneem omdat dit tot risikovermyding onder beleggers lei.

Cilliers sê die polemiek wat die prysoorlog in die oliemark vandeesweek geskep het, gee ook aanleiding tot die skommelinge in wisselkoerse.

Maar wat van die drahandel?

Beleggers wat optimisties is oor ontluikende markte, verwelkom tipies laer rentekoerse in ontwikkelde lande. Dit is omdat dit brandstof gee aan die drahandel – ’n strategie om in geldeenhede te leen waar rentekoerse laer is sodat dit belê kan word in lande waar uit die wisselkoersverskille voordeel geput kan word.

LEES OOK: Dit was Swart Maandag vir die rand

Data van die Instituut van Internasionale Finansies toon egter dat die vloei van geld van beleggingsportefeuljes na opkomende markte in Februarie met amper 90% gedaal het van Januarie, berig Reuters.

’n Maatstaf van Credit Suisse wat die opbrengste op 15 geldeenhede in opkomende lande meet, toon die opbrengste op drahandelstrategieë het in 2019 tot 6,1% gelewer, maar sedert einde Januarie tot 2% gedaal.

Min beleggers sal bereid wees om terug te klim in dié strategie terwyl die onsekerheid oor die koronavirus internasionale groei oorskadu, meen kenners.

“Daar is ’n bietjie meer drahandel in opkomende markte, maar daar is soveel onsekerheid oor die impak van die virus op groei dat mense nie nou lank in riskante geldeenhede wil wees nie,” sê Momtchil Pojarliev, valutahoof van BNP Asset Management aan Reuters. “Dis net nie ’n goeie plek om nou te wees nie.”

Die ontwrigting van produksie internasionaal en die verwagte negatiewe impak op ekonomiese groei is negatief vir Suid-Afrika se uitvoer en dus vir plaaslike produksie.
Annabel Bishop van Investec

Edward Glossop, ’n ekonoom oor opkomende markte van Capital Economics in Londen, verwag sentrale banke in die meeste ontluikende markte in Asië gaan rentekoerse bly sny. Hy verwag ook rentekoersverlagings in Brasilië, Indië, Mexico, Pole en Suid-Afrika, berig Reuters.

Beleggers in ontluikende markte se geldeenhede loop ook die gevaar dat die sentrale banke in dié lande begin met rentekoersverlagings om hul ekonomieë te beskerm teen ’n potensiële verlangsaming internasionaal.

Dit kan druk op hul wisselkoerse plaas omdat die verskil in opbrengs wat gemaak kan word in hul markte teenoor ontwikkelde lande krimp.

Impak van virus op SA ekonomie 'n faktor

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, sê risikovermyding het vandeesweek drasties verhoog in wêreldmarkte weens die verdere toename in die kommer oor die impak wat die koronavirus op ekonomiese groei gaan hê.

“Die ontwrigting van produksie internasionaal en die verwagte negatiewe impak op ekonomiese groei is negatief vir Suid-Afrika se uitvoer en dus vir plaaslike produksie. Terselfdertyd het ontwrigting aan die produksie van onderdele in China ’n negatiewe impak op die verskaffingsketting van motors internasionaal, waarvan Suid-Afrika deel is.”

Bishop sê Suid-Afrika voer die meeste van sy hulpbronne na Asië uit en die meeste van sy vervaardigde goedere na Europa. “Met China en Europa se groei wat veral in gedrang is weens die koronavirus, gaan Suid-Afrika waarskynlik in die eerste kwartaal ’n swak ekonomiese vertoning sien.

“Boonop dra beurtkrag by tot hierdie kwesbare situasie, tesame met swakker hulpbronpryse.”

Sy meen Suid-Afrikaanse statistieke oor Februarie gaan waarskynlik die impak van stadiger vraag van China af begin toon en dit gaan vererger in die syfers van Maart af.

Meer oor:  Investec  |  Moody's  |  Dollar  |  Kredietgradering  |  Covid-19  |  Rand  |  Wêreldekonomie  |  Markte  |  Rommelstatus  |  Kredietgradeerders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.