Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand val met 28%: Só raak dit jou

Jy is dalk nou ingeperk in jou huis en kan nie klere of ander ingevoerde goedere koop nie, maar teen die tyd wat jy uitkom, gaan jy dalk skrik vir die pryse op winkelrakke.

Dit is een van die nagevolge van die rand wat so skerp verswak het die afgelope kwartaal.

Of, wel, dit was normaalweg die geval omdat Suid-Afrika so baie van sy goedere invoer.

Nou krap ekonome ’n bietjie kop oor wat die inperking se uitwerking op die ekonomie gaan wees.

Wat het met die rand gebeur?

Die rand het in die afgelope kwartaal tot einde Maart met 28% tot sy swakste vlak tot nog toe teen die dollar verswak. Dit het by R18,09 gedraai.

k

Wisselkoerse van opkomende markte het onder druk gekom in die kwartaal toe buitelandse kapitaal uitgevlug het na bates wat as veiliger beskou word weens vrees oor die invloed wat die koronavirus op die wêreldekonomie gaan hê.

“Die kommer oor die verspreiding van Covid-19 het die aptyt vir risiko onder beleggers internasionaal laat afneem en het tot ’n aansienlike verkoop van opkomende markte se bates gelei. Die rand is onder die wisselkoerse wat die ergste getref is,” het Elina Ribakova, adjunk-hoofekonoom van die Instituut vir Internasionale Finansiering (IIF), Woensdag in ’n verslag gesê.

Die IIF sê die kapitaaluitvloei uit opkomende markte sedert laat Januarie is amper twee keer so groot soos wat in die internasionale finansiële krisis beleef is. Die reaksie op Covid-19 is ’n “ongekende skok”.

André Botha, ’n senior valutahandelaar van TreasuryOne, sê die verswakking in die rand is taamlik in pas met wat met Suid-Afrika se eweknieë Brasilië, Rusland en Mexiko gebeur het.

“Interessant genoeg was die Australiese dollar tot middel Maart ook 25% swakker, maar dit het sedertdien versterk en is nou net 14% swakker.”

Hy skryf dit toe aan die land wat vroeër met inperking (hoewel volle inperking nie in Australië geld nie) begin het en ook vinniger met rentekoersverlagings gereageer het om die invloed op die ekonomie teen te werk.

Hy sê Australië se ekonomie hou ook meer tred met wat in China gebeur. “China was tot middel Maart nog baie hard geslaan deur die virus, maar nou vloei goedere en dienste weer meer in die Ooste.”

Boonop glo die IIF nog beleggingsportefeuljes van oorsee se geld gaan uit Suid-Afrika vloei nadat Moody’s die land afgegradeer het die afgelope naweek. Dit sal einde April gebeur wanneer Suid-Afrika uit die FTSE se wêreldindeks vir staatseffekte gesluit gaan word.

Ander ontleders glo die invloed daarvan het reeds plaasgevind omdat beleggers geweet het Moody’s gaan die land afgradeer en hul geld reeds onttrek het.

Bloomberg berig Deutsche Bank glo ook weens die bykomende invloed van die Covid-19-pandemie kan die rand met nog 10% tot selfs R20 teen die dollar verswak.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, glo die wisselvalligheid van die rand gaan nou ná Moody’s se afgradering net vererger.

Die rand het Maandagaand die swakste tot nog toe teen die dollar en euro gesluit. Die wisselkoers was ook naby aan die swakste vlak teen die pond wat in Januarie 2016 bereik is.

k

Intussen het die olieprys tot so laag as $23 per vat geval.

“ ’n Resessie word nou internasionaal en in Suid-Afrika verwag,” sê Bishop.

Investec glo Suid-Afrika se BBP gaan vanjaar met 2,7% krimp.

Hoe gaan dit verbruikers raak?

Die goeie nuus is dat die uiterse swak olieprys die verswakking van die rand gaan teenwerk en verligting vir verbruikers gaan gee, volgens Bishop.

“Hoër pryse in die winkels vir sommige goedere is egter waarskynlik weens die rand se verswakking.”

Die rand is teen die toue weens die dubbele slag van Covid-19-vrese en Suid-Afrika se afgradering tot volslae rommelstatus.

Sy meen verbruikers kan baat vind van kos wat plaaslik vervaardig word en koeldranke (weens die suiker) se prysinflasie wat verlangsaam gegewe die verwagte verbetering in landbouproduksie.

“Maar basiese kossoorte soos rys en koring word ingevoer en dit sal beïnvloed word deur die wisselkoers, as die swak wisselkoers voortduur.”

Botha glo dit gaan vir ’n verbruiker beteken dat ingevoerde goedere betreklik duurder kan word – dit sluit in klere en skoene.

“Verbruikers gaan baie sleg benadeel word. Dit gaan baie moeilik wees vir groothandelaars om nie daardie direkte verhogings in ingevoerde goedere se pryse aan die verbruiker deur te gee nie.

“Die enigste wat nie geraak gaan word nie, is die petrolprys omdat die daling in die olieprys baie meer is as die wisselkoers se verswakking.”

Volgens Botha neem dit normaalweg ’n ruk voordat die invloed van die swak wisselkoers na die winkelrakke deurwerk.

“Dit sal dalk nou langer neem omdat winkels toe is en die huidige voorraad reeds in die winkels lê.

“Maar verbruikers kan winterklere met hoër pryse verwag. Al die klerewinkelgroepe is nou onder druk en sal dit vinniger wil deurgee aan verbruikers.”

Terselfdertyd is huishoudings verby platsak en die invloed van die virus gaan dit vererger. Dit gaan dit moontlik vir winkels moeiliker maak om hul pryse te verhoog.

Meer oor:  Rand  |  Koronavirus  |  Markte  |  Dollar  |  Covid-19  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.