
Fitch Ratings is ook nou negatief oor Suid-Afrika se finansiële toekoms. Foto: Argief
Suid-Afrika het Vrydagmiddag nóg ’n dwarsklap gekry toe Fitch Ratings staatskuld tot dieper in rommelstatus afgegradeer het.
Dit het die rand onmiddellik tot meer as R19 per dollar laat verswak in New Yorkse verhandeling. Dit het by R19,04 gedraai – ’n hele 47c swakker as die dag se beste vlak.
Fitch, wat Suid-Afrika reeds in April 2017 tot rommelstatus afgegradeer het, het sy graderings met een vlak verlaag en ’n negatiewe vooruitsig daarop geplaas. Sowel staatskuld in rand as in buitelandse geldeenhede is afgegradeer tot BB op Fitch se skaal.
Die afgradering is aan twee dinge toegeskryf:
- Die “gebrek aan ’n duidelike pad na die stabilisering van staatskuld”.
- Die “verwagte impak van die Covid-19-skok op die staat se geldsake en ekonomiese groei”.
Die negatiewe vooruitsig weerspieël die risiko dat staatskuld verder sal styg en groei selfs traer sal wees weens die wêreldwye impak van die koronavirus-krisis.
Fitch verwag nou ekonomiese groei van -3,8% vir 2020 en slegs matige herstel van 1,7% in 2021.
Die gradeerder sê die impak van die inperking gaan lank gevoel word weens die ontwrigting van verskaffingskettings en wêreldwye vraag.
Die afgradering kom net ’n week nadat Moody’s Investors Service die laaste groot gradeerder geword het wat staatskuld tot onder beleggingsgraad afgegradeer het.
Die tesourie het in ’n verklaring gesê selfs te midde van die heersende stres op finansiële markte weens Covid-19 bly hy verbind tot strukturele ekonomiese hervorming.
Soos met Moody’s se aankondiging, sê die tesourie die stryd teen Covid-19 word nou eers geprioritiseer en alles moontlik word gedoen om die impak daarvan op die ekonomie te beperk.
Tito Mboweni, minister van finansies, sê luidens die verklaring ’n afgradering het inderdaad “ongunstige gevolge vir die hele ekonomie”, maar hy wil alle Suid-Afrikaners verseker dat die regering die impak van Covid-19 probeer verminder, en maatreëls instel om ekonomiese groei te verbeter en die staat se geldsake op ’n volhoubare pad te plaas.
“Die werk vereis noue samewerking en koördinasie oor verskeie sektore van die ekonomie.”