Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand verras met lopie tot sterkste vlak in 2 j.

Die rand het Woensdagaand tot R13,50 versterk, wat sy sterkste vlak sedert die begin van 2019 is.

Suid-Afrika was in ’n resessie selfs voordat Covid-19 die land getref het. Foto: Elvira Wood

Die rand het uiteindelik die dag 1,7% of 23c sterker op R13,52 gesluit, maar Donderdag weer R13,50 gehaal.

Volgens die markinligting van Iress was dit op 5 Februarie 2019 laas onder dié vlak toe dit op R13,53 gesluit het.

Die inligting toon dit is die meeste wat die rand op een dag die afgelope drie maande versterk het.

Donderdagoggend het die rand in ’n stadium tot R13,47 versterk, maar later weer tot R13,53 teenoor die dollar terugbeweeg.

Die geldeenheid het op 10 Mei vir die eerste keer sedert einde 2019 deur R14 teenoor die dollar gebreek.

LEES OOK: Rand breek 1ste keer sedert 2019 deur R14

André Cilliers, ’n valutastrateeg van TreasuryOne, sê die versterking van die rand Woensdag is vanweë die aptyt vir risiko van beleggers wat internasionaal toegeneem het.

Hy glo as die rand die pas kan volhou, gaan hy vir R13,35 mik.

k

Anchor Capital sê in ’n nuusbrief beleggers juig oor die jongste bewyse dat daar ’n volgehoue herstel in die wêreldekonomie is.

In Amerika het die Federale Reserweraad ’n verslag uitgereik wat toon dat die herstel van die Amerikaanse ekonomie in die afgelope weke ten spyte van ’n lang lys probleme in die aanbodketting, sowel as stygende pryse versnel.

’n Bietjie meer as ’n jaar gelede toe die wisselkoers R19 teenoor die dollar geslaan het, sou min mense kon dink dat ons vandag hier sou wees.
Old Mutual-ontleders

Die sentrale bank van Amerika het ook opgemerk watter positiewe invloed ’n toename in inentings en meer ontspanne maatreëls oor sosiale afstand op die plaaslike ekonomie het.

Michelle Wohlberg, ’n ontleder van RMB, sê in ’n nuusbrief dit was warm nuus toe die rand deur die sleutelsteunvlak van R13,69 gebreek het en tydens verhandeling in Asië ’n laagtepunt van R13,50 bereik het.

Sy sê die rand is beslis die gewildste onder sy eweknieë in opkomende markte as daar na sy vertoning gekyk word.

Van die 26 geldeenhede van opkomende markte wat Bloomberg dophou, het die rand sedert die begin van die jaar die beste presteer.

Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van RMB Global Market Research, sê die onlangse beweging van die rand is verbysterend en ervare randhandelaars wend hulle weer tot tegniese ontledings vir leiding.

“Dit is nie soseer die vlak van die rand nie, maar eerder die ongekende spoed waarteen dit oor ’n kort tyd versterk het.”

Die rand het van einde Maart van bo R15 af tot dié punt versterk.

Izak Odendaal en Dave Mohr, beleggingstrateë van Old Mutual Wealth Investment, sê die rand het verlede week deurslaggewend deur die vlak van R14 teenoor die dollar gebreek, en daarmee weer eens vir ’n groot verrassing gesorg.

“As hy eers in ’n rigting begin beweeg, het die rand inderdaad die vermoë om veel verder te beweeg as wat die meeste mense (onder wie ekonome en fondsbestuurders) dink moontlik is.

“’n Bietjie meer as ’n jaar gelede toe die wisselkoers R19 teenoor die dollar geslaan het, sou min mense kon dink dat ons vandag hier sou wees. Ook toe die rand aan die begin van 2020 rondom R14 verhandel het, sou min mense gedink het watter epiese ineenstorting in die volgende paar maande beleef sou word.”

k

Redes vir versterking

Die redes wat die rand tans laat versterk, is volgens hulle dat beleggers weer asemhaal ná ’n tydperk van intensiewe finansiële spanning, en dit het veroorsaak dat die dollar, wat as ’n veilige hawe beskou word, teruggetrek het.

Nog ’n rede is dat hulpbronpryse skerp gestyg het.

Sedert die groot skrik in Maart en April 2020 oor die pandemie het die dollar begin veld verloor. Dié geldeenheid het in die eerste kwartaal weer versterk weens beleggers se vrese oor inflasie wat gaan verhoog, wat tot die verwagting gelei het dat rentekoerse in Amerika kan styg.

“Maar dit wil voorkom of die groot vrees oor inflasie begin vervaag met beleggers wat die siening van die Fed en ander sentrale banke begin aanvaar dat inflasie tydelik gaan wees. Die dollar het dus in die tweede kwartaal verder veld verloor.”

Volgens hulle is die dollar steeds nogal sterk as dié geldeenheid op langer termyn beskou word (op grond van die wisselkoers teenoor die geldeenhede van Amerika se grootste handelsvennote), wat daarop dui dat daar nog plek is om verder te verswak.

Voorstanders van ’n siening dat die dollar nog kan verswak, sal wys op die groot fiskale en lopende rekeningtekort.

“As dit enige ander land was, sou die tweeling van tekorte lankal die geldeenheid onder groot druk geplaas het, maar die dollar is steeds die wêreld se reserwe-geldeenheid – die belangrikste ruilmiddel in handel en veilige hawe vir beleggers en ondernemings.”

Aan die ander kant kan die rentekoersverskille tussen Amerika en ander ekonomieë die dollar ondersteun. Rentekoerse is nog negatief in Europa en Japan.

Nog ’n groot vraag is waarheen hulpbronpryse gaan beweeg.

Die wêreldekonomie het weer lewe gekry ná die ineenstorting wat die pandemie verlede jaar veroorsaak het.

Die jongste inligting oor die stand van aankope-bestuurdersindekse dui daarop dat die huidige saketoestande vir vervaardiging en dienste in groot ekonomieë uitsonderlik is.

“Te midde van die vrese dat myne nie aan die stygende vraag sal kan voldoen nie, het pryse wyd en skerp gestyg. Dit het Suid-Afrika geweldig bevoordeel deur uitvoer tot ’n rekordvlak te verhoog, en het die regering se belastinginkomste verhoog.”

Volgens Odendaal en Mohr lyk die langtermynvooruitsig vir baie hulpbronne steeds gunstig, hoewel hulle nie meen dit kan ’n “supersiklus” genoem word nie.

“As die dollar verder verswak en hulpbronpryse nog styg, behoort die rand steeds voordeel te trek.”

Beter sentiment oor SA

Hulle meen daar is nóg ’n element wat ’n rol in die onlangse versterking van die rand speel.

“Dit wil voorkom of internasionale beleggers se siening oor Suid-Afrika – van verskriklik tot bloot gemiddeld vir ’n ontwikkelende land – verbeter het.”

Staatskuld en die stadige vordering met die planne om die ekonomie aan die gang te kry, gaan steeds as problematies beskou word. “Maar die hupstoot van hulpbronpryse kan baie krake toepleister, en die herstel in die plaaslike ekonomie was beter as verwag.”

Hulle meen die derde vlaag van Covid-19 gaan waarskynlik nie dié herstel in die wiele ry nie.

Terselfdertyd is daar talle van die ander opkomende markte wat met Suid-Afrika meeding vir internasionale beleggers se geld, maar wat tans politieke probleme het.

Volgens Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, het buitelanders in Mei R7,1 miljard meer plaaslike aandele verkoop het as wat hulle gekoop het.

Skuldbriewe het ’n matige netto invloei van R5,9 miljard beleef.

Dit beteken in geheel het R1,3 miljard in Mei uit die mark in Suid-Afrika na die buiteland gevloei.

Volgens haar is die negatiewe effek wat dít op die rand sou hê deur die sterk uitvoer van hulpbronne teengewerk.

Die verskil tussen die opbrengskoers op Amerika se tienjaar-staatseffek en Suid-Afrika s’n, het tot 7,67% van 6% in 2018 vergroot. Sy sê dit maak Suid-Afrikaanse staatseffekte aantreklik vir buitelandse beleggers.

Dié verskil het egter gekrimp van die begin van die jaar se 8%.

Bishop meen die toenemende sensitiwiteit oor Amerikaanse ekonomiese inligting wat uitgereik word, sal die beweging van die rand vir die res van die jaar beïnvloed.

Die vinnige verspreiding van entstowwe in Amerika het die mark se verwagting oor ’n ekonomiese herstel daar verbeter, asook die mark se sensitiwiteit vir potensiële prysdruk wat uiteindelik daartoe kan lei dat die Fed hoër rentekoerse oorweeg.

Sy meen die rand se huidige lopie bly dus in gevaar, maar terselfdertyd kan hoë hulpbronpryse ’n groot verswakking in die rand keer.

Meer oor:  Ekonomie  |  Rand  |  Inflasie  |  Markte  |  Dollar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.