Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Rand versterk aan begin van besige week

Die rand het Dinsdag baie vroeg die spinnerakke van die langnaweek afgeskud – ten goede vir gewone Suid-Afrikaners, hoewel uitvoerondernemings dalk minder opgetrek sal wees daarmee.

Die rand staan Dinsdag sterker, maar kan na gelange van wat die wêreld se sentrale banke vandeesweek besluit noemenswaardig van koers verander.

Die rand het tot selfs R14,64 teenoor die dollar versterk, voordat dit teen 12:30 met meer as 1% tot R14,66 per dollar versterk het teenoor Maandag se sluiting in New York van R14,81.

Dinge kan egter deur die loop van die week heelwat verbeter of verswak, na gelang van wat die wêreld se groot sentrale banke besluit.

Woensdag (laataand Suid-Afrikaanse tyd) kondig die VSA se Federale Reserweraad (Fed) aan of hy dié land se rentekoers aanpas.

Dis een van die vergaderings van die Fed se opemarkkomitee waar ’n nuuskonferensie gehou word, waaraan ontleders altyd meer waarde heg omdat Jerome Powell, Fed-voorsitter, dan vrae beantwoord.

Sowat ’n derde van ontleders verwag dat die rentekoers verlaag gaan word weens die voortslepende daling in kerninflasie in die VSA, tesame met louwarm ekonomiese groei.

So ’n besluit sal heel waarskynlik die rand ondersteun omdat dit die opbrengskoerse op plaaslike effekte en ander rentedraende beleggings veel aanlokliker sal maak as dié in die VSA.

Maar selfs al word die rentekoers nié verlaag nie, sal die mark afleidings maak uit Powell se opmerkings, as ’n aanduiding van toekomstige rentekoersbesluite.

Pres. Donald Trump is uitgesproke (meestal op Twitter) ten gunste van laer rentekoerse om die ekonomie ’n hupstoot te gee. Powell het op sy beurt al voorheen skerp kritiek gelewer op die ekonomiese skade van proteksionisme – ’n verwysing na Trump se handelstwiste met verskeie lande, veral China.

Plaaslik sal die fokus teen Donderdag verskuif na pres. Cyril Ramaphosa se derde staatsrede in 18 maande. Ekonome hoop dat hy duidelikheid sal gee oor die toekoms van die beleërde staatsondernemings, grondhervorming en strukturele hervormings wat die ekonomie aan die brand kan skop.

Die rand het ook met nagenoeg 1% teenoor ander groot geldeenhede versterk. ’n Pond was teen 12:00 R18,40 werd en ’n euro R16,43.

Hulpbronne

Nadat die goudprys Vrydag die hoogste vlak in 14 maande, $1 358,26 per fynons, gehaal het, het dit Maandag heelwat teruggesak. Die prys het egter Dinsdag weer effens geroer.

Brent-ruolie se prys bly onder druk, iets waaruit Suid-Afrikaanse motoriste in Julie voordeel gaan trek.

  • Goud: $1 344,46 per fynons (+0,36%)
  • Platinum: $1 474 per fynons (+1,27%)
  • Brent-ruolie: $61,03 per vat (-0,75%)

Kriptogeld

Bitcoin het Maandag die hoogste vlak in meer as ’n jaar, $9 335, gehaal op grond van nuus dat Facebook sy eie kriptogeldeenheid bekend wil stel. Dit is nou effens minder werd, maar steeds op van die hoogste vlakke vanjaar.

  • Bitcoin: $9 244,66 (R142 683)
  • Ethereum: $270,89 (R4 168)

Die dollarpryse is van CoinMarketCap.com en die randpryse van Luno.com.

Meer oor:  Federale Reserweraad  |  Olieprys  |  Rand  |  Dollar  |  Goudprys  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.